Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers se dr. Jamie voor in korona-geveg

Vergeet van Airbnb en maak jou woonstel beskikbaar vir die geveg teen die Covid-19-pandemie.

Dís die pleidooi van die voormalige Walliese-toetssenter Jamie Roberts, wat syne in Cardiff beskikbaar gestel het aan ’n dokter wat in die voorste linie baklei om mense wat dié dodelike virus onder lede het te help.

Jamie Roberts (links) in aksie vir die Stormers. Foto: Gallo Images

Roberts (33), wat aan die Stormers gekontrakteer is vir die Superrugby-reeks, het ’n woonstel in die Walliese hoofstad wat hy gewoonlik aan vakansiegangers uitverhuur.

“Ek het sedert Vrydag ’n dokter daar wat vir die NHS (Britse nasionale gesondheidsorgdiens) in Cardiff werk. Ek het kansellasies op Airbnb gekry,” het Roberts, wat self as ’n mediese dokter gekwalifiseer het, aan die BBC gesê.

“Daar gaan baie werkers van die NHS wees wat nie hul families aan risiko sal wil blootstel deur tussen hospitale en hul tuistes te beweeg nie, so hulle gaan akkommodasie nodig hê.

“So enigiemand met ’n eiendom wat leeg staan kan help. Ek’s seker daar is baie kansellasies op Airbnb. Ek wil mense aanmoedig om dieselfde te doen. Die NHS het al die hulp nodig wat hy tans kán kry.”

Roberts het ondanks die opskorting van die Superrugby-seisoen besluit om in Suid-Afrika te bly. Dié veteraan van 2009 se toer deur die Britse en Ierse Leeus na Suid-Afrika verwag nie dat die reeks hervat gaan word nie.

“Ek twyfel of ons weer gaan speel hierdie seisoen,” sê hy.

“Mense se gesondheid is die belangrikste ding. Ek’s nie seker wat op my sal wag as ek terugkeer huis toe nie en met die huidige reëls sal ek nie kan terugkeer Suid-Afrika toe nie.”

* Roberts het verlede week ook in ’n onderhoud met die Daily Mail sy kommer uitgespreek oor die nagevolge indien die koronavirus Suid-Afrika se townships tref.

“Die groot bekommernis in Suid-Afrika is die gehalte van die mediese sorg en mense se toegang daartoe,” sê hy.

“Ek’s nog net ’n paar maande hier. Jy hoop dat iets wat só vinnig soos die koronavirus versprei nie by die townships uitkom nie. Dis die grootste bekommernis hier.”

Roberts hoop hy het nog nie die laaste hoofstuk van sy roemryke loopbaan by die Stormers geskryf nie. Trouens, hy kan dalk aanstaande jaar weer vir die Kaapse span opdraf.

“Die Stormers is die Britse en Ierse Leeus se eerste teenstander op die toer van 2021 en as ’n rugbyromantikus sal dit vir my lekker wees om teen die Leeus te speel nadat ek hulle in 2009 verteenwoordig het,” sê hy.

“Ons praat daaroor. Die geleentheid om aan te hou met hierdie avontuur, of dalk Amerika en Japan te ervaar, sal heerlik wees. Daar is ’n paar opsies.” – TeamTalk, Sportredaksie

Meer oor:  Koronavirus  |  Stormers  |  Cardiff  |  Jamie Roberts  |  Superrugby  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.