Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers blaas Highlanders weg

Vir die eerste keer in vanjaar se Superrugby-reeks kan die Stormers ’n bietjie kraai.

Kom hier, ou maat! Die Highlanders se Jordan Hyland stuit Seabelo Senatla van die Stormers in sy spore. Foto: Getty Images

In verlede naweek se gelykop-wedstryd teen die Crusaders was hulle goed, maar Saterdag op Nuweland was hulle uitstekend in die oorwinning van 34-22 oor die Highlanders.

Dis ’n jammerte dat die Stormers nie ’n bonuspunt kon kry nie, maar ’n mens kla nie met ’n witbrood onder die arm nie. Boonop was hulle teen die einde al ontwrig weens gedwonge veranderings.

In die eerste helfte het die Stormers hul beste rugby tot dusver die seisoen gespeel. Hulle het byna 60% van die balbesit gehad en die Kiwi’s onder baie druk geplaas.

As die situasie dit geverg het op die verdediging, was daar ook ’n Stormer bereid om sy lyf op die spel te plaas. Sowel Dillyn Leyds as Damian Willemse het Waisake Naholo van voor geduik toe dié groot All Black-vleuel op pad doellyn toe was.

Die Highlanders, wat gemiddeld net sewe strafskoppe per wedstryd afstaan, se dissipline het hulle onder die druk ontgaan. Herschel Jantjies was die slagoffer van ’n hoogvat, terwyl ’n boorvat op Damian de Allende vir Matt Faddes in die afkoelstoel laat beland het.

De Allende, die Stormers se Springbok-binnesenter wat dikwels onder kritiek deurloop omdat hy nie die bal genoeg versprei nie, het ’n uitstekende wedstryd beleef.

’n Briljante skoppie oor die verdediging het nie die beloning gekry wat dit moes nie, omdat Seabelo Senatla net-net onkant was met die opvolg. De Allende was egter met ’n briljante aangee die argitek van Siya Kolisi se drie.

Die Stormers se kaptein, Siya Kolisi, op volle vaart. Foto: Getty Images

Senatla het vir sy flater vergoed toe hy deur ’n gaping geglip het om vir Jantjies weg te stuur.

Die enigste negatief van die eerste helfte was die verlies van Kolisi met sekondes oor – oënskynlik met ’n kniebesering. Dít nadat die ysterslot Eben Etzebeth boonop weens griep aan die span onttrek moes word.

Pieter-Steph du Toit het egter gemaklik die skuif slot toe gemaak en Kobus van Dyk, die man wat hom op flank vervang het, het heel skaflik vertoon.

Sikhumbuzo Notshe het goed in die lostrio ingeskakel nadat hy Kolisi moes vervang en dit was meer van dieselfde in die tweede helfte.

Die wind is ’n bietjie uit die Stormers se seile gehaal toe Sio Tomkinson gedruk het nadat die Highlanders deur hul dryfmaalbeweging momentum geskep het.

Dit het die Stormers egter nie lank geneem om daarop te antwoord nie met Leyds wat die Highlanders se linie met ’n fopaangee geklop het om vir Cobus Wiese weg te stuur.

Jean-Luc du Plessis het daarna ’n strafskop deur die pale gejaag om dit 27-10 te maak, wat beteken het dat die Highlanders met minder as 20 minute oor minstens drie keer punte sou moes aanteken om te kan wen.

Naholo het ná baie druk afgerond, maar weer was die Stormers hoegenaamd nie van stryk nie. De Allende is deur ’n gaping en het naby daaraan gekom om die geleentheid deur swak besluitneming te verbrou, maar Jantjies het die situasie gered met ’n puik aangee na Du Plessis om die besoekers die doodskoot toe te dien.

* Kolisi is vir ‘n skandering gestuur om die erns van sy kniebesering te bepaal. Robbie Fleck, afrigter van die Stormers, se  voorgevoel is dat die besering nie ernstig is nie.

* Puntemakers:

Stormers 34 (17): Drieë: Herschel Jantjies, Siya Kolisi, Cobus Wiese, Jean-Luc du Plessis. Doelskoppe: Josh Stander (3), Jean-Luc du Plessis. Strafdoele: Josh Stander, Du Plessis.

Highlanders 22 (3): Drieë: Sio Tomkinson, Waisake Naholo, Siate Tokolahi. Doelskop: Marty Banks, Dan Hollishead. Strafdoel: Banks.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Stormers  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.