Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers gaan hul keer móét ken

Alle eer aan die Haaie vir daardie onlangse gelykopuitslag teen die Crusaders in Christchurch, maar dis nie asof die Durbaniete skielik ’n swak plek uitgewys het wat die Stormers baie hoop gee vir Saterdag se Superrugby-wedstryd op Nuweland teen die kampioenspan nie.

Norman Lake, die Stormers se verdedigingsafrigter, het vandeesweek sy hande vol om voor te berei vir die aanvallende bedreiging wat die Crusaders inhou. Foto: Gallo Images

Inteendeel, die Kapenaars verwag die Crusaders-span wat die Bulle Saterdag op Loftus met 45-13 verneder het, met die ervare All Black-slot Sam Whitelock wat boonop vandeesweek by die resep gevoeg word, is die een waarteen hulle Saterdag gaan speel.

Seker die grootste verskil tussen die Crusaders-span wat die Haaie aangedurf het en die een wat die Bulle gepak het, was die teenwoordigheid op Loftus van die losskakel Richie Mo’unga en binnesenter Ryan Crotty. Neem daardie twee All Blacks uit hul agterlyn, soos teen die Haaie, en daar is ’n ontwrigting wat vir teenstanders hoop gee.

“Crotty en Mo’unga maak ’n groot verskil op 10 en 12. Hulle was afwesig teen die Haaie en jy kon die verskil sien toe hulle teen die Bulle teruggekeer het. Almal speel met meer selfvertroue as daardie twee in die span is,” sê Norman Laker, die Stormers se verdedigingsafrigter.

Dat Laker vandeesweek planne gaan moet beraam, blyk duidelik uit die Crusaders se driedruk-statistieke. Die Kiwi’s het in hul 12 wedstryde tot dusver ’n allemintige 55 drieë opgestapel – die meeste van enige span in die kompetisie. In skrille kontras daarmee het die Stormers vanjaar nog net 22 keer gaan druk – die minste in die kompetisie. Bygesê skort daar nie veel met die Kapenaars se verdediging nie.

Richie Mo’unga (links) en Ryan Crotty se vennootskap is oor etlike seisoene gevorm. Hier is hulle in 2013 saam vir hul provinsie, Canterbury, in aksie. Foto: Getty Images

“Ons sien uit na die uitdaging, want ons put trots uit ons verdediging en dit gaan goed in daardie afdeling van ons spel. Normaalweg wen jy meestal wanneer jou verdediging goed is, maar dis nie tans die geval nie,” sê Laker.

“Ons het ’n paar wedstryde net-net verloor, al het die span goed gespeel. Ongelukkig is die bal nie rond nie en het dit sleg vir ons gespring.”

Een van die Stormers se uitdagings is ook om vir akkurate dwarsskoppe – as ’t ware skopaangeë – deur Mo’unga te beplan.

“Dit kom neer op ’n goeie verstandhouding tussen die losskakel en sy vleuels. Jy kan nie eintlik vir so iets beplan nie. Jy moet net bewus wees dat dit ’n moontlikheid is en die vleuels se posisionering dophou, sodat jy in daardie geval met mekaar kan kommunikeer,” sê Laker.

Oor die Crusaders sê Laker hulle is goed afgerig en put voordeel uit hul ervaring in sleutelposisies.

“Hulle is baie geduldig met die bal in die hand en jy moet ook geduldig verdedig teen hulle. Die Haaie het fisiek hul man gestaan en was uitstekend op die verdediging,” sê hy.

Wat die Crusaders so goed maak, is dat selfs hul onervare spelers uitstekend op dreef is. Sevu Reece, die Fidjiaanse vleuel, het drie keer teen die Bulle afgerond en die onbesonge slot Mitchell Dunshea het onderstreep hoeveel diepte Scott Robertson, die Crusaders se afrigter, tot sy beskikking het.

Richie Mo’unga tel onder die spelers wat onder Ryan Crotty (regs) se leierskap gedy in the Crusaders se agterlyn. Foto: Getty Images

“Dunshea het nog net ses Superrugby-wedstryde gespeel, maar lyk asof hy al 50 agter die blad het. Die spelers wat ander vervang, skakel soomloos in,” sê Laker.

“Dis belangrik dat ons na ons sterkpunte speel. Jy kan nie vir Michael Schumacher met ’n Volla klop nie. As Suid-Afrikaners put ons normaalweg trots uit ons verdediging en ons het groot baldraers, wat ons oor die voordeellyn kan kry. Dis belangrik dat ons sterk verdedig en dan die geleenthede benut wat ons kry.”

Ryan Crotty (links) en Richie Mo’unga saam op All Black-diens. Foto: Getty Images

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Stormers  |  Crusaders  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.