Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Só gaan Stormers Bok-ysters gebruik

Die Stormers gaan na hul sterkpunte speel in aanstaande jaar se Superrugby-reeks, so moenie verbaas wees om gereeld – à la die Springbokke – ’n plaasvervangersbank met ses voorspelers en slegs twee agterspelers daarop te sien nie.

John Dobson, hoofafrigter van die Stormers. Foto: Gallo Images

“As jy kyk na ons spelers, met die kern van die Springbok-pak in ons agttal, móét ons eenvoudig die klem op vaste fasette en dryfspel plaas,” sê John Dobson, die Kaapse Superrugby-span se afrigter.

“Dit gaan amper die soort rugby wees wat destyds vir die Westelike Provinsie vyf Curriebekers (CB) in ’n ry help verower het. Ons het agterspelers met X-faktor, maar nie iemand soos Damian de Allende of Manu Tuilagi (wat momentum skep) nie. Ons het ons agttal nodig om die momentum te skep sodat ons uit ons eie halfgebied kan kom. Dán moet die pak in ons teenstander se helfte die momentum skep sodat ons die spelers met X-faktor kan gebruik.”

Dobson voeg egter by dat die Stormers nie eentonige rugby gaan speel nie, want hulle wil skares teruglok Nuweland toe.

Soos die geval met die Springbokke by die onlangse Wêreldbeker (WB)-toernooi was, sal Dobson ’n sterk “tweede voorry” kan opstuur. Die Bok-kombinasie van Steven Kitshoff, Bongi Mbonambi en Frans Malherbe behoort te begin, waarna Ali Vermaak, Scarra Ntubeni en Wilco Louw hulle kan aflos.

’n Fikse Ali Vermaak bied vir die Stormers die opsie om enduit met die druk aan die loskopkant van die skrum te volhard. Foto: Gallo Images

Op slot is daar selfs met die verlies van Eben Etzebeth nie ’n tekort aan opsies nie. Cobus Wiese, Salmaan Moerat, JD Schickerling en Chris van Zyl ding daar om plekke mee.

Wiese kan ook as ’n nr. 7-flank aangewend word wanneer Dobson besluit om vir Pieter-Steph du Toit ruskans te gee. Aanstaande jaar se reeks kan ook vir Jaco Coetzee ’n groot kans bied om homself in die Stormers se 23-tal in te burger – as ’n agtsteman of selfs ’n nr. 6-flank wanneer Siya Kolisi ruskans kry.

Die Stormers gaan ook vir kragrugby gekondisioneer word nadat die Westelike Provinsie sy rieme styfgeloop het met ’n minder fisieke benadering in die CB-reeks.

“As jy die onlangse WB-toernooi in oënskou neem, was die bal vir ’n gemiddeld van minder as ’n minuut in spel met elke beweging. Ons wil krag en plofbaarheid by ons spelers terugkry. Jy wil hê dat Steven Kitshoff bo-oor spelers hardloop en Frans Malherbe die bal sterk dra,” sê Dobson.

“In 2017 se CB-reeks het JD Schickerling fisiek oorheers toe hy die bal gedra het. Verlede jaar is hy in ons laaste CB-wedstryd geboelie. Jy wil oorheersing in kontak hê sodat dit vir spelers soos Damian Willemse en Dillyn Leyds geleenthede skep.”

’n Deurbraakseisoen wag straks op die Stormers-ranker JD Schickerling. Foto: Gallo Images

* Intussen glo Dobson dit sal ’n fout wees om gehoor te gee aan pleidooie vir Wêreldrugby om ’n beperking te plaas op hoeveel plaasvervangers gebruik mag word.

Jeremy Guscott, voormalige Engelse senter, het homself ten gunste daarvan uitgespreek nadat die Springbokke se strategie met ses voorspeler-reserwes vrugte afgewerp het.

“Dis nie ’n realistiese opsie nie. Ons het ’n wedstryd in die Curriebeker gehad waar ses spelers weens beserings vervang is. Rugby het aangeskuif van ’n spel waar die bal vir net 20 minute in spel is tot een waar dit vir 40 is. Jy kry tussen 300 en 400 botsings in ’n wedstryd. As jy nie ’n volle tweede voorry het nie, kan daar gereeld onbetwiste skrums wees,” sê hy.

“Die idee om die reël met die plaasvervangers te verander, is ’n malligheid. Dit gaan soos rugbyliga raak. Jy gaan elke voorspeler moet kondisioneer om 80 minute te kan speel. Dit druis geheel en al in teen wat ons in Suid-Afrika probeer doen.”

Meer oor:  Ali Vermaak  |  John Dobson  |  Stormers  |  Jd Schickerling  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.