Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stander moet wys of hy ‘Superheld’ is

Presies waarom die Westelike Provinsie besluit het om in 2017 vir Josh Stander van die Blou Bulle af Kaap toe te lok, was vir baie van die Streeptruie se ondersteuners ’n raaisel.

Teen die einde van verlede jaar se Superrugby-reeks was sy skopstewel en temperament egter deurslaggewend toe die Stormers hom noodgedwonge teen die Haaie op Nuweland moes inspan.

Josh Stander oefen Vrydag sy skopwerk in die Kaapstad-stadion. Foto: Gallo Images

Daardie goeie vertoning is opgevolg deur ’n Curriebeker-reeks waarin die WP se afrigter, John Dobson, selfs besluit het om hom bo Damian Willemse op losskakel te kies vir die eindstryd teen die Haaie op Nuweland.

Daardie skuif het misluk, deels omdat Willemse nie juis tuis was op binnesenter nie, maar dit was nietemin veelseggend dat Dobson vir Stander in die nr. 10 trui verkies het.

Willemse, wat verlede jaar ’n goeie seisoen vir die Stormers op losskakel beleef het, wil nou graag heelagter speel, omdat dít is waar die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, hom vir die Springbokke sal oorweeg.

Die Stormers se afrigter, Robbie Fleck, moet egter na die Kaapse span se belange omsien en Willemse se lot sal afhang van hoe Jean-Luc du Plessis en Stander in die nr. 10-trui vaar.

Du Plessis voer voortdurend ’n stryd teen liesbeserings en Fleck sal versigtig moet wees om hom nie te ooreis nie. Dít alles maak van Stander potensieel ’n belangrike speler.

Is hy opgewasse om strykdeur ’n Superreeks teen sterk teenstanders goeie spel te lewer?

Op daardie vraag sal daar waarskynlik ’n antwoord verkry word in Sondag se vriendskaplike wedstryd teen sy ou provinsie in die Kaapstad-stadion.

Met dié dat die Stormers sonder talle van hul Bokke gaan speel, sal Stander waarskynlik ook moet wys wat hy op die agtervoet kan doen teen ’n sterbelaaide Bulle-span.

Natuurlik sal nóg die Stormers nóg die Bulle wil wys wat hulle in die mou voer vir 16 Februarie se kragmeting op Loftus (hul openingswedstryd in vanjaar se Superreeks) en Sondag se eindtelling sal met ’n knippie sout geneem moet word. Nóg meer so omdat die Stormers met ’n verswakte span gaan speel.

’n Noord-Suid-derby bied egter in enige gedaante boeiende kykstof en daar kan nie vir ’n beter kleedrepetisie gevra word nie.

* ’n Volgepakte stadion word verwag, met 50 000 kaartjies wat reeds vroeër vandeesweek verkoop is.

* Die Stormers sal die eerste keer in hul Thor-superheldtruie en die Bulle in hul Captain America-gewaad speel. Dít vorm deel van ’n ooreenkoms tussen die Suid-Afrikaanse Rugbyunie en Marvel Comics.

Stormers: Dillyn Leyds, Seabelo Senatla, JJ Engelbrecht, Dan Kriel, SP Marais, Joshua Stander, Jano Vermaak, Juarno Augustus, Cobus Wiese, Jaco Coetzee, Chris van Zyl (k), Salmaan Moerat, Michael Kumbirai, Scarra Ntubeni, Ali Vermaak. PLAASVERVANGERS: Chad Solomon, Corné Fourie, Wilco Louw, Ernst van Rhyn, JD Schickerling, Sikhumbuzo Notshe, Kobus van Dyk, Herschel Jantjies, Damian Willemse, Sergeal Petersen, Dan du Plessis.

Bulle: Warrick Gelant, Jade Stighling, Jesse Kriel, Burger Odendaal, Duncan Matthews, Handré Pollard, Ivan van Zyl, Duane Vermeulen, Jannes Kirsten, Paul Schoeman, Lood de Jager (k), Eli Snyman, Trevor Nyakane, Schalk Brits, Lizo Gqoboka. PLAASVERVANGERS: Corniel Els, Simphiwe Matanzima, Dayan van der Westhuizen, Ruan Nortjé, Ruan Steenkamp, Thembelani Bholi, Embrose Papier, Manie Libbok, Dylan Sage, Johnny Kotze, Divan Rossouw.

  • Skeidsregter: Rasta Rasivhenge.
  • Assistent-skeidsregters: Cwengile Jadezweni en Divan Uys.
  • TV-skeidsregter: Christie du Preez.
  • Afskop: 16:15 (SS 1 en SS 11).


Meer oor:  Superheld-Sondag  |  Stormers  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.