Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers: Jamie wil jong sterre touwys maak

Die Stormers ontbreek vir etlike seisoene al aan ’n skakelpaar wat hulle ’n ernstige aanspraakmaker op die Superrugby-titel kan maak, maar daardie dae is straks verby met Herschel Jantjies en Damian Willemse wat die skip vanjaar gaan stuur.

Die Walliese senter Jamie Roberts (regs) het reeds belowende jongelinge soos die SA o.20-senter Mnombo Zwelendaba onder sy vlerk begin neem by die Stormers. Foto: Verskaf

Tog is John Dobson, die Stormers se afrigter, deeglik daarvan bewus dat hulle nog aan ervaring ontbreek en dís waar die gesoute Walliese binnesenter Jamie Roberts in die prentjie kom.

“Ons het ons huiswerk oor Jamie gedoen en geweet dat hy baie professioneel en ’n leier is. Sy primêre rol is om vir ons te speel en die Superreeks te help wen. Ons wil egter ook hê hy moet een van die opwindendste skakelpare ter wêreld help om die spel doeltreffend te kan bestuur,” sê Dobson.

“Dis nog vroeg in Herschel se loopbaan. Sy eerste groot wedstryd was 2018 se Curriebeker-eindstryd. Damian betree nou sy derde jaar van Superrugby en ek het vir hom gesê hy gaan losskakel speel, nie tussen posisies rondval nie.”

Roberts (33), lid van die Britse en Ierse Leeus se toerspan na Suid-Afrika in 2009 en veteraan van 94 toetse vir Wallis, is baie opgewonde oor Willemse se talent.

Damian Willemse kan straks sy potensiaal as losskakel bereik met Jamie Roberts se leierskap aan sy buitekant in vanjaar se Superreeks.Foto: Gallo Images

“Hy het my al drie keer met ’n aftrap geklop! Hy’s ’n entoesiastiese jong man en het al die vaardighede om ’n uitblinker te wees,” sê Roberts.

“Ek glo sterk dat daar ’n groot verantwoordelikheid op senior spelers rus om die jonger manne touwys te maak en te help ontwikkel. Dít was deel van my ooreenkoms met die Stormers.

“Hier is opwindende jong senters soos Rikus Pretorius, wat binnekort die tree na bo gaan moet gee. Hulle moet gereed wees daarvoor wanneer die geleentheid kom. Enigiets wat ek kan doen om hulle te help ontwikkel, sal vir my ’n voorreg wees.”

Intussen het Dobson bevestig dat drie voorspeler-ysters, die slot JD Schickerling, die agtsteman Juarno Augustus en die slot-flank Cobus Wiese, nie fiks sal wees vir aanstaande Saterdag se eerste wedstryd teen die Hurricanes nie.

Wiese en Schickerling kan maklik vanjaar Dobson se voorkeur-slotpaar wees. Die verwagting is dat die belowende Salmaan Moerat en veteraan Chris van Zyl die fort gaan moet hou.

* Die Stormers se groep vir 2020 is: Juarno Augustus, Kwenzo Blose, Jaco Coetzee, Paul de Wet, Dan du Plessis, Jean-Luc du Plessis, Johan du Toit, Pieter-Steph du Toit, Ben-Jason Dixon, Schalk Erasmus, Neethling Fouché, Michal Haznar, Lyle Hendricks, Herschel Jantjies, Dan Jooste, Steven Kitshoff, Siya Kolisi (k), David Kriel, Dillyn Leyds, Wilco Louw, Leon Lyons, Godlen Masimla, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, David Meihuizen, Salmaan Moerat, Matt Moore, Ruhan Nel, Scarra Ntubeni, Sergeal Petersen, Rikus Pretorius, Jamie Roberts, Sazi Sandi, JD Schickerling, Seabelo Senatla, Chad Solomon, Edwill van der Merwe, Ernst van Rhyn, Abner van Reenen, Chris van Zyl, Ali Vermaak, Cobus Wiese, Damian Willemse, Nama Xaba, Leolin Zas.

Meer oor:  John Dobson  |  Jamie Roberts  |  Superrugby  |  Superrugby-Reeks  |  Stormers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.