Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Steil bult wag op Stormers in Nieu-Seeland

Die Stormers se breier, Robbie Fleck, gaan waarskynlik een van sy Springbok-flanke weglaat om die tienerflank Cobus Wiese in sy beginspan te akkommodeer vir Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Crusaders in Christchurch.

Robbie Fleck / Gallo Images

Wiese het die afgelope naweek se nederlaag van 16-29 teen die Leeus met ’n skouerbesering misgeloop. Hy was egter deel van die toergroep wat Sondagmiddag die reistog Nieu-Seeland toe aangedurf het.

Voor verlede week is Wiese vir twee wedstryde agtereenvolgens bo Nizaam Carr verkies. Dit kan vandeesweek moontlik weer die geval wees, hoewel die kaptein, Siya Kolisi, dalk ook ’n blaaskans gegun kan word. In daardie geval sal Wiese by Carr en Sikhumbuzo Notshe in die lostrio aansluit.

Ook terug in die prentjie is die skrumskakel Dewaldt Duvenage, wat die afgelope naweek gerus het.

Die Nieu-Seelandse senter Shaun Treeby toer ook saam en sal waarskynlik binne die volgende paar weke sy buiging vir die Stormers maak.

Met wedstryde teen die Highlanders en Hurricanes wat volg op Saterdag s’n teen die Crusaders, gaan die Stormers ’n moeilike stryd voer om vinnig weer op die wenpad te kom.

Die Crusaders is die enigste onoorwonne span in die reeks, terwyl die Hurricanes slegs een van hul sewe wedstryde verloor het. Die Highlanders het nog nie hul ritme gevind nie en as daar ’n wedstryd is om as’t ware te “teiken”, is dit seker dié een in Dunedin.

Om voor die toer te verloor is nie ideaal nie. Ons moet dit maar op die ken vat en aanbeweeg,
Robbie Fleck

“Om voor die toer te verloor is nie ideaal nie, maar ons kyk nou vorentoe na die toer van Nieu-Seeland. Ons sou seker iewers verloor het en ons moet dit maar op die ken vat en aanbeweeg,” sê Fleck.

“Jy kry nie taaier as hierdie reeks nie. Die Leeus het gewys waartoe hulle in staat is en jy speel elke naweek teen ’n sterk span. Ons moet nou teen ’n onoorwonne span weer die perd opsaal.”

Soos sy eweknie by die Leeus, Johan Ackermann, meen Fleck die gang van Saterdag se stryd op Nuweland is in die kwartier onmiddellik ná rustyd bepaal. Die Stormers het toe verwoed aangeval, maar kon eenvoudig nie deur die Leeus se verdediging kom nie.

“Ons moes punte aangeteken het, maar krediet aan die Leeus, hulle verdediging was uitstekend. Dit het vir hulle selfvertroue gegee,” sê Fleck.

“Het ons ’n drie gedruk sou die momentum dalk in ons guns gedraai het, maar dit het nie so uitgedraai nie. Die nederlaag is teleurstellend, maar ook deel van die span se groei.”

Ons moet so gou moontlik aan die werk spring.Ons moet op toer onmiddellik aan die gang kom.
Robbie Fleck

Die Stormers gaan na verwagting vroegoggend Dinsdag in Auckland land. Hulle gaan daar voorberei voordat daar later in die week Christchurch toe gereis word.

“Ons moet so gou moontlik aan die werk spring. Ons het die afgelope week gesukkel om weer aan die gang te kom ná die wedstryd teen die Chiefs. Ons moet op toer onmiddellik aan die gang kom.”

Die Stormers se toergroep is: Bjorn Basson, Nizaam Carr, Kurt Coleman, Jan de Klerk, Pieter-Steph du Toit, Dan du Plessis, Robert du Preez, Dewaldt Duvenage, Eben Etzebeth, JC Janse van Rensburg, Oli Kebble, Cheslin Kolbe, Siya Kolisi, Dan Kriel, Dillyn Leyds, Wilco Louw, Frans Malherbe, SP Marais, Bongi Mbonambi, Sikhumbuzo Notshe, Ramone Samuels, Shaun Treeby, Chris van Zyl, Alistair Vermaak, Jano Vermaak, EW Viljoen, Cobus Wiese.

Superrugby-bepalings

Superrugby-uitslae

Superrugby-puntelyste

Meer oor:  Stormers  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.