Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers krap kop oor senterpaar
EW Viljoen (middel) oefen saam met die Stormers nadat hy vir ’n geruime tyd buite aksie was.Foto: Gallo Images

’n Superrugby-terugkeer wink vir EW Viljoen weens die onsekerheid oor die beskikbaarheid van die Springbok-binnesenter Damian de Allende vir Saterdag se stryd teen die Highlanders op Nuweland.

De Allende het ’n hou teen sy been gekry in die afgelope naweek se gelykopstryd teen die Crusaders en is ook op die lys van Bokke wat met die oog op die Wêreldbeker-toernooi later vanjaar verpligte ruskans tydens die Superreeks moet kry.

“As Damian nie kan speel nie, kan EW dalk oorweeg word. Hy het verlede week by ons aangesluit nadat hy van ’n besering herstel het,” sê Dawie Snyman, die Stormers se agterlynafrigter.

“Daar moet ook gekyk word na ’n ou soos Dan Kriel. Hy was goed nadat hy opgestuur is (teen die Crusaders).”

Daar moet ook gekyk word na ’n ou soos Dan Kriel. Hy was goed nadat hy opgestuur is (teen die Crusaders).
Dawie Snyman

Met dié dat Viljoen ’n spesialis-buitesenter is, is Kriel die logiese keuse vir die nr.12-trui as De Allende nie kan speel nie. Dit sal wel ’n moontlike gaping vir ’n senter op die plaasvervangersbank skep.

Die vraag is tog of dit nie sal loon om sommer dadelik vir Viljoen in die plek van JJ Engelbrecht op buitesenter te kies nie.

Engelbrecht het ’n paar so-so vertonings agter die rug – ’n geelkaart laat in die wedstryd teen die Jaguares en swak verdediging teen die Crusaders – wat Snyman-hulle kan laat nadink.

Dis ’n taai toffie om aan te kou.

“Senters raak as kombinasies gevestig hoe langer hulle saam speel. Hopelik kan ons met ons spankeuses ’n bietjie kontinuïteit behou. Dít help baie. Spelers se tydsberekening verskil en hulle het uiteenlopende speelstyle. Jy het ’n paar wedstryde saam nodig,” sê Snyman.

Viljoen se deugde maak hom wel ’n aantreklike opsie.

“EW se verdediging en vermoë om die spel te lees, is baie goed. Hy verstaan aanvalstrukture en ook hoe om teenstanders se ruimte op die aanval te beperk. Hy’s ook ’n groot baldraer en hou daarvan om drukaangeë te maak,” sê Snyman.

Damian de Allende gaan dalk nie teen die Highlanders speel nie. Foto: Gallo Images

Kontinuïteit bly ’n groot kwessie, want weens omstandighede buite sy beheer, is die hoofafrigter, Robbie Fleck, vanjaar gedwing om al vyf verskillende senterpare te kies.

Ruhan Nel was in die meeste gevalle De Allende se sentermaat, maar is beseer voor die Stormers se wedstryd teen die Bulle. Hy was die res van die veldtog buite aksie. Daniel du Plessis, wat drie wedstryde saam met De Allende begin het, is ook op die langtermyn-krukkelys.

Kriel en Engelbrecht was nog net vir een wedstryd – teen die Jaguares in Argentinië, saam in die beginspan – maar Viljoen was nog nie in ’n 23-tal nie.

’n Buiteperd vir die binnesenter-posisie is Josh Stander, wat die afgelope naweek teen die Crusaders op losskakel begin het. Damian Willemse, wat verlede jaar vir die Westelike Provinsie in die Curriebeker-eindstryd daar begin het, word nie as senter oorweeg nie.

“Damian vaar goed met sy skopwerk en teenaanvalle van heelagter af. Josh het teen die Blues vir 75 minute op nr. 12 gespeel. Ons kyk eerder na ons losskakels as opsies op binnesenter as Damian,” sê Snyman.

Meer oor:  Dawie Snyman  |  Damian De Allende  |  Kaapstad  |  Rugby  |  Superrugby  |  Stormers  |  Highlanders  |  Senter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.