Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers het dalk Fleck se doppie geklink
Die Stormers-flank Jaco Coetzee word deur die Jaguares se losskakel, Domingo Miotti, vasgevat in Saterdag se Superrugby-wedstryd in Buenos Aires. Foto: Getty Images

Die komende week is veronderstel om vir die Stormers ’n kans te bied om hul batterye te herlaai, maar in stede daarvan gaan die poppe agter die skerms dans.

Robbie Fleck, hul afrigter, is onder geweldige druk nadat die Kapenaars Saterdagaand hul Superrugby-wedstryd teen die Jaguares in Buenos Aires met 25-30 verloor het.

Die Stormers moes van die vierde minuut af – ná Pablo Matera se drie – inhaalrugby speel.

Jean-Luc du Plessis en Damian Willemse se skopstewels het die Stormers in die prentjie gehou, maar hulle het weereens nie ’n idee gehad wat om met die bal op die aanval te doen nie.

Daarvoor moet die afrigters ongelukkig pa staan en die gerugte het die afgelope week in die Moederstad geloop dat Fleck diep in die sop sal wees as die Stormers in Buenos Aires faal.

Hy is glo ná ’n direksie-vergadering van die Westelike Provinsie Rugbyunie, op die vooraand van die Stormers se vorige wedstryd teen die Bulle, gesê dat hy die trekpas sal kry indien sy span nie daardie wedstryd en ook die een teen die Jaguares wen nie.

Die Stormers speel nietemin nie soos ’n span wat hoegenaamd in opstand teen hul afrigter is nie. Inteendeel, hulle doen goeie dinge op die veld, maar word telkemale deur foute gekelder.

Hulle het in die doodsnikke van die wedstryd nog ’n kans met ’n lynstaan ’n paar meter van die Jaguares se doellyn af gehad, maar die tuisspan het die bal gegaps en uitgeskop.

Vroeër, met agt minute oor, het die Stormers ’n strafdrie afgestaan toe JJ Engelbrecht die bal afgeklap het. Toe was dit 30-18 vir die Jaguares en die wedstryd vir die Stormers oënskynlik daarmee heen.

Maar die Kapenaars het onmiddellik teruggeslaan met Seabelo Senatla se drie ná ’n goeie lopie deur Justin Phillips en ’n sege was vir ’n rukkie binne hul bereik.

Die Stormers kan net hulself blameer.

Hulle het 20 keer omkeerbesit afgestaan en vier van hul 13 lynstaanballe verloor – insluitend daardie laaste een wat hul doppie geklink het. Met daardie soort statistieke is ’n span op ’n snelweg na sy ondergang toe.

Hoe nou gemaak?

Die Stormers is nog in die prentjie, maar die volgende wedstryd is oor twee naweke teen die kampioenspan, die Crusaders, op Nuweland.

Dalk sal die base voel dat hulle nou reeds die man wat as die volgende afrigter gesalf is, John Dobson, die geleentheid wil gee om met die span te werk.

Terselfdertyd het die WP nie die geld om enige uitbetalings te maak nie. Die eerste krisisvergadering is waarskynlik reeds vir Maandag geskeduleer.

Puntemakers:

Jaguares 30 (13): Drieë: Pablo Matera, Ramiro Moyano, strafdrie. Doelskoppe: Domingo Miotti (2). Strafdoele: Miotti (3).

Stormers 25 (9): Drie: Seabelo Senatla. Doelskop: Damian Willemse. Strafdoele: Jean-Luc du Plessis (4), Willemse (2).

Meer oor:  Robbie Fleck  |  Stormers  |  Buenos Aires  |  Superrugby  |  Jaguares
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.