Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers, Crusaders deel louere

Die Stormers bly sterk in die geveg in die Suid-Afrikaanse groep van die Superreeks.

Daar vat hy! Die Stormers se kaptein, Siya Kolisi, duik oor vir sy drie. Foto: Gallo Images

Het hulle Saterdag teen die Crusaders verloor, sou dit met agt ligapunte agter die voorlopers dalk ’n opdraande stryd vorentoe gewees het, maar die Kapenaars het diep gedelf en hope respek saam met hul twee ligapunte verdien vir ’n gelykopstryd van 19-elk met die Crusaders.

Die Stormers is nie vooraf veel van ’n kans gegun nie, maar het oorgekook van emosie en deursettingsvermoë. Teen die einde was die kans selfs daar om die wedstryd te wen.

Met minder as 10 minute verstreke was die Cape Crusaders – die besoekende Nieu-Seelanders se Kaapse ondersteuners – in volle bors: ‘Defence! Defence! Defence!’

Hul span was teen die toue. Vir amper ’n halfuur was dit net die Kaapse span met die bal in die hand. Sodra ’n Crusader die bal in die hand gehad het, was daar ’n Stormer in sy gesig.

Siya Kolisi se drie het die Stormers se ondersteuners vroeg al laat lugkastele bou. Josh Stander se aangee was op ’n tiekie vir die Springbok-kaptein om deur ’n gaping te hardloop en met momentum aan sy kant vir Richie Mo’unga te klop op pad doellyn toe.

Stander het verdoel en 10 minute later ’n strafdoel bygevoeg om dit 10-0 te maak.

Die enigste kritiek wat gelewer kan word, is dat die Stormers ’n paar kanse verbrou het. Twee keer moes Kolisi net die bal vinniger na Seabelo Senatla aan sy buitekant aangee en dan sou daar ruimte gewees het met die doellyn wat wink.

Die Crusaders is egter nie om dowe neute ’n kampioenspan nie en twee vinnige drieë in die laaste tien minute van die eerste helfte het die wedstryd se momentum laat swaai.

Eers was dit Matt Todd wat van ’n lynstaanbeweging af gedruk het en daarna was David Havili die begunstigde van Mo’unga se puik dwarsskop.

Die einde van die eerste helfte kon skielik nie gou genoeg kom nie, maar die Stormers het in die doodsnikke ’n belangrike mini-stryd gewen deur ’n dryfmaalbeweging voor hul doellyn te stuit.

Met rustyd was dit 12-10 vir die Crusaders – teleurstellend vir die Stormers gegewe dat hulle tot op daardie tydstip medie este van die goeie rugby gespeel het, maar allermins ’n onoorbrugbare situasie.

Die Kapenaars het egter vroeg in die tweede helfte ’n lelike klip gekou met ’n blaps op die verdediging in hul middelveld. Braydon Ennor het hakskene doellyn toe gewys en Mo’unga het verdoel om dit 19-10 te maak.

Die Stormers was teen die planke, maar het soos ’n wafferse Tyson Fury opgestaan en vir die skare van meer as 27 000 gewys wat die oomblik vir hulle beteken.

Eers het die Cape Crusaders vir Stander só hard uitgejou dat hy ’n taamlik maklike strafskop verbrou het. Hy het egter met een vlak voor die pale geslaan en daarna het Jean-Luc du Plessis, onder druk van ’n yslike geraas, die vlae laat lig. Dit was 16-19 en die Stormers se sterte weer in die lug.

Daarna was dit hoogdrama. Vyf minute voor die einde het dit vlugtig gelyk asof die Crusaders die uitklophou geplant het toe Sevu Reece vir JJ Engelbrecht om die spring van die bal klop om in die regterhoek te druk. Die Crusaders se feesvieringe is egter kortgeknip – daar was ’n vorentoe aangee in die aanloop.

Dit was die Stormers wat met die sterker eindpoging vorendag gekom het. Damian Willemse moes Du Plessis se skoppie raakvat om te druk, maar hy het aangeslaan nadat die bal sleg gespring het.

Gelukkig was dit voordeel aan die Stormers en hulle het die sinvolle besluit geneem vir Du Plessis om die punte te vat en die wedstryd op 19-elk te eindig.

Puntemakers:

Stormers 19 (10): Drie: Siya Kolisi. Doelskop: Josh Stander. Strafdoele: Stander (2), Jean-Luc du Plessis (2).

Crusaders 19 (12): Drieë: Matt Todd, David Havili, Braydon Ennor. Doelskoppe: Richie Mo’unga (2).

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Kaapstad  |  Nuweland  |  Rugby  |  Stormers  |  Crusaders  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.