Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers het Jantjies in hul visier

Met sewe Wêreldbeker-Springbokke in hul beginspan, sou ’n mens verwag dat die Stormers hul Superrugby Unlocked-veldtog Saterdagaand teen die Leeus op Nuweland met ’n oorwinning sal afskop.

Die Stormers-heelagter Warrick Gelant vroeër dié week tydens ’n oefensessie op Nuweland. Gelant is veral gevaarlik op die teenaanval, maar sal ook sy storie moet ken onder die hoë bal. Foto: Gallo Images

Maar hokaai, dis nie só eenvoudig nie. As ’n speler die Webb Ellis-beker gelig het, het hy ’n teiken op sy rug en raak hy die een teen wie elke ander speler in daardie posisie homself graag wil meet.

Só pasop in die skrums Steven Kitshoff en Frans Malherbe. Carlu Sadie en Sti Sithole gaan oorgehaal wees om hul stempel af te druk.

Ditto Jaco Kriel, wat sy slag wil wys in dieselfde nommer trui wat deur Siya Kolisi, die Bok-kaptein, gedra word. As Kriel in die komende weke soos die speler van ouds lyk, kan hy vir die Leeus ’n groot faktor wees.

Wat die Stormers betref, is die grootste gevaarman egter die Leeus se Springbok-losskakel, Elton Jantjies. Hy is een van die mees ervare spelers in Suid-Afrikaanse rugby en op sy beste ’n losskakel van wêreldgehalte.

Die Stormers het ’n plan beraam om die Leeus se generaal, Elton Jantjies, hok te slaan. Foto: Gallo Images

Jantjies is die spreekwoordelike generaal en die Stormers gaan ook op die uitkyk wees vir daardie dwarsskoppe wat sy buite-agterspelers oor die doellyn kan stuur.

John Dobson, die Stormers se afrigter, het vandeesweek ’n waarskuwing gerig dat sy agterste driehoek ’n groot impak op die teenaanval kan hê as daar swak geskop word, maar dis juis die punt: Jantjies skop nie swak nie.

“Ons het baie daaroor gepraat,” sê Dobson oor die Jantjies-faktor.

“Dis nie ’n geheim dat hy die dryfkrag agter die Leeus is nie. Ons het na maniere gekyk hoe ons minder reaksietyd kan gee en hom onder druk kan plaas. Dit sou onverantwoordelik wees as dit nie deel van ons plan was nie. Ons het baie respek vir hom.”

Dobson is ook lugtig vir al die oud-Kapenaars in die Leeus se beginspan. Benewens Sadie en Sithole in die voorry, is daar ook EW Viljoen op heelagter, Dan Kriel op binnesenter, en natuurlik Jantjies self, wat ’n seisoen in die Kaap deurgebring het toe die Leeus vir die Southern Kings plek moes maak in die Superreeks.

Die Stormers is natuurlik ook hoogs gemotiveerd en deel daarvan, aldus Kolisi, is dat hulle as span jaar ná jaar nie aan die verwagtinge voldoen nie.

Siya Kolisi, die Stormers se kaptein, het vandeesweek op ’n aanlyn nuuskonferensie erken dat die Kapenaars hul ondersteuners te dikwels teleurstel met hul vertonings in Superrugby. Foto: Gallo Images

“Ek dink ons het byna elke jaar ons ondersteuners in die steek gelaat, veral in Superrugby,” som Kolisi dit op.

“Ons praat openlik daaroor, want jy kan nie daarvan wegskram nie. Dis feite. Ons moet iets daaraan doen en dit regstel. Daar’s nie meer ’n verskoning nie.

“Dit maak nie saak wat buite die span gebeur nie. Ons het ’n pakt gemaak dat ons gaan fokus op wat ons op die veld kan doen. Dit maak nie saak of die rugby mooi of lelik is nie. Al waaroor ons omgee, is om te wen.”

Stormers: Warrick Gelant, Sergeal Petersen, Dan du Plessis, Rikus Pretorius, Leolin Zas, Damian Willemse, Herschel Jantjies, Juarno Augustus, Ernst van Rhyn, Siya Kolisi (k), JD Schickerling, Salmaan Moerat, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Scarra Ntubeni, Leon Lyons, Neethling Fouché, Chris van Zyl, Nama Xaba, Paul de Wet, Michal Haznar, Tim Swiel.

Leeus: EW Viljoen, Jamba Ulengo, Burger Odendaal, Dan Kriel, Rabz Maxwane, Elton Jantjies (k), Morné van den Berg, Len Massyn, Vincent Tshituka, Jaco Kriel, Marvin Orie, Ruben Schoeman, Carlu Sadie, Jaco Visagie, Sti Sithole. PLAASVERVANGERS (Uit): Jan-Henning Campher, Dylan Smith, Wiehahn Herbst, Wilhelm van der Sluys, MJ Pelser, Hacjivah Dayimani, Ross Cronjé, Gianni Lombard, Wandisile Simelane, Ruan Dreyer.

Skeidsregter: Rasta Rasivhenge

Assistent-skeidsregters: Aimee Barrett-Theron en Egon Seconds.

TV-skeidsregter: Joey Klaaste-Salmans

TV: 19:00 op SS Grandstand (201), SS Rugby (211) en GDN.

• Hoogtepunte van die Stormers en Leeus se Superfan-wedstryd op Loftus:

Meer oor:  Nuweland  |  Rugby  |  Stormers  |  Leeus  |  Superrugby Un­Locked
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.