Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers bitter oor Hurricanes se vuilspel
Siya Kolisi, die Stormers se beseerde kaptein, gesels met dr. Jason Suter, by Maandag se oefensessie in Bellville. Foto: Gallo Images

Die skuldige, Ricky Riccitelli, het glo vir sy slagoffer, Siya Kolisi, om verskoning gevra, maar dit verander niks wat die skade aan die Springbok- en Stormers-kaptein se knie betref nie.

En daardie skade, is Dinsdag bekend gemaak, is erger as wat aanvanklik vermoed is, met Kolisi wat vir langer as die aanvanklike prognose van ses weke buite aksie gaan wees.

“Siya het gister (Maandag) ’n spesialis gaan spreek en sal tussen ses en agt weke buite aksie wees. Dit is ’n graad 3-skeur aan sy mediale ligament,” het John Dobson, die Stormers se afrigter, Dinsdag by die Westelike Provinsie se Sentrum vir Uitnemendheid in Bellville gesê.

Kolisi hoef egter nie ’n operasie te ondergaan nie.

Dobson het ook aangekondig dat die Bok-haker Bongi Mbonambi ’n skeur van twee en ’n halwe sentimeter in sy een dyspier het en dat hy minstens die volgende twee wedstryde teen die Bulle en Leeus sal misloop. Sy herstelproses kan moontlik ses weke duur.

Om eerlik te wees, dink ek dit was ’n geniepsige wedstryd, wat nie goed is vir die toernooi nie.
John Dobson

Volgens Dobson het die Stormers met die hersiening van die wedstryd teen die Hurricanes verlede naweek al hoe kwater geraak vir talle voorvalle van vuilspel wat raakgesien is. Twee Hurricanes is in die wedstryd met geelkaarte gestraf.

“Om eerlik te wees, dink ek dit was ’n geniepsige wedstryd, wat nie goed is vir die toernooi nie,” sê Dobson.

“Dit het niks met die skeidsregter te make nie. Dit was subtiele dinge. Daar is ’n teiken van Pieter-Steph du Toit gemaak met voorvalle van geniepsige spel en Seabelo Senatla se hare is in ’n voorval twee keer getrek.

Ricky Riccitelli, die Hurricanes se haker, het glo om verskoning gevra nadat hy Siya Kolisi sonder die bal geloop en direk vir sy kniebesering verantwoordelik was. Foto: Getty Images

“Riccitelli (die Hurricanes se haker) het blykbaar vir Siya om verskoning gevra, maar Siya is uiteraard nie baie gelukkig nie.

“As hierdie ’n tendens raak, sal ek baie bekommerd wees. Pieter-Steph du Toit is Wêreldrugby se Speler van die Jaar en as die manier om hom hok te slaan met vuilspel is, is dit ’n probleem. Dis nie goed vir rugby nie.”

Dobson het die kwessie by Lyndon Bray, Sanzaar se spelbestuurder en skeidsregtersbaas, aangemeld, maar het geen ander keuse nie as om die beserings op die ken te vat.

Die besering aan Kolisi kan hom dalk noop om vir Jaco Coetzee agtsteman toe te skuif en dan vir Ernst van Rhyn of Johan du Toit op die flank te kies vir Saterdag se stryd teen die Bulle op Nuweland.

Juarno Augustus, ’n spesialis-agtsteman, is vandeesweek fiks, maar nog nie wedstrydskerp nie en Dobson gaan hom waarskynlik op die plaasvervangersbank kies.

Cobus Wiese, wat ewe gemaklik op slot as steelkantflank is, het ook van ’n besering herstel en ’n plek in die 23-tal behoort hom ook beskore te wees.

Die Bok-loskopstut Steven Kitshoff sal as kaptein opdraf in Saterdag se kragmeting. Pieter-Steph du Toit behoort dan die leisels te neem wanneer Ali Vermaak in die tweede helfte in Kitshoff se plek opgestuur word.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Siya Kolisi  |  Kaapstad  |  Kaptein  |  Rugby  |  Vuilspel  |  Superrugby  |  Beseer  |  Stormers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.