Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers gunsteling, maar ...

Die Stormers kon die laaste twee seisoene slegs twee uit hul 16 Superrugby-wedstryde weg van Nuweland wen en kon in 2015 laas die Leeus op Ellispark klop.

Sergeal Petersen sal sy sokkies moet optrek in Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Leeus op Ellispark as hy sy plek in die Stormers-span wil behou.Foto: Gallo Images

Voorspellings dat die Kapenaars gaan weghol met die Leeus in Saterdag se kragmeting in Johannesburg strook dus nie met die werklikheid nie.

Ja, die Stormers verdien krediet daarvoor dat hulle in hul eerste twee ligawedstryde vanjaar nie ’n punt afgestaan het nie. Het die Bulle egter pale toe geskop in die tweede helfte van verlede naweek se wedstryd op Nuweland, sou dit nie die geval gewees het nie. Die Stormers het hul oorwinning verdien, maar die statistieke is misleidend.

John Dobson, die Stormers se afrigter, het reeds gesê hy verwag nie dat sy span ook teen die Leeus geen punte sal afstaan nie. Hy hoop op ’n wedstryd waarin albei spanne gaan skouers oopmaak op die aanval.

Dobson is ook versigtig om peil te trek op die Leeus ná ’n nederlaag teen die Jaguares en oorwinning oor die Reds.

“Dis moeilik om te veel te lees in daardie wedstryd teen die Jaguares en die Leeus hou daarvan om die bal deur fases te neem, wat moeilik was in die nat toestande teen die Reds,” sê hy.

’n Bedreiging waarop die Stormers bedag sal wees, is dié van die Leeus se buiteagterspelers, spesifiek die blits Tyrone Green.

Die Stormers gaan die Leeus-blits Tyrone Green fyn dophou in Saterdag se Superrugby-wedstryd op Ellispark. Foto: Gallo Images

“Tyrone het ons verlede jaar in die Curriebeker-wedstryd op Nuweland seergemaak toe ons ’n swak hangskop in die middelveld af geskop het,” sê Dobson.

“Ons weet hy en Boeboes (Andries Coetzee) is fisieke teenaanvallers en ons opvolglyne gaan goed georganiseerd moet wees. Tyrone en Andries het die X-faktor. Ons neem kennis daarvan en berei daarop voor.”

Waar die Leeus veral swakker daaraan toe is sedert hulle die Stormers verlede jaar met 41-22 in die Goudstad geklop het, is by die afbreekpunte. Dis ’n regstreekse gevolg van Malcolm Marx (haker) en Kwagga Smith (oopkantflank) se oorsese skuiwe.

Vir die Stormers kan dit ook dáár lol, want Jaco Coetzee se harsingskudding beteken dat hulle nie vandeesweek ’n baljagterflank beskikbaar het nie.

Seker die grootste vraag is hoe die Stormers sonder die Springbok-skrumskakel Herschel Jantjies gaan aanpas. Die man wat hom vervang, Godlen Masimla, is al lank in die land sonder dat hy al enigiets noemenswaardig vermag het. Gaan hy die druk kan hanteer wat die Leeus op hom gaan laai?

Twee ander Kapenaars wat in die soeklig gaan wees, is die vleuel Sergeal Petersen en plaasvervangerhaker, Chad Solomon.

Dobson het vandeesweek gesê dat Leolin Zas hard aan die deur klop en dat Petersen van stryk af is.

Solomon sal moet wys dat hy sy man in die vaste fasette kan staan, met akkuraatheid by die lynstane en deur fisiek opgewasse te wees in die skrums.

As jou plaasvervangerhaker nie op standaard is nie, gaan jy in die pylvak van die wedstryd op die agtervoet wees. En dis juis dán wanneer hierdie wedstryd beklink gaan word – waarskynlik deur die Stormers, maar dis geen uitgemaakte saak nie.

Leeus: Andries Coetzee, Tyrone Green, Manuel Rass, Dan Kriel, Courtnall Skosan, Elton Jantjies (k), Morné van den Berg, Len Massyn, Vincent Tshituka, Marnus Schoeman, Marvin Orie, Ruben Schoeman, Jannie du Plessis, Pieter Jansen, Dylan Smith. PLAASVERVANGERS: Jan-Henning Campher, Sti Sithole, Carlu Sadie, Wilhelm van der Sluys, Willem Alberts, Hacjivah Dayimani, Dillon Smit en Wandisile Simelane.

Stormers: Dillyn Leyds, Sergeal Petersen, Ruhan Nel, Jamie Roberts, Seabelo Senatla, Damian Willemse, Godlen Masimla, Juarno Augustus, Pieter-Steph du Toit, Johan du Toit, Chris van Zyl, Salmaan Moerat, Wilco Louw, Scarra Ntubeni, Steven Kitshoff (k). PLAASVERVANGERS: Chad Solomon, Ali Vermaak, Frans Malherbe, JD Schickerling, Cobus Wiese, Ernst van Rhyn, Paul de Wet en Jean-Luc du Plessis.

  • Skeidsregter: Jaco Peyper.
  • Assistent-skeidsregters: Marius van der Westhuizen en Rasta Rasivhenge.
  • TV-skeidsregter: Willie Vos.
  • Afskop: 15:05 (SS 1, GDN).

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Stormers  |  Leeus  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.