Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Só wil Stormers Hurricanes vasvat

Die Stormers hoop om die Hurricanes in die vaste fasette tot oorgawe te dwing in Saterdag se Superrugby-wedstryd op Nuweland.

Steven Kitshoff in gesprek met John Dobson, die Stormers se afrigter, by ’n oefensessie. Foto: Gallo Images

“Ons het beslis ’n pak voorspelers wat enige span onder druk kan plaas in die lynstane, skrums en dryfmale,” het Steven Kitshoff, die Stormers se Springbok-loskopstut, vandeesweek by die Westelike Provinsie se Sentrum vir Uitnemendheid in Bellville gesê.

“Ons het in ons voorseisoense wedstryd teen die Haaie ’n bietjie gesukkel, maar ’n opwarmwedstryd is nie ’n rigtingwyser nie. Die ouens het die laaste twee weke ook baie hard gewerk om hul selfvertroue terug te kry.”

Kitshoff, Bongi Mbonambi en Frans Malherbe, wat ’n groot rol in die Springbokke se kragtige skrumwerk in die 2019 Wêreldbeker-toernooi gespeel het, gaan na verwagting die Stormers se eerstekeuse-voorry wees.

Ses vars voorspelers sal dan waarskynlik in die tweede helfte opgestuur word om die druk op die Hurricanes te hou. In die voorry behoort Ali Vermaak, Scarra Ntubeni en Wilco Louw die plaasvervangers te wees.

Jy het meer selfvertroue nadat jy die Wêreldbeker wen, maar rugby is ’n spel wat jou vinnig terug aarde toe bring.
Steven Kitshoff

Die groot vraag is egter of die verwagte slotkombinasie van Salmaan Moerat en Chris van Zyl fisiek genoeg gaan wees in Cobus Wiese en JD Schickerling se afwesigheid.

Slotte het ’n ongesiene maar groot rol in hul span se skrumwerk.

“Chris, David (Meihuizen) en Salmaan is groot en sterk voorspelers, wat 100% in elke skrum gee. Ek het geen twyfel in hul vermoë daar nie,” sê Kitshoff.

Die Hurricanes sal die Stormers waarskynlik met ’n vinnige speltempo wil klop eerder as om in die loopgrawe te speel.

“Ons ontleding wys dat die Hurricanes ’n groot en sterk pak het, maar dis nie die mees aggressiewe skrum wat ek al gesien het nie,” sê Kitshoff.

“Hulle soek nietemin ’n goeie platform om van te speel en probeer hul losvoorspelers só gou as moontlik in die spel te kry. Die Hurricanes het sterk stutte en kan jou ook in die skrums aanvat.”

Steven Kitshoff, die Stormers se loskopstut, wil die Hurricanes in die skrums aanvat in Saterdag se Superrugby-wedstryd op Nuweland. Foto: Gallo Images

Terwyl die Stormers baie kan baat by hul Bok-voorspelers, is die vraag natuurlik ook hoe fiks daardie bielies gaan wees. Daar was groot feesvieringe ná die verowering van die Wêreldbeker en dit sal net menslik wees as daar nog koppe in die wolke is.

Kitshoff sê egter die fokus is op die hede en onmiddellike toekoms.

“Jy het meer selfvertroue nadat jy die Wêreldbeker wen, maar rugby is ’n spel wat jou vinnig terug aarde toe bring,” sê hy.

“Ek wil net elke dag beter raak en kan nie wag vir die Superreeks om te begin nie.”

Met dié dat John Dobson (hoofafrigter) gesê het dat hy sy sterkste beskikbare span wil kies, is dit maklik om te voorspel hoe hulle sal aantree.

Jamie Roberts, die Walliese aanwins, sal na verwagting saam met Ruhan Nel in die middelveld wees.

Van Zyl se ervaring sal hom waarskynlik die aangewese nr.5-slot maak bo Meihuizen, wat die hemelbesem op die plaasvervangersbank behoort te wees.

Ernst van Rhyn en Johan du Toit is waarskynlik die losvoorspeler-reserwes.

Dobson kondig sy span Donderdagmiddag aan.

’n Moontlike Stormers-beginspan is: Dillyn Leyds, Sergeal Petersen, Ruhan Nel, Jamie Roberts, Seabelo Senatla, Damian Willemse, Herschel Jantjies, Siya Kolisi (k), Pieter-Steph du Toit, Jaco Coetzee, Chris van Zyl, Salmaan Moerat, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff.

Meer oor:  Steven Kitshoff  |  Superrugby  |  Stormers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.