Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Die Stormers groet nóg drie spelers

Is die Stormers se swak Superrugby-veldtog besig om die Westelike Provinsie te dwing om sy salarisrekening te besnoei?

Nizaam Carr glimlag breed ná die Westelike Provinsie se sege oor die Haaie in verlede jaar se Curriebekereindstryd in Durban. Foto: Gallo Images

Dís die vraag nadat drie spelers – die agtsteman Nizaam Carr, die vleuel Raymond Rhule en die skrumskakel Dewaldt Duvenage – uit hul kontrakte vrygestel is om in Europa te gaan speel.

Die aankondiging volg kort op die hakke van verlede week se nuus dat JC Janse van Rensburg vir die Franse span Grenoble gaan speel. Grenoble is voortaan ook Rhule se werkgewer.

Carr sluit hom aan by die Engelse klubspan Wasps, terwyl Duvenage Italië toe verhuis om vir Benetton in Treviso te speel.

In al vier gevalle kan die spelers se besluit as ’n terugslag vir die WP beskou word. Rhule beleef ’n goeie seisoen nadat daar aanvanklik pessimisme oor sy skuif Kaap toe was, terwyl Carr, Janse van Rensburg en Duvenage beslis later vanjaar staatmakers sou kon wees in die WP se veldtog om sy Curriebekertitel te behou.

Terselfdertyd gaan vanjaar se Curriebekerreeks na verwagting bitter min belangstelling wek en maak dit ekonomies sin om spelers vry te stel – veral gegewe dat die klein skares wat die Stormers vanjaar gelok het die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) se finansies waarskynlik ’n knou toegedien het.

Carr (27) het vroeër vanjaar drie maande vir Wasps gespeel, toe dié Engelse klub ’n beseringskrisis ervaar het. Hy het baie indrukwekkend vertoon en in 11 wedstryde vier drieë gedruk.

Wasps se direkteur van rugby, Dai Young, is in sy noppies met die aanwins.

Raymond Rhule het beïndruk toe hy vanjaar vir die Stormers in die Superrugby-reeks op vleuel gespeel het. Foto: Gallo Images

“Nizaam het ’n massiewe impak gemaak in die tydjie wat hy vroeër by ons was. Sy vermoë om die bal sterk te dra en vaart het baie goed by ons speelstyl ingepas. Hy het in slegte weerstoestande ook fisiek sy man gestaan,” sê Young in ’n nuusverklaring.

“Nizaam was dadelik gewild onder die spelers en ondersteuners, terwyl die personeel en afrigters hom ’n plesier gevind het om mee te werk.”

Carr, wat in die Springbok-groep is vir die reeks teen Engeland, sê hy sien geweldig uit na die volgende hoofstuk in sy loopbaan.

“Ek het tydens my korttermynkontrak daar tuis gevoel en dis waarom ek opgewonde en gemotiveerd is om terug te keer. Die ondersteuners, bestuur en spelers het my baie welkom laat voel.”

Gert Smal, die WP se direkteur van rugby, het sy waardering uitgespreek vir die jongste drie spelers wat koers kies Europa toe.

“Ons waardeer die bydrae wat Nizaam, Dewaldt en Raymond gelewer het en wens hulle alles van die beste toe.

“Nizaam en Dewaldt het albei deur ons strukture gevorder en is baie jare al staatmakers, terwyl Raymond vir ons ’n ietsie ekstra gebied het vanjaar,” sê Smal.

Dewaldt Duvenage het etlike seisoene vir die Stormers en Westelike Provinsie gespeel. Foto: Gallo Images

“Ons sal aanhou poog om ons diepte uit te bou en gehaltespelers probeer inbring om ons groep te versterk.”

Volgens die WPRU se uitvoerende hoof, Paul Zacks, is die besluit om die spelers voor die verstryking van hul kontrakte vry te stel met hul beste belang in gedagte geneem.

“Hul skuiwe sal verdere geleenthede skep vir die volgende geslag sterre in ons strukture. Spelers soos Siya Kolisi, Eben Etzebeth, Pieter-Steph du Toit, Bongi Mbonambi, Wilco Louw, Steven Kitshoff, Frans Malherbe, Sikhumbuzo Notshe, Damian de Allende en Dillyn Leyds is tot 2019 en langer gekontrakteer,” sê hy.

Thelo Wakefield, die WPRU se president, het die spelers vir hul diens bedank en hulle “alles van die beste” in Europa toegewens.

Carr, Duvenage en Rhule sal hulle aan die einde van die Superreeks by hul nuwe klubs aansluit. Die Stormers se laaste ligaverpligting is ’n tuiswedstryd teen die Haaie op 7 Julie.

Meer oor:  Stormers  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.