Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Só het Bulle bestendigheid gekweek

Karakter, spelerdiepte en kameraderie wat deur kontinuïteit in ’n groep gekweek word, goeie leiers, ’n besielende afrigter en geestelike taaiheid is van die hoofbestanddele van ’n suksesvolle rugbyspan wat bestendig goed vertoon.

Derick Kuün drink in 2009 uit die Curriebeker. Foto: Gallo Images

Baie van dié kenmerke ontbreek opsigtelik by die vier Suid-Afrikaanse Superrugby-franchises en daarom sukkel hulle om bestendig goed te speel.

Dit is in die huidige klimaat byvoorbeeld baie moeilik om spelers te behou, aangesien oorsese spanne hulle met groot geld wegrokkel.

Die laaste Suid-Afrikaanse span wat werklik oor ’n lang tydperk geskitter het, was die Bulle van 2007 tot 2010.

Volgens Derick Kuün, ’n gereelde en belangrike lid van daardie Bulle-groep, het Heyneke Meyer, destyds die Bulle-breier, ’n groep spelers met baie karakter byeengebring.

Deesdae speel daar baie meer ouens oorsee, so niemand kan kontinuïteit bou nie.
Derick Kuün

“Tweedens het ons ongelooflike diepte gehad,” sê Kuün. “As jy dink aan 2007, het ons vir Derick Hougaard op losskakel gehad en Morné Steyn op die bank. Op slot sit jy met Victor Matfield en Bakkies Botha en Danie Rossouw.

“Ons het ’n kerngroep gehad wat uit Springbokke bestaan het en die groot rede was dat daar kontinuïteit was, want daar was maar een of twee van jou topouens wat oorsee gespeel het.

“Deesdae speel daar baie meer ouens oorsee, so niemand kan kontinuïteit bou nie.”

Die Bulle het die Superrugby-reeks in 2007, 2009 en 2010 gewen.

“In 2007 was ons eintlik ’n Springbok-span, die Haaie ook. Daar was meer tyd vir die afrigters om met die ouens te werk, want hulle het geweet die spelers gaan hier bly en nie oorsee gaan nie,” sê Kuün.

“By die Bulle het ons ervare ouens gehad, ouens soos Gurthrö Steenkamp, Gary Botha – tussen tien en 12 van die ouens het destyds meer as 60, 70 Superrugby-wedstryde op hul kerfstok gehad.

“Destyds het dit beteken hulle het reeds vir vyf jaar Superrugby gespeel. Daar was dus daardie kontinuïteit met spelers en afrigters.

“Deesdae is dit so moeilik om dít te bou, want die ouens gaan oorsee – die pond en die euro praat hard.”

Kuün sê ’n goeie afrigter is ook noodsaaklik as ’n span bestendig wil wees. Hy praat met groot lof van Meyer.

“Nog ’n element was die samesyn. Ons was almal goeie vriende, as daar ’n braai gehou is, was almal daar.

Danie Rossouw (middel) vier die Bulle se oorwinning in die Super14-eindstryd teen die Haaie in Durban in 2007. Foto: Gallo Images

“Dít kom ook neer op tyd wat jy saam deurbring, want jy word nie in ’n maand pêlle met iemand nie. Baie van ons was nege jaar saam.”

Rossouw sê dit was daardie vriendskappe wat gesmee is wat van die Bulle so bestendig goed gemaak het.

“Ons was ’n bitter hegte eenheid, ons was groot pêlle en letterlik soos ’n gesin,” sê Rossouw.

“Die meeste van ons het van 2001 af saamgekom toe Heyneke oorgeneem het. Toe het dit maar swaar gegaan, maar ons het daardeur gewerk.

“Jy het gespeel vir jou vriende. Jy wou nie op ’n Maandag by ’n videosessie daar sit en weet jy het iets gedoen wat jy nie moes nie, want jy word uitgewys daarvoor.

Ek het aanbiedinge van ander provinsies gekry, maar ek wou by die Bulle bly.
Danie Rossouw

“Ons was ook ’n klomp jong ouens, so ons het alles ingesit vir die Bulle. Ek het aanbiedinge van ander provinsies gekry, maar ek wou by die Bulle bly.”

Rossouw sê geestelike taaiheid het die span so bestendig en suksesvol gemaak.

“Die spel verander maar, maar ons kon daarby aanpas. Ons kon aanpas by die verskillende spanne teen wie ons gespeel het.

“In Victor en Fourie (du Preez) het ons skitterende leiers gehad en baie hang ook van jou afrigter af. Heyneke was ’n briljante motiveerder.”

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Heyneke Meyer  |  Danie Rossouw  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.