Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers kan nie wag vir afskop

Op 9 Augustus verlede jaar is laas rugby op Nuweland gespeel en die Stormers is saam met die res van die Kaapse rugbyondersteuners lekker uitgehonger.

“Toe ek vanoggend hier instap, kon ek die opwinding aanvoel,” het Dillyn Leyds, wat Saterdag waarskynlik as heelagter in die Superrugby-wedstryd teen die Hurricanes gaan opdraf, Maandag op die Kapenaars se oefenveld in Bellville gesê.

Dillyn Leyds is oorgehaal vir sy beste Superrugby-veldtog tot nog toe vir die Stormers. Foto: Gallo Images

“Die manne was om 06:30 luidrugtig in die gimnasium. Ander weke is dit maar stil en hou die ouens hul fone dop, maar vanoggend was daar ’n lekker atmosfeer.”

Terwyl kaartjieverkope nog momentum moet kry, is reeds meer losies in Nuweland en meer seisoenkaartjies as verlede jaar verkoop.

Leyds (27) is ’n man met groot ambisies en ’n wedstryd waarin hy van aangesig tot aangesig met agterlyn-sterre soos Ben Lam, Vince Aso, Ngani Laumape en Jordie Barrett gaan kom, is presies wat hy soek.

Nou is ek oorgehaal vir die eerste wedstryd. Ons sou opgewonde wees, ongeag wie die teenstander is, maar die Hurricanes het lekker agterspelers.
Dillyn Leyds

“Enige eerste wedstryd van ’n seisoen is ’n geleentheid vir ’n nuwe hoofstuk,” sê hy.“Ek was nie onder die spelers wat korttermyn-kontrakte oorsee gesluit het nie en kon skaaf aan die aspekte van my spel waaraan ek moes.

“Nou is ek oorgehaal vir die eerste wedstryd. Ons sou opgewonde wees, ongeag wie die teenstander is, maar die Hurricanes het lekker agterspelers. Dit sal ’n goeie geleentheid vir ons agterlyn as ’n geheel en vir individue wees om ons te toets teen spelers wat waarskynlik later vanjaar vir die All Blacks gaan speel.”

Leyds, wat tien toetse agter sy naam het, hoop om in vanjaar se reeks genoeg te doen om die Springbok-afrigter, Jacques Nienaber, en Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby, Rassie Erasmus, te oortuig dat hy in hul planne hoort.

Dillyn Leyds het in verlede jaar se Superrugby-wedstryd teen die Hurricanes in Wellington, Nieu-Seeland ’n puik duikslag op Ben Lam uitgevoer. Foto: Getty Images

Hy het verlede jaar in Pretoria teen Argentinië opgedraf, terwyl hy in 2017 in nege toetse gespeel het.

“As jy die naam Dillyn Leyds noem, dink ek nie enigiemand sal van my praat as ’n Springbok nie. Ek word eerder as ’n Stormers-staatmaker beskou. Ek wil steeds meer toetse speel en hopelik in 2021 teen die Britse en Ierse Leeus,” sê hy.

Om dít te kan doen, het Leyds sterk vertonings in wedstryde soos Saterdag s’n nodig.

Hy verwag nie dat die Hurricanes skielik sal begin stotter op die aanval sonder die All Black-losskakel Beauden Barrett nie.

“Jackson Garden-Bachop sal waarskynlik vir hulle op losskakel opdraf en iets anders bring,” sê hy.

“Die Hurricanes het in Beauden ’n groot speler op die aanval verloor, maar kyk net ’n kanaal verder af en dan sien jy hoe gevaarlik die agterspelers tot hul beskikking is.

“Jordie Barrett kan ook losskakel speel en dalk verras hulle deur hom saam met TJ Perenara as skakelpaar te kies. Hulle is steeds in elke area sterk op die aanval.”

Terwyl Leyds geken word aan wat hy met die bal in die hand kan doen, is Maandagoggend ’n paar grappies oor sy duikslag op Lam in verlede jaar se ligawedstryd in Wellington gemaak.

Die blitsige Lam was binnetoe en buitentoe om ’n pad om Leyds te vind, maar die Stormer het hom onverwags platgetrek.

“Ek het eintlik nie geweet waarheen hy gaan nie en dit was maar ’n gelukskoot dat ek reg geraai het!” sê hy.

“Siya (Kolisi) het dit vanoggend genoem toe ons oor hul toergroep praat. Hy het gesê Lam het om hom gehardloop en hy kon nie binne 30 sentimeter daarvan kom om hom te lak nie. Toe sê ek: ‘Toemaar, Siya, ek sal jou oppas!’ ”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.