Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers kan skok met losskakel

Robbie Fleck, die Stormers se afrigter, moes vanjaar al baie hoor en lees dat hy vir Damian Willemse eerder as Jean-Luc du Plessis op losskakel moet kies, maar is Johua Stander nie dalk ’n beter alternatief vir Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Brumbies op Nuweland nie?

Stander, wat aan die einde van 2017 deur die Westelike Provinsie van die Blou Bulle af Kaapstad toe gelok is, het stadig maar seker opgang gemaak.

Die Stormers se Joshua Stander in aksie teen die Rebels in Melbourne Vrydag. Foto: Getty Images

Hy was baie indrukwekkend toe omstandighede Fleck genoop het om hom aan die einde van verlede jaar se reeks te kies en daarna in die WP se Curriebeker-veldtog. Tot dusver vanjaar is hy beperk tot ’n paar kamee-verskynings van die plaasvervangersbank af, maar die naweek het hy weer die oog getref toe hy vir Du Plessis in die tweede helfte van die sege van 41-24 oor die Rebels in Melbourne vervang het.

Stander se akkurate taktiese skopwerk is een van sy grootste deugde en moontlik kan Fleck besluit om hom vandeesweek ’n kans in die beginspan te gee.

Du Plessis het Vrydag nie watwonders vertoon nie. Sy skopwerk was die een oomblik goed en die volgende sleg. Dan was daar ook die wilde aangee vroeg in die tweede helfte wat onderskep is en die Stormers in ’n kritieke tydstip op die agtervoet gedwing het.

Daardie onderskepdrie sal waarskynlik nie swaar teen Du Plessis weeg nie, want so iets gebeur maar met spelers. Hy is ’n baie nuttige nr.10 met hope potensiaal.

Die vraag is eerder of Stander die wedstryd beter sal kan dikteer. Dit is ’n goeie geleentheid om hom op die proef te stel – sonder om ’n groot risiko te neem.

Fleck sal sy span voorlangs kan versterk. Pieter-Steph du Toit het nou twee weke se vaderskapsverlof gehad en kan saam met die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, na die beginspan terugkeer.

Du Toit kan straks op slot eerder as die flank gekies word as geeneen van Eben Etzebeth, JD Schickerling of Chris van Zyl fiks is nie.

Teen die Rebels het die Stormers Cobus Wiese as Salmaan Moerat se slotmaat gebruik. Wiese se vertoning het aansienlik meer om die lyf gehad as die vorige naweek teen die Reds, maar hy is vernaam ’n flank.

Hy en Kolisi, wat ’n broodnodige ruskans gekry het, kan straks vir Kobus van Dyk en Ernst van Rhyn vervang.

Die Stormers se lynstaanbesit was slordig teen die Rebels en hulle kort dringend ’n man soos Du Toit om daardie aspek op te knap. Voorts het die gelapte aard van die agttal ook ’n negatiewe uitwerking op die Stormers se skrumkrag gehad.

Kortom het die Stormers se uitstekende verdediging baie tekortkominge verberg en dít sal nie onbepaald ’n wenresep wees nie. Die uitdagings voor verg groot kanonne.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Rebels  |  Stormers  |  Superrugby  |  Joshua Stander
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.