Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers moet Bok-slagters trotseer

Die meeste van die Argentynse span wat verlede jaar met die Springbokke in Mendoza afgereken het, is in die Jaguares se 23-tal vir Vrydagaand se Superrugby-wedstryd teen die Stormers op Nuweland gekies.

Veertien van hulle om presies te wees, waarvan agt in die beginspan.

Ons weet hy kan hardloop, maar die Stormers-vleuel SP Marais se verdediging gaan meer onder die soeklig wees terwyl hy die Jaguares-blits Bautista Delguy Vrydagaand in toom moet probeer hou. Foto: Gallo Images

Dit sluit in die blitse Bautista Delguy en Ramiro Moyano, wat drie van die Poemas se vier drieë in daardie toets gedruk het. Hulle word in die agterste driehoek aangevul deur die kaptein, Joaquin Tuculet, wat tuis is in die geselskap van die wêreld se voorste heelagters.

Die Stormers sou ook kennis geneem het van die rolmaalbewegings wat vir die Jaguares twee drieë opgelewer het in verlede naweek se nederlaag van 39-47 teen die Leeus op Ellispark.

Daardie telling dui natuurlik daarop dat die Jaguares nie watwonders verdedig het nie, maar hul afrigter, Gonzalo Quesada, het vooraf aangedui dat hy sy sterkste 23-tal vir die wedstryd teen die Stormers terughou.

Die rede daarvoor was die ongemaklike reisreëlings Suid-Afrika toe, wat beteken het dat die Jaguares etlike ure in Brasilië moes deurbring voordat hulle Suid-Afrika toe kon vlieg. Dit was amper asof Quesada dae voor afskop in die Goudstad reeds ’n wit vlag gehys het. Nou is die messe geslyp.

Ondanks die vele toetsspelers in hul geledere, is dit moeilik om te weet presies wat om te verwag. Agterlangs het die Argentyne opwindende spelers en voorlangs is hulle sterk, maar die oorgang van Mario Ledesma na Quesada as afrigter is nog ’n onbekende faktor.

Onder Ledesma het die Jaguares verlede jaar al vier wedstryde op hul toer van Nieu-Seeland en Australië gewen en dis geen verrassing nie dat hy later in die jaar as die Poemas se breier aangestel is.

Wat wel sonder vrees vir teenspraak gesê kan word, is dat hulle op papier vir enige span hoofbrekens kan besorg.

Hierdie wedstryd behoort ook ’n bietjie meer oor die Stormers te verklap as wat ons tot nou gesien het. Hulle het laer getrek ná die vernedering teen die Bulle en die Leeus en Haaie as’t ware in die loopgrawe verslaan.

Ego speel nie só ’n bepalende rol in wedstryde tussen oorsese spanne nie, en daar gaan waarskynlik meer verbeeldingryke vrae van die Stormers op die verdediging gevra word.

Vir die Kapenaars bied dit egter ook ’n geleentheid om hul selfvertroue te lig voordat hulle Sondag op die vliegtuig klim vir ’n toer van Nieu-Seeland en Australië. As jy met ’n spul Bok-slagters kan afreken, behoort jy darem ’n paar seges te kan kry uit wedstryde Doer Onder teen die Hurricanes, Blues, Reds en Rebels.

Die spanne is:

Stormers: Dillyn Leyds, Sergeal Petersen, Dan du Plessis, Damian de Allende, SP Marais, Jean-Luc du Plessis, Herschel Jantjies, Juarno Augustus, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (k), JD Schickerling, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Scarra Ntubeni, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Bongi Mbonambi, Corné Fourie, Wilco Louw, Cobus Wiese, Jaco Coetzee, Justin Phillips, Ruhan Nel, Damian Willemse. 

Jaguares: Joaquin Tuculet (k), Bautista Delguy, Matias Moroni, Bautista Ezcurra, Ramiro Moyano, Joaquin Diaz Bonilla, Tomas Cubelli, Javier Ortega Desio, Tomas Lezana, Pablo Matera, Tomas Lavanini, Guido Petti, Santiago Medrano, Julian Montoya, Mayco Vivas. PLAASVERVANGERS: Gaspar Baldunciel, Santiago Garcia Botta, Enrique Pieretto, Matias Alemanno, Juan Manuel Lequizamon, Martin Landajo, Juan Cruz Mallia, Sebastian Cancelliere.

  • Skeidsregter: Jaco Peyper
  • Assistent-skeidsregters: Marius van der Westhuizen en Rasta Rasivhenge
  • TV-skeidsregter: Christie du Preez
  • Afskop: 19:10

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Stormers  |  Superrugby  |  Nuweland  |  Jaguares
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.