Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers klop Jaguares op Nuweland

Die Stormers het Saterdag op Nuweland naby daaraan gekom om ’n sege weg te smyt, maar uiteindelik darem vasgeklou om die Jaguares in hul Superrugby-wedstryd met 28-20 te klop. 

Damian de Allende word Saterdag seur sy Sromers-spanmaats gelukgewens met sy drie teen die Jaguares. Foto: Gallo Images

Met rustyd, op 15-6, sou ’n mens jou geld op die Stormers verwed het om die wedstryd redelik gemaklik te wen. Hulle het moeiteloos ruimte in die wye kanale geskep, maar met verspeelde kanse nie die voorsprong gebou wat hul oorheersing regverdig het nie.

In die tweede helfte was dit egter ’n ander storie, met die Stormers wat kniediep in die moeilikheid was nadat hul haker, Ramone Samuels, hom met 15 minute oor in hulle kwartgebied ’n geelkaart op die hals gehaal het.

Die Jaguares het kort daarna met hul skrum ’n strafdrie afgedwing, maar is uiteindelik deur begeesterde verdediging gefnuik voordat Damian Willemse in die doodsnikke met ’n strafdoel geslaag het.

Terwyl dit allermins die standaard is wat die Stormers se afrigter, Robbie Fleck, van sy troepe gaan eis, kan hy darem ook in sy noppies voel dat hulle hulself uit die moeilikheid uit kon speel.

Die keuse van Samuels in die beginspan is ook op Fleck afgedwing nadat Bongi Mbonambi se blindederm Vrydag begin lol het. 

Hierdie wedstryd was ook presies wat die Stormers nodig gehad het voordat hulle Sondagaand op die vliegtuig klim vir hul toer Australië en Nieu-Seeland toe. Dáár speel hulle teen die Waratahs, Crusaders en Highlanders.

Om die Jaguares te klop was dus van kritieke belang.

Of dit in die Stormers se broeke gaan sit om in Kiwiland te wen is ’n ope vraag, maar daar was veral in die eerste helfte Saterdag baie goeie dinge aan hul spel.

Seabelo Senatla, wat ’n huishoudelike is op grond van wat hy vir die Blitsbokke vermag het, lyk soos ’n vleuel wat hom vanjaar al tot in die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby, Rassie Erasmus, se planne kan speel.

Hy, Dillyn Leyds en Damian Willemse het vir baie opwinding gesorg met die Stormers wat gevaarlik was met hul teenaanvalle. Daar was ook mooi drieë deur Damian de Allende en Siya Kolisi, wat albei met ’n kombinasie van krag en goeie vaardighede oor die doellyn gekom het.

Toe Raymond Rhule die Stormers se derde drie kort ná rustyd druk om die telling 22-6 maak, sou ’n mens jou nie die drama kon indink wat sou volg nie.

’n Stukkie flou verdediging deur die Stormers, met De Allende die hoofsondaar, het egter op ’n drie vir die Jaguares se Emiliano Boffelli uitgeloop wat die Argentyne ’n voet in die deur laat kry het.

Toe Samuels die trekpas kry vir ’n siniese oortreding in die Stormers se kwartgebied was die kat skielik in die duiwehok. Die Jaguares het met 12 minute oor ’n strafdrie met hul skrum afgedwing en die Stormers daarna van een kant van die kryt na die ander laat steier.

Daar was egter ’n groot oomblik sewe minute voor die einde toe die Stormers vlak voor hul doellyn ’n strafskop afgedwing het. Hulle moes ’n keer of wat daarna nog vasklou daarna, maar het uiteindelik die beloning gekry wat hul heldhaftigheid verdien het.

Puntemakers:

Stormers 28 (15): Drieë: Damian de Allende, Siya Kolisi, Raymond Rhule. Doelskop: Damian Willemse (2). Strafdoele: Willemse (3).

Jaguares 20 (6): Drieë: Emiliano Boffelli, strafdrie. Doelskop: Nicolas Sanchez. Strafdoele: Sanchez, Emiliano Boffelli.

Superrugby-bepalings.

Superrugby-uitslae.

Superrugby-puntelyste.

Meer oor:  Stormers  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.