Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Dit is 'n slagveld op Nuweland vir Stormers

Spesialiste en skanderings.

’n Dapper Dillyn Leyds plaas sy lyf op die spel met ’n duikslag op Waisake Naholo in Saterdag se Superrugby-wedstryd op Nuweland.Foto: Gallo Images

Dís waar Robbie Fleck, afrigter van die Stormers, se aandag Maandag sal wees terwyl sy spelers ’n welverdiende dag weg van die oefenveld geniet.

Indien Pieter-Steph du Toit se skouerbesering hom nie sal toelaat om Saterdag op Ellispark teen die Leeus op te draf nie, het Fleck ’n enorme hoofpyn wat die lynstane betref. JD Schickerling en Chris van Zyl – albei nr. 5-slotte – is ook op die krukkelys en Fleck het die vooruitsig dat daar dalk nie ’n speler in sy span gaan wees met ervaring van lynstaantekens gee nie.

Kobus van Dyk sou ’n desperate opsie kon wees, maar soos die kaptein, Siya Kolisi, het hy ’n kniebesering opgedoen.

Kolisi is vir ’n skandering gestuur. Die aanvanklike vermoede was dat die Bok-kaptein se besering nie ernstig is nie, maar daar sal Maandag sekerheid wees.

Dan het die haker Scarra Ntubeni ook ’n beenbesering opgedoen en, soos Du Toit, gaan hy dalk die vrugte daarvan pluk dat hy homself in die rooi gedruk het eerder as om die handdoek in te gooi.

Daar is geen sekerheid of Fleck se voorkeur-haker, Bongi Mbonambi, betyds van ’n besering gaan herstel om teen die Leeus te kan speel nie.

Dít alles was ’n duur prys om te betaal vir Saterdag se oorwinning van 34-22 oor die Highlanders op Nuweland, maar die Stormers sal yslike selfvertroue daaruit put.

Des te meer as die omstandighede in berekening gebring word. Die Springbok-slot Eben Etzebeth moes hom Saterdagoggend weens griep aan die span onttrek, Kolisi is kort voor rustyd beseer en Du Toit het homself tot diep in die tweede helfte deur die pyndrumpel gedruk.

Teen die einde moes Chad Solomon, wat verwag het om sy buiging vir die Stormers as ’n plaasvervanger-haker te maak, sy lyf agtsteman hou.

“Ons gaan dié week slim te werk moet gaan om seker te maak dat spelers verfris is. As dit beteken dat ons Donderdag vir die eerste keer gaan oefen, moet dit so wees,” het Fleck gesê.

Die Stormers wat nie ernstig beseer is nie, sal teen Maandag beslis nog lyfseer wees. Dillyn Leyds en Damian Willemse het byvoorbeeld die enorme vleuel Waisake Naholo van voor geduik – die soort dapperheid wat die Stormers se vertoning gekenmerk het. Dit was die Stormers se beste vertoning tot nog toe dié seisoen.

“Ons verdediging was weer goed, maar wat ek veral geniet het, was die ouens se afwisseling op die aanval,” het Fleck gesê.

“Die borg se ambassadeur het elke ou as die Speler van die Wedstryd aangewys. Daar is baie individue wat uitgestaan het. Seabelo Senatla het ingeklim met sy een-op-een-duikslae, goeie lopies met die bal gemaak en was uitstekend onder die hoë bal.

“Herschel Jantjies het teen die wêreld se beste skrumskakel gewys wat in hom steek en Damian de Allende was yslik in die middelveld nadat hy in die week skaars kon oefen.”

Soos elke ander Suid-Afrikaanse span kan die Stormers waarskynlik die wen van die groep op hul maag skryf, want die Jaguares is gerieflik in die binnebaan. Benewens die drie groepwenners kwalifiseer nóg vyf spanne en oor die laaste drie rondes van die reeks gaan daar nog baie somme oor permutasies gemaak word.

“Ons spelpeil is goed met die pylvak voor ons,” het Fleck gesê.

“Die spelers het selfvertroue en glo in ons planne. Nou is die uitdaging om die manne só te bestuur dat hulle verfris is.”

Meer oor:  Suoerreeks  |  Stormers  |  Kaapstad  |  Nuweland  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.