Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers gaan uit op ’n ‘Haai’

Die Haaie se kanse om die uitspeelrondes van die Superrugby-reeks te haal, hang aan ’n fyn flentertjie nadat hulle Saterdagaand ’n futlose vertoning in hul stryd teen die Stormers gelewer het en met 27-16 (rustyd 21-9) vasgeval het.

Pure vasberadenheid! Die Stormers-slot Cobus Wiese duik oor vir die Stormers se eerste drie in hul Superrugby-sege van 27-16 oor die Haaie op Nuweland. Foto: Backpagepix

Nou is ’n sege in hul laaste Superrugby-wedstryd, Saterdag teen die Jaguares in Durban, ononderhandelbaar en hulle moet ook weer hoop op gunsies van ander spanne om die Melbourne Rebels te troef as hulle in die kwarteindstryde van die kompetisie wil speel.

Gisteraand se so-so-vertoning teen die Kapenaars op Nuweland voorspel egter niks goeds vir die stryd teen die Argentynse span nie.

Die Jaguares is self op soek na ’n sege om hul hoop op ’n tuis-kwarteind lewend te hou.

Ongedissiplineerde spel in die laaste 10 minute van die stryd het die Haaie, wat die meeste van die aanvalswerk in die tweede helfte gedoen het, uiteindelik die stryd gekos. Hulle het ’n stuk of vyf strafskoppe in dié tyd afgestaan, wat die Stormers in staat gestel het om uit sy eie gebied te kom.

Die ses punte wat die Stormers in die tweede helfte aangeteken het, vertel egter van ’n desperate Haaie-span wat veel beter in die tweede helfte was as in die eerste 40 minute.

Die Stormers het egter ook ’n sege broodnodig gehad om hul ondersteuners in hul laaste Superrugby-stryd van die seisoen tevrede te stel ná ’n uiters teleurstellende veldtog.

In die eerste helfte het die Haaie maar getjommel, terwyl die Stormers met tye aanskoulik aangeval het en die net meer as 14 000 toeskouers opgewonde gehad het.

Die tuisspan se spel was egter nie foutloos nie.

Die besoekers het danksy dié Stormers-foute in die stryd gebly en Robert du Preez het met strafdoele sy span in die stryd gehou. Daarteenoor het die Stormers drie prag-spandrieë in die eerste helfte gedruk.

Eers het Damian de Allende die Haaie se verdedigingslyn oopgekerf, waarna sy binne-aangee vir Cobus Wiese gevind het, wat onder die pale gaan druk het. Daarna het die senter EW Viljoen oorgeduik vir sy vyfpunter in sy terugkeer tot die beginspan van die Kapenaars.

Die Stormers-heelagter, Dillyn Leyds, het ook weer ’n rooksein na die Springbok-keurders gestuur met ’n vyfster-vertoning in sy 50ste stryd vir Stormers.

Hy was puik op die teenaanval, solied onder die Haaie se hangskoppe en het by tye gapings gevind wat vir ander spelers nie moontlik sou wees nie. Een van dié bresse het tot ’n drie vir Raymond Rhule gelei.

’n Ander Haaie-span – een wat veel meer doelgerig op die aanval was – het in die tweede helfte uitgedraf en ’n harde woord of twee was dalk net wat hulle van hul afrigter, Robert du Preez sr., nodige gehad het om aan die gang te kom.

Enkele minute ná rustyd het die Haaie, danksy volgehoue druk op die Stormers se verdedigingslyn, uiteindelik gaan druk.

Kobus van Wyk, plaasvervanger-vleuel van die besoekers, het die doellyn oorgesteek met Rhule wat net-net te laat was om hom te stuit ná die Haaie vir ’n wyle skerp op die aanval gelyk het.

Puntemakers:

Stormers 27 (21): Drieë: Cobus Wiese, EW Viljoen, Raymond Rhule. Doelskoppe: Josh Stander (3). Strafdoele: Stander (2). 
Haaie 16 (9): Drie: Kobus van Wyk. Doelskop: Robert du Preez. Strafdoele: Du Preez (3). 

Superrugby-bepalings 

Superrugby-puntelyste 

Superrugby-uitslae 

Losskakels: Stander vs. Du Preez

6 - Joshua Stander: Stewige vertoning deur die losskakel nadat hy op nommer 99 in die plek van Jean-Luc du Plessis ingesluit is. Hy verdedig sterk en het ook op die aanval die Stormers-agterlyn aan die gang gekry met goeie lopies. Sy taktiese skopwerk was puik en ook sy korrelwerk pale toe het die Stormers elke keer buite bereik van die Haaie gehou.

5 - Robert du Preez: Nie die terugkeer na Nuweland wat hy sou wou hê nie. Tog het hy as Haaie-losskakel ’n paar goeie dinge gedoen wat sy span op die voorvoet gekry het. Veral in die tweede helfte was hy instrumenteel in verskeie bewegings wat goeie wydte geskep het. Sy skopvoet pale toe hou sy span in die prentjie.

Flanke: Du Toit vs. Vermeulen

7 - Pieter-Steph du Toit: Die kapteinsarmband van Siya Kolisi het hom vir seker geïnspireer. Hy was rotsvas op die verdediging en duik die Haaie-spelers voos wanneer hulle op hom afgestorm het. Dra ook die bal ’n paar keer sterk op in kontak en kom verskeie kere oor die voordeellyn. Staan wel ’n paar keer besit af in kontak.

6 - Jacques Vermeulen: Hy plaas sy lyf op die spel elke keer wanneer die Stormers se voorspelers op hom afgestorm het. Maak ’n rits klipharde duikslae en probeer ook saam met sy haker, Akker van der Merwe, die aanvallende balbesit van die Stormers stadig maak. Het egter nie heeltemal daarin geslaag om die losskrums te ontwrig nie.

Meer oor:  Haaie  |  Stormers  |  Superrugby-Reeks  |  Uitspeelrondes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.