Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Siya: ‘Lelik wen’ beter as ‘mooi verloor’

Die Stormers het, sedert hulle in 2013 die filosofie van “verdediging bo alles” probeer afskud het, grootliks agteruit geboer in die Superrugby-reeks.

Dáárom, sê Siya Kolisi, is vonkelwynrugby nie vanjaar ’n belangrike element op hul spyskaart nie.

Die Stormers se Springbok-haker Bongi Mbonambi trek nog ’n Bok, die veelsydige Dillyn Leyds, plat by ’n oefening in Bellville Dinsdag. Die Stormers gaan vanjaar ’n groter premie op hul verdediging plaas. Foto: Gallo Images

“Die belangrikste ding is om te wen, ongeag hoe lelik die rugby is wat jy speel,” sê die Stormers se kaptein.

“Ja, ons wil rugby speel wat mense graag wil kyk, maar sal dit slim benader. Ons gaan dinge nie forseer nie. Ons móét seker maak dat ons wen, ongeag hoe lelik dit is, want selfs al speel jy die mooiste rugby, maar verloor, gaan mense nie terugstroom Nuweland toe nie.”

Die Stormers voer vanjaar ’n doelbewuste poging – met hul spel op die veld en weg van die veld deur gereelde skakelings met die gemeenskap en liefdadigheidswerk – om die Kaap se mense te kry om te glimlag.

Wat hul spel betref, kon hulle hierdie doelwit sporadies laas in 2017 bereik.

Hul vrugbaarste era was van 2010 tot 2012 toe Rassie Erasmus en Jacques Nienaber ’n feitlik ondeurdringbare verdedigingspatroon gevestig het. Die Stormers het in 2010 die eindstryd gehaal en daarna twee halfeindstryde op Nuweland losgespeel.

Ons wil dit ’n jaar van feesvieringe maak.
Siya Kolisi

Allister Coetzee het in 2010 die leisels as Stormer-afrigter geneem, maar Erasmus was steeds in die agtergrond as die Westelike Provinsie se direkteur van rugby en Nienaber by die span betrokke.

“Ons is sedert 2010 deur moeilike tye, maar ons is baie positief oor die groep tot ons beskikking. Ons wil dit ’n jaar van feesvieringe maak,” sê Kolisi.

“Ons is bekend as ’n span wat graag met flair speel, maar moet die regte balans vind tussen ons opwindende agterspelers en agttal gelaai met Springbokke.”

Gemeet aan verlede seisoen, is die Stormers en flair alles behalwe sinoniem. Hulle het saam met die Sunwolves die minste drieë in die reeks aangeteken, was die span wat die minste bresse geslaan het en bal die minste gedra het. Hulle het die minste veld gewen met die bal op die aanval en was tiende met die hoeveelheid verdedigers wat hulle geklop het.

In 2012 het die Stormers in 18 ligawedstryde slegs 28 drieë afgerond, maar ook slegs 21 afgestaan. En tog het hulle boaan die puntelys geëindig en groot skares Nuweland toe gelok.

Toe was lelik wen lekker en dit kan straks weer in die mode wees nadat die Bokke die Wêreldbeker met doeltreffende eerder as sierlike rugby verower het.

Meer oor:  Allister ­Coetzee  |  Siya Kolisi  |  Rassie Erasmus  |  John Dobson  |  Stormers  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.