Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers se bank skuld groter impak

Die Stormers se plaasvervangers is aangesê om hul sokkies op te trek met die oog op Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Argentynse Jaguares op Nuweland.

Dawie Snyman, die Stormers se agterlynafrigter, het Maandag onthul dat die gebrek aan impak deur spelers 16 tot 23 in die afgelope naweek se broekskeursege van 33-30 oor die Leeus ’n bron van kommer was.

Herschel Jantjies se terugkeer is vir die Stormers ’n yslike hupstoot vir Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Jaguares op Nuweland. Foto: Gallo Images

“Ons is teleurgesteld met die ouens op die bank oor hul impak. Ons het in die laaste 20 minute nie genoeg energie gehad nie. Ons het beheer oor die wedstryd gehad, maar dit teruggegee aan die Leeus en hulle het momentum gekry,” het Snyman Maandag by die Westelike Provinsie se Sentrum vir Uitnemendheid in Bellville gesê.

“Die ouens wat van die bank af opgestuur word, het ’n verantwoordelikheid, want jy gaan jou groot wedstryde in die laaste 10 of 5 minute wen. Ons verwag meer van hulle.”

Die Stormers was vroeg in die tweede helfte met 26-15 voor, maar drieë in die 69ste en 73ste minuut deur onderskeidelik Elton Jantjies en Dan Kriel het die Leeus die voorsprong laat neem.

Die Argentyne is taai. Hulle draf altyd met passie op en dit gaan soos ’n toets wees. Dit gaan neerkom op wie fisieke oorheersing kan kry.
Dawie Snyman

Ruhan Nel het in die doodsnikke vir die Stormers ’n sierlike drie afgerond om die wedstryd te wen.

Snyman erken dat spelers soos JD Schickerling en Cobus Wiese nog besig is om op dreef te kom nadat hulle ’n geruime tyd op die krukkelys was.

“JD het voor Saterdag nog nie vanjaar gespeel nie. Hy het baie aan sy fiksheid en herstel van die skouerbesering gewerk, maar dit raak ’n ander storie wanneer dit by kontak in wedstryde kom. Jy gaan in jou eerste wedstryd terug sukkel as dit op die Hoëveld is,” sê hy.

“Cobus is duidelik ook nog nie topfiks nie. Ons wil kyk hoe ons daardie ouens so gou moontlik skerp kan kry.”

Dawie Snyman, die Stormers se agterlynafrigter. Foto: Gallo Images

Snyman sê hy soek ’n hoër werkverrigting en meer vaart van die plaasvervangers.

“Elton het gedruk omdat ons nie die ruimte toegemaak het nie. Daar was ’n groot gaping tussen Frans (Malherbe) en Cobus Wiese. As jy jouself in ’n swak posisie plaas deur nie vroeg genoeg te werk nie, gaan jy oorheers word.”

Die Stormers kry vandeesweek verligting met die terugkeer van die Springbok-skrumskakel Herschel Jantjies en losvoorspeler Jaco Coetzee.

Hul onbeskikbaarheid vir die wedstryd teen die Leeus was vooraf ’n groot bron van kommer, want die Stormers het eensklaps hul gevaarlikste aanvallende speler en balans in die losvoorspeler-kombinasie prysgegee.

Coetzee se vermoë as baljagterflank kan van kritieke belang wees in die kragmeting met die Jaguares, met die wenner wat die voorloper in die Suid-Afrikaanse groep sal wees.

As die Stormers die Jaguares met ’n bonuspunt klop, sonder dat die besoekers ’n ligapunt verower, sal hulle 8 punte voor die Argentyne wees.

“Die Argentyne is taai. Hulle draf altyd met passie op en dit gaan soos ’n toets wees. Dit gaan neerkom op wie fisieke oorheersing kan kry,” sê Snyman.

“Ons is opgewonde daaroor, want ons beskou onsself as ’n span wat opgewasse vir ’n fisieke stryd is en spanne ook in daardie area onder druk kan plaas.”

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Dawie Snyman  |  Herschel Jantjies  |  Jaguares  |  Stormers  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.