Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers net-net Leeus se baas

’n Leë Nuweland-stadion en die Stormers-rugbyspan is beslis nie beste maatjies nie.

Dit het Saterdagaand se stotter-sege van 23-17 (rustyd 9-10) oor die Leeus gewys. Die heiligdom van Kaapse rugby wemel gewoonlik van toeskouers wat luidkeels die tuisspan aanspoor en liries is oor amper elke beweging.

Die Stormers se Warrick Gelant gee die bal Saterdag op Nuweland aan. Foto: Jaco Marais

Gewoonlik is die skare daardie 24ste speler vir die span, maar die afwesigheid van die kreet “Stormers Jou Lekker Dêng! Stormers Jou Lekker Dêng!” het duidelik ’n effek op hulle gehad. Gewoonlik sal dit die Kapenaars aanvuur om hul voet stywer op hul opponent se strot te trap wanneer hulle in beheer is óf dit help die span om van die krytvloer af op staan wanneer dit lyk of hulle ’n uitklophou gekry het.

Maar Saterdagaand was hulle omtrent so uit pas met mekaar soos wat die byklanke van jubelende ondersteuners in die stadion oor die luidsprekers was. Byvoorbeeld as daar ’n skrum was, nog voor die manne mekaar vasgevat het om te sak, was daar ’n gejubel oor die luidsprekers. Met die skrums, wat gelykop was in die eerste helfte, was daar ook luidkeels gefluit en geskree as byklanke, maar min aksie het plaasgevind.

Daar was ook maar min aksie tussen die spanne in die eerste helfte te sien. Die Leeus is pal by die afbreekpunte gestraf, terwyl die Stormers soos afkophoenders gespeel het. Eintlik sou afkophoenders dalk ’n bietjie beter as die tuisspan gevaar het.

Niks het vir die Stormers gewerk nie, hul verdediging was skraps en die Leeus het pal daardie opskietlyn omseil. Hulle moes baie beter gedoen het om punte aan te teken met die kanse wat hulle geskep het.

Soos daardie eerste drie deur Rabs Maxwane, die Leeus se linkervleuel. Hy het die Bok-flank Jaco Kriel in sy kwartgebied in ’n gaping gesit met ’n goeie aangee. Kriel het ore platgetrek langs die kantlyn en sy kaptein, Elton Jantjies, aan die binnekant gevind. Jantjies het op sy beurt met sagte handjies vir Maxwane weggestuur wat onder die pale gaan druk het.

Jantjies was heel aand puik vir sy span en het die toutjies agterlangs getrek. Sy hangskoppe was goed, sy lynskoppe was uitstekend veral as daar druk op hom deur die Stormers-skrumskakel Herschel Jantjes geplaas is. En hy het hier en daar met ’n dwarsskop die Stormers-verdediging omtrent onkant betrap.

Die flink diens wat die Leeus-generaal van sy adjudant Morné van den Berg gekry het, is wat hom in so ’n goeie posisie geplaas het. Van den Berg was veral in die eerste helfte ’n vonk agter die Leeus-pak wat gedreig het om die Stormers se tuiste af te brand.

In die skrums het die Johannesburgse trop ook duidelik hul huiswerk gedoen nadat hulle vroeër verlede maand in ’n opwarmwedstryd deur die Stormers goed vasgevat is in dié afdeling van die spel. Maar dié keer het hulle stewig gestaan teen die Bok-voorry van die tuisspan.

Sake het aansienlik beter met die Stormers in die tweede helfte gegaan en dis nie te betwyfel dat die span se afrigter, John Dobson, met die haardroeër onder sy spelers ingeklim het nie.

Senter-drieë deur Rikus Pretorius, wat ’n bal onderskep het, en Dan du Plessis wat ná ’n vinnige strafskop danksy ’n plat aangee oor die lyn gebeur het, het die gety in die Stormers se guns geswaai. Met die vars bene op die veld, het die tuisspan ook weer begin speel soos wat hul ondersteuners weet hulle kan.

Dié twee drieë het welkome momentum aan die span besorg en met net minder as 15 minute ook ’n voorsprong van 23-10 beteken.

Die Leeus wou egter nie bes gee nie en het die Stormers met skoppe gepeper om veldposisie te kry. ’n Goeie breekslag deur Burger Odendaal, Leeus-senter, het tot ’n drie vir Jantjies gelei om sy span met agt minute oor terug in die stryd te kry. Hul terugvegpoging is ’n getuigskrif van die durf waarmee die span die hele aand gespeel het, al het hulle gesukkel om punte in die eerste 30 minute van die tweede helfte aan te teken.

Heldhaftige verdediging met die laaste beweging van die stryd het die wedstryd uiteindelik vir die tuisspan beklink met die Leeus wat net-net kortgekom het om daai verdoelde drie te kry wat hulle ’n sege sou besorg.

Die Stormers-losskakel, Damian Willemse, wat ’n skaflike aand met sy skopvoet pale toe beleef het, is reg teen die einde met ’n noodhulpkarretjie van die veld gery met wat lyk na ’n beenbesering. Dobson sal hoop sy generaal is nie te ernstig beseer nie anders kan dit ’n groot terugslag vir sy span se veldtog wees.

Puntemakers: Stormers 23 (9): Drieë: Rikus Pretorius, Dan du Plessis. Doelskoppe: Damian Willemse (2). Strafdoele: Willemse (3). Leeus 17 (10): Drieë: Rabs Maxwane, Elton Jantjies. Doelskoppe: Jantjies (2). Strafdoel: Jantjies.

Meer oor:  Kaapstad  |  Nuweland  |  Rugby  |  Superrugby Unlocked  |  Stormers  |  Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.