Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Feeney sien uit na Kiwi-herontmoeting
Paul Feeney. Foto: Gallo Images

Dit is dalk nog ’n hele ruk voor die kwarteindronde van vanjaar se Superrugbyreeks beslis word, maar die Stormers se hulpafrigter, Paul Feeney, sien reeds uit na ’n herontmoeting met ’n span van sy geboorteland.

“Ons gaan of die Chiefs of die Hurricanes in die kwarteindronde hier in Kaapstad pak, sê die Nieu-Seelandse vaardigheidsghoeroe.

“Ons sal gereed vir enige van daardie spanne wees. Ons het reeds die Chiefs hier geklop en ons kan onsself baie ongelukkig ag dat ons die wedstryd teen die ’Canes verloor het.”

Ofskoon die Stormers nog vier wedstryde in die gereelde seisoen oor het, is Feeney vol selfvertroue dat die Kaapse span sy konferensie in die eerste plek gaan afsluit.

Die Stormers pak die naweek die Haaie in Durban en ’n oorwinning daar kan hul plek bo-aan die puntelys van die Afrika 1-konferensie reeds beklink.

Die Stormers spog met 30 punte, met die sukkelende Bulle met 15 punte tweede.

Verloor die Pretorianers die naweek hul wedstryd teen die Hurricanes is dit neusie verby vir hul kanse om die Stormers in te haal.

Die Stormers moet ook ’n massiewe insinking beleef (met ander woorde al vier hul wedstryde verloor) vir die Bulle om enige kans te staan om die Kapenaars in te haal.

Nog ’n rede vir Feeney se selfvertroue, is die feit dat die Stormers op hul tuisveld, Nuweland, gewys het hulle kan Nieu-Seelandse spanne klop. Hulle het die afgelope naweek die Blues met 30-22 die loef afgesteek en maak nou gereed om die Haaie Saterdag in Durban te pak.

Die rede vir Feeney se opgewondenheid oor ’n ontmoeting met ’n Kiwi-span in die uitklopfase van die kompetisie, is dat hy wil hê die Kaapse span moet wys hulle het groot vordering met die vestiging van 'n nuwe spelpatroon gemaak ná die harde lesse wat op toer geleer is.

“Ons het vyf naweke agtereenvolgens teen die vyf voorste spanne gespeel. Dit was die Chiefs, Leeus, Crusaders, Highlanders en Hurricanes,” sê Feeney.

“Ons het in daardie wedstryde uitgevind dat klein foutjies deur dié kliniese spanne gestraf sal word. Om teen die ’Saders, Highlanders en ’Canes op agtereenvolgende naweke te speel, is seker die moeilikste toer waarvoor jy kan vra.

“Ons het op daardie toer uitgevind wat ons tekortkominge is en dit is glad nie ’n slegte ding as jy met sulke groot tellings verloor nie. Ons kon besluit het om konserwatief te speel om die tellings laag te hou, maar dit is ’n negatiewe benadering tot die spel.”

Volgens Feeney moet die Stormers leer om nie bang te wees om foute op die veld te begaan nie. Hy glo ook dat die Stormers, en ander Suid-Afrikaanse spanne, vanjaar groot treë vorentoe gegee het in die ontwikkeling van ’n meer aanvallende manier van speel.

“Wat ons van die spelers vra, is om besluite te neem en nie bang te wees nie. Ek dink ons is besig om in die regte rigting te beweeg en hopelik sien julle (die media) en die ondersteuners dit raak.”

Die Nieu-Seelander erken nietemin die naweek wag ’n groot uitdaging op die Stormers, met die Haaie wat oor ’n baie fisieke pak voorspelers beskik.

“Ek dink die Haaie het ’n baie goeie span, sê hy. Hulle was ongelukkig om teen die Kings te verloor.”

Superrugby-bepalings

Superrugby-uitslae

Superrugby-puntelyste

Meer oor:  Stormers  |  Superrugby  |  Paul Feeney
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.