Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers trek die Jaguares se tande

Nog baie ruimte vir verbetering, maar die Stormers het al hul verlore selfvertroue herwin na Vrydagaand se sege met 35-8 oor die Argentynse Jaguares in hul Superrugby-wedstryd op Nuweland.

Dit was die Kapenaars se derde sege op ’n streep nadat hulle vroeër met die Leeus en Haaie afgereken het, maar die verskil hier was dat hulle uit die loopgrawe uitgeklim en gelyk het soos ’n span wat geniet om rugby te speel.

Bygesê, het hulle nie goed begin nie. 

Herschel Jantjies
Die skrumskakel Herschel Jantjies duik oor vir een van die Stormers se vier drieë Vrydagaand op Nuweland teen die Argentynse Jaguares. Foto: Jaco Marais

Inteendeel, Nuweland het daardie sinkende gevoel kry toe Scarra Ntubeni (haker) se eerste ingooi bo-oor die lynstaan trek en Bautista Delguy ’n paar minute later vir die Jaguares ’n drie afrond.

Die Stormers het ’n paar geleenthede deur hul vingers laat glip deur balbesit nie goed te beskerm nie en was aanvanklik ewe verbeeldingloos met die bal in die hand as in hul vorige drie wedstryde.

’n Tikkie inspirasie deur die losskakel Jean-Luc du Plessis het egter die tuisspan se selfvertroue gelig. 

Hy het die bal liggies bo-oor die Jaguares se verdedigingslinie getik en sy nefie Dan het afgerond nadat die Argentyne nie die bal kon beheer nie. 

Dit was 10-5 vir die Stormers en ’n sielkundige hupstoot wat die weg vir die sege gebaan het.

SP Marais se derde strafdoel – van net agter die middellyn in die doodsnikke van die eerste helfte – het die lemoene ekstra lekker laat proe.

Tog was die Stormers vir die eerste uur van die wedstryd nooit gemaklik nie. 

Hulle moes by tye geduldig en desperaat verdedig en dit was seker die aspek van hul spel wat die meeste beïndruk het.

Dan was daar oudergewoonte die skrumwerk wat hulle die afgelope paar seisoene van meeste ander spanne onderskei het.

Die Kapenaars was met 23-8 voor ná Siya Kolisi se drie van ’n rolmaalbeweging vroeg in die tweede helfte, maar die Jaguares het nooit bes gegee nie. 

Puik dekverdediging deur Juarno Augustus en Herschel Jantjies het ’n drie gered en die Stormers het daarna ’n strafskop by ’n skrum afgedwing om uit diep moeilikheid te kom.

Jantjies is minute later deur ’n gaping om die Stormers se derde drie te druk en nou was die enigste vraag of die Kaapse franchise ’n bonuspunt sou kon aanteken. 

Daarvoor het hy drie meer drieë as die Jaguares nodig gehad en als is in die stryd gewerp met verskeie kanse wat verspeel is.

Die druk is egter genadeloos op die Jaguares gelaai en die rolmaal het sy werk gedoen voordat Jantjies se plaasvervanger agter die oond, die indrukwekkende Justin Phillips, oor is vir die drie na ’n kwiksilwer-breekslag.

Nou is dit tyd om te toer en aanstaande naweek se wedstryd teen die Hurricanes is skielik iets om na uit te sien. 

Wie sou hom dit kon indink? Ná die treurmare teen die Bulle in die Stormers se eerste wedstryd?

Puntemakers: 

Stormers 35 (16): Drieë: Dan du Plessis, Siya Kolisi, Herschel Jantjies, Justin Phillips. Doelskoppe: SP Marais (2), Jean-Luc du Plessis. Strafdoele: Marais (3).

Jaguares 8 (8): Drieë: Bautista Delguy. Strafdoel: Joaquin Diaz Bonilla. 

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Stormers  |  Superrugby  |  Jaguares
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.