Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Steyn nie terug om bank warm te hou

Jy kan nie help om te wonder hoe wys dit vir ’n lid van die Bulle se goue span is om ’n dekade later weer by Loftus Versfeld aan te meld nie.

Morné Steyn het destyds ’n sleutelrol gespeel toe die Bulle die Superreeks drie keer gewen het.

Morné Steyn in aksie vir Stade Francais. Hy het Maandag weer vir die eerste keer in sewe seisoene by die Bulle aangemeld. Foto: Getty Images

Dié 35-jarige Springbok-losskakel het Maandag, ná ’n halfdosyn seisoene in Frankryk, vir die eerste keer in sewe jaar by Loftus opgetôk.

Is hy nie bang vir sy reputasie wat kan skade ly by ’n span wat sedert 2014 nie ’n skadu is van die vorige kampioenspan nie?

“Nee, dit is lieflik om terug te wees. Ja, die span van tien jaar gelede was ’n superspan en jy kan dit nooit vergeet nie.

“Oor die wêreld heen verloor spanne soms ’n paar ervare spelers en dit is altyd ’n uitdaging. Jy kan egter nooit die Bulle afskryf nie.”

Steyn sê dit het Maandag soos ’n ware tuiskoms gevoel.

Dit is eintlik perfek om my loopbaan hier af te sluit waar dit vir my begin het.
Morné Steyn

“Dit was lekker om vir die eerste keer in ses jaar nie ’n koue Kersfees te hê nie.

“Ek is hier vir my laaste twee of drie seisoene. Dalk vier, jy weet nooit.”

Hy het verlede jaar ’n kans gevat om te hoor of die Bulle weer in hom sou belangstel, sê hy.

“Daar was ’n geleentheid om aan te bly in Frankryk en daar was belangstelling van ander oorsese klubs, maar ek het my agent gevra om ’n kans te vat by die Bulle.

“Dinge het so uitgewerk en dit is eintlik perfek om my loopbaan hier af te sluit waar dit vir my begin het.

“Ek wil dit geniet en ’n verskil maak. Ek sal graag wil help met spelers soos Manie (Libbok), Ivan (van Zyl) en Embrose (Papier) se ontwikkeling.”

Manie het baie talent en dit is goed dat iemand jou op jou tone hou. Ek is, soos Manie, van plan om hard te werk en die nr. 10-trui myne te maak.
Morné Steyn

Steyn het sover nog net op die B-veld aangelê pale toe en beplan om later die week op die heilige gras, waar hy in 2009 die toetsreeks vir die Bokke teen die Britse en Ierse Leeus beklink het, te gaan skop.

“Natuurlik sal dit ’n aanpassing wees om weer Superrugby te speel. Maar ek het meer ervaring en my spel het baie verander in die Noordelike Halfrond.”

Hoewel Steyn ’n mentor vir die opwindende Libbok wil wees, sê die veteraan van 66 toetse ook dat “niemand by ’n nuwe span aankom met die voorneme om ’n plaasvervanger te wees nie”.

“Manie het baie talent en dit is goed dat iemand jou op jou tone hou. Ek is, soos Manie, van plan om hard te werk en die nr. 10-trui myne te maak.”

Steyn het in Frankryk vir Stade Francais gespeel – dieselfde klub wat Heyneke Meyer aan die einde van verlede jaar die trekpas as hoofafrigter gegee het.

“Die ouens het begin praat en jy kon sien hoe dinge verander het onder die spelers.

“Ek dink die fout wat Heyneke gemaak het, was om te veel Suid-Afrikaanse afrigters (Pieter de Villiers, John McFarland, Dewald Senekal en Ricardo Loubscher) in te bring.

“As die Franse nie saamstem nie, gaan hulle jou uitwerk in ’n stadium.

“Stade het baie spelers verloor gedurende die Wêreldbeker-toernooi en daar was beserings, wat die span se vertoning beïnvloed het.

“Hulle het die laaste ruk twee of drie wedstryde gewen en dit mag dalk nou lyk asof Heyneke die probleem was, maar ek stem glad nie daarmee saam nie.”

Meer oor:  Morné Steyn  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.