Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers-afrigters ruil rolle

Die Stormers het hul afrigtingspan se rolle geskommel vir vanjaar se Superrugby-reeks.

Paul Treu het ’n nuwe rol by die Stormers. Foto: Gallo Images

Paul Treu, wat in die verlede die span op die verdediging gebrei het, is nou amptelik die hulpafrigter vir gestruktureerde spel. Kortom beteken dit hy rig die span tot by die derde faset af op die aanval en op die verdediging van die eerste faset ná vaste fasette.

Op sy beurt is Paul Feeney nou uit die hoofde van sy amp as agterlyn- en vaardigheidsafrigter aan die spits van die aanval en verdediging uit ongestruktureerde spel.

Russell Winter, verlede jaar se voorspelerafrigter, is nou hulpafrigter vir voorspelers en kontak. Daardie portefeulje sluit die afbreekpunte in.

Die gedagtegang agter hierdie skuiwe is klaarblyklik om die bestuurspan te kry om nouer saam te werk wat hul portefeuljes betref.

“Wat Fleckie (die hoofafrigter, Robbie Fleck) en Gert (Smal, direkteur van rugby) wil hê, is dat die rolle wat ons vervul by ons persoonlikhede pas,” sê Treu.

“Met my aankoms hier in 2015 is ek gevra om ’n verdedigingstelsel te vestig waar ons vinnig opskiet. Die manier waarop ons verlede jaar se reeks afgesluit het, is die pad wat ons wil stap ten opsigte van die verdediging.”

Treu sien veral uit na sy nuwe rol omdat dit hom sal toelaat om ook op aanvallende spel te fokus.

“Die aanval is die meer kreatiewe aspek. Die voordeel wat ek het, is dat ek as verdedigingsafrigter spanne se aanvallende spel ontleed het,” sê hy.

“Ons het in die voorseisoen gepraat oor nouer samewerking tussen die afrigters. Ek, Russell en Paul Feeney werk nou as ’n eenheid saam.”

Twee van die Springbokke se hulpafrigters, Jacques Nienaber (verdediging) en Pieter de Villiers (voorspelers), was Maandag by die Stormers in die aanloop na Saterdag se kragmeting met die Jaguares op Nuweland.

De Villiers se werk met die Stormers en die Westelike Provinsie verlede jaar het ’n sleutelrol gespeel in die Kapenaars se goeie skrumwerk.

As die Stormers veel werk gedoen het met verwysing na die ontleding van die Jaguares, het Treu dit goed weggesteek.

“Ons respekteer die Jaguares en weet hulle het gehaltespelers. Vir die eerste wedstryd is die fokus egter op onsself. Ons het in die voorseisoen baie op ons aanvallende bewegings en verdediging gefokus,” sê Treu.

“Nou wil ons hê alles moet bymekaarkom. Vir die eerste wedstryd is die fokus op ons en wat ons wil bereik.”

Die Stormers se afrigtingspan is:
Hoofafrigter: Robbie Fleck.

Hulpafrigter vir voorspelers en kontak: Russell Winter.

Hulpafrigter vir gestruktureerde spel: Paul Treu.

Hulpafrigter vir die agterlyn en vaardighede: Paul Feeney.

Fiksheids-en-kondisioneringsafrigter: Steph du Toit.

Tegniese analis: Human Kriek.

Skopafrigter: Gareth Wright.


Meer oor:  Stormers  |  Paul Treu  |  Paul Feeney
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.