Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Senatla se kop staan terug sewes toe

Seabelo Senatla kry nou net mooi momentum in sy loopbaan in vyftienmanrugby, maar die Stormers-blits het vandeesweek aan Netwerk24 erken dat sy kop terug staan na die Blitsbokke toe.

Dít dae nadat hy ’n groot uitblinker was in die Stormers se oorwinning van 34-22 oor die Highlanders in hul Superrugby-wedstryd op Nuweland.

Die Stormers-blits Seabelo Senatla het danksy sy goeie spel rede gehad om breed te glimlag in verlede week se Superrugby-wedstryd teen die Highlanders op Nuweland. Foto: Gallo Images

Senatla beplan darem nie om die vyftienmankode heeltemal die rug toe te keer nie.

“Baie mense sê dis nie ideaal om ook sewesrugby te speel nie, maar ek weet hoe goed dit vir my en my spel is. Ek spits my toe op vyftienmanrugby, maar wil steeds sewesrugby speel om aan my vaardighede te skaaf,” sê hy.

“Die Olimpiese Spele (in Tokio in 2020) is ook in my visier. Jy kan nie verwag om net vir die Olimpiese groep gekies te word nie. Ek sal in ’n paar sewestoernooie moet speel. Die afrigters gesels daaroor en probeer maniere vind om dit vir almal te maak werk.”

Of dit die moeite werd vir die Westelike Provinsie sal wees om vir Senatla weer te kontrakteer, kan afhang van hoe groot sy risiko vir beserings gaan wees gegewe sy groot werklas. Hy speel goeie rugby, maar die belegging in hom begin nou vir die eerste keer op Superrugby-vlak dividende lewer.

Boonop is die WP se tjekboek ook papierdun weens verskeie finansiële uitdagings, waaronder die kwynende hek-inkomste weens klein skares wat vanjaar wedstryde op Nuweland bywoon.

Vir die wedstryd teen die Highlanders was die skare nagenoeg 13 000, wat as ’n skok gekom het ná die goeie vertoning teen die Crusaders.

Jy kan nie verwag om net vir die Olimpiese groep gekies te word nie. Ek sal in ’n paar sewestoernooie moet speel.
Seabelo Senatla

Senatla het egter teen die Highlanders gewys watter potensiaal hy in vyftienman-rugby het. Hy het hangskoppe goed bemeester en was uitstekend op die aanval. Sy agtergrond as sewesspeler maak hom ook baie effektief op die verdediging in die wye kanale en hy kan hom laat geld by die afbreekpunte.

“Almal weet ek kan aanval, maar ek dink ek moet beter vaar op die verdediging. Dit was nooit sleg nie, maar ek wil beter. Die aanvallende spel sal vanself kom,” sê hy.

Vir Robbie Fleck, die Stormers se afrigter, is Senatla se spelpeil ’n heerlike meevaller in die pylvak van die Superreeks se ligafase. Senatla raak meer betrokke in die spel as Sergeal Petersen, wie se besering vir hom die weg na die beginspan gebaan het.

Nou wag daar ook ’n lekker stryd van die vleuels in Saterdag se wedstryd op Ellispark. Aan die Stormers se kant is daar Senatla en Dillyn Leyds, en by die Leeus Aphiwe Dyantyi en Courtnall Skosan – indien die afrigters hul spanne só kies.

“Ons het in ’n stadium ’n tekort aan vleuels gehad en julle ouens (die media) wou hê Bryan Habana moes vir ’n honderd jaar speel! Daar is nou baie talent en dit dwing ons almal om ons spelpeil te lig,” sê Senatla.

“Jy wil teen die beste vleuels in Suid-Afrika speel en daar’s nie ’n beter wedstryd daarvoor as teen die Leeus op Ellispark nie.”

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Seabelo Senatla  |  Stormers  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.