Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers sal wraakgedagtes hê

Dit maak die Stormers waarskynlik steeds seer dat die Haaie hulle verlede jaar in die doodsnikke van hul laaste ligawedstryd uit die Superrugby-reeks geskakel het.

Met dié herinnering in die agterkop kan Sondag se superheld-wedstryd tussen dié spanne, soos die Durbaniete se afrigter, Sean Everitt, inderdaad ook gesê het, nie “vriendskaplik” wees nie.

’n Groot uitdaging wag op die Stormers-senter Rikus Pretorius in sy tweestryd met die Haaie se André Esterhuizen. Foto: Gallo Images

Everitt en sy Kaapse eweknie, John Dobson, sal albei hul voorste spelers van beserings wil beskerm, maar terselfdertyd ook ritme wil vind voordat die Superreeks oor twee naweke afskop.

Die Haaie se eerste ligawedstryd is op 31 Januarie teen die Bulle in Durban, terwyl die Stormers op 1 Februarie vir die Hurricanes op Nuweland gasheer speel.

Van die twee spanne het die Stormers waarskynlik vir daardie eerste naweek die taaiste uitdaging en dis veral belangrik dat hulle ter voorbereiding kollektief goed verdedig. Dat die Hurricanes hulle in daardie aspek gaan toets, is ’n gegewe.

Op hul sterkste spog die Haaie onder die Suid-Afrikaanse spanne waarskynlik met die gevaarlikste agterlyn. Everitt het ’n groep eerder as beginspan bekendgemaak, maar opwindende spelers soos Makazole Mapimpi, Sbu Nkosi, Lukhanyo Am, Aphelele Fassi en Curwin Bosch is almal daar.

Die bielie-binnesenter André Esterhuizen sal ook gretig wees om sy stempel af te druk nadat hy net-net nie Suid-Afrika se Wêreldbeker-groep gehaal het nie. Hy is altyd ’n faktor in die stryd om die voordeellyn.

’n Tweestryd met Esterhuizen is ook ’n goeie geleentheid vir die Stormers se 21-jarige binnesenter, Rikus Pretorius, om te wys waartoe hy in staat is. Pretorius gaan die voorreg hê om in vanjaar se reeks onder die Walliese legende Jamie Roberts se vlerk te speel voordat hy waarskynlik die Westelike Provinsie se nr. 12-trui syne gaan maak in die Curriebeker-reeks.

Gaan die Stormers die Haaie-blits Makazole Mapimpi in sy spore kan stuit in Sondag se superheld-wedstryd in Soweto? Foto: Gallo Images

Pretorius is self ’n lekker fisieke speler, maar nie een wat altyd kontak soek nie. Dawie Snyman, die Stormers se agterlynafrigter, meen Pretorius het soortgelyke eienskappe as Springbokke soos Damian de Allende en Jan Serfontein.

“Hy is ’n fisieke speler, wat die bal baie goed versprei. Een van sy groot sterk punte wat mense nog nie gesien het nie, is sy verdediging. Hy lees die spel goed en is ’n goeie kommunikeerder,” sê Snyman.

“Rikus vaar baie goed in die voorseisoen en het al die eienskappe wat ons graag van ’n binnesenter wil sien. Ons weet hy gaan nog baie wedstryde vir die Stormers speel.”

Dobson sal Springbokke soos Siya Kolisi, Damian Willemse, Herschel Jantjies en Steven Kitshoff nie te lank op die veld wil hou nie. Die belangrike ding is dat hulle genoeg speel om skerp te wees vir die eerste wedstryd in hul veldtog.

Ditto Everitt met Esterhuizen, Bosch, Nkosi, Am en Mapimpi.

Soos enige voorseisoense wedstryd, kan hierdie een mettertyd in die tweede helfte in ’n getjommel ontaard, maar dit behoort strykdeur ’n klipharde gespook te wees.

* Stormers: Dillyn Leyds, Sergeal Petersen, Ruhan Nel, Rikus Pretorius, Edwill van der Merwe, Damian Willemse, Herschel Jantjies, Siya Kolisi (k), Ernst van Rhyn, Nama Xaba, David Meihuizen, Salmaan Moerat, Neethling Fouché, Scarra Ntubeni, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Chad Solomon, Kwenzo Blose, Wilco Louw, Hilton Lobberts, Ben-Jason Dixon, Thys Kitshoff, Godlen Masimla, Jean-Luc du Plessis, Seabelo Senatla, Michal Haznar, David Kriel.

Haaie (groep): Voorspelers: Dylan Richardson, Henco Venter, Hyron Andrews, James Venter, JJ van der Mescht, John-Hubert Meyer, Kerron van Vuuren, Le Roux Roets, Mzamo Majola, Ox Nche, Ruben van Heerden, Sikhumbuzo Notshe, Tera Mtembu, Thomas du Toit, Tyler Paul.

Agterspelers: André Esterhuizen, Aphelele Fassi, Boeta Chamberlain, Curwin Bosch, Jeremy Ward, Louis Schreuder, Lukhanyo Am, Lwazi Mvovo, Madosh Tambwe, Makazole Mapimpi, Marius Louw, Sanele Nohamba, Sbu Nkosi.

Skeidsregter: AJ Jacobs.

Assistent-skeidsregters: Cwengile Jadezweni en Griffon Colby.

TV-skeidsregter: Willie Vos.

Afskop: 13:00 op SS 1.

Meer oor:  Soweto  |  Rikus Pretorius  |  Superrugby  |  Haaie  |  Sean Everitt  |  Stormers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.