Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers se heil Vrydag in jong hande
Ernst van Rhyn maak Vrydag in Melbourne sy buiging vir die Stormers. Foto: Gallo Images

Kommer oor leierskap by die lynstane is die rede vir Robbie Fleck, afrigter van die Stormers, se verrassende keuse van Ernst van Rhyn op flank vir Vrydag se Superrugby-wedstryd teen die Rebels in Melbourne.

Die verwagting was dat Fleck vir Jaco Coetzee flank toe sou skuif ná die besluit om Siya Kolisi te laat rus. Juarno Augustus sou dan as die agtsteman kon begin, maar die verlies van etlike ander kandidate om die lynstaantekens te kan gee – Schickerling, Pieter-Steph du Toit, Chris van Zyl en Eben Etzebeth – het Fleck ’n ander koers laat inslaan.

“Ernst is self ’n goeie ranker en sal saam met Kobus van Dyk die lynstane beheer. Met lynstane in gedagte, was dit belangrik om Ernst in die beginspan te hê,” het Fleck Woensdag in ’n onderhoud uit Melbourne gesê.

“Jaco vaar goed as agtsteman en as ons nie beserings gehad het nie, sou ons hom graag ’n kans op nr. 6-flank wou gee. Dit was aanvanklik die plan, maar dinge het nie so uitgewerk nie.”

Van Rhyn maak sy buiging vir die Stormers.

Die Stormers speel voorlangs ook met ’n nuwe slot- en voorry-kombinasie. Steven Kitshoff keer terug op loskopstut en is in Kolisi se afwesigheid ook die Stormers se kaptein. Nóg twee Springbokke, die haker, Bongi Mbonambi en vaskopstut, Wilco Louw, sak saam met hom in die voorry.

Met Van Zyl nou óók op die krukkelys, is die jongelinge Salmaan Moerat en Cobus Wiese die slotpaar.

Fleck sê om vir Kitshoff die leisels te gee, was ’n maklike besluit.

As hy praat, luister die spelers én die bestuurspan. Die junior en senior spelers kom goed met hom oor die weg. Hy was die natuurlike keuse.
Robbie Fleck

“Kitsie is sedert sy terugkeer uit Frankryk (van Bordeaux-Begles af verlede jaar) deel van ons leiersgroep. Soos Pieter-Steph is hy ’n stil leier wat deur sy voorbeeld lei – of hy nou oefen of speel. Daar is vir hom baie agting in die groep. As hy praat, luister die spelers én die bestuurspan. Die junior en senior spelers kom goed met hom oor die weg. Hy was die natuurlike keuse,” het Fleck gesê.

Terwyl hy uit baie oorde onder druk was om vir Damian Willemse van heelagter af losskakel toe te skuif in Jean-Luc du Plessis se plek, was dit volgens Fleck nie ’n oorweging nie.

Damian Willemse. Foto: Gallo Images

“Met al die veranderings wat ons weens beserings moes maak, moet ons kontinuïteit as moontlik behou. Ons kan dít in die agterlyn bewerkstellig en wil ons toer op ’n hoë noot afsluit,” het hy gesê.

Du Plessis het darem weer sy gereelde skakelmaat, Herschel Jantjies, langs hom. Jantjies was verlede week teen die Reds op die plaasvervangersbank met Justin Phillips wat ’n kans in die beginspan gegee is.

Die voormalige Blitsbok Seabelo Senatla is op die plaasvervangersbank in die plek van SP Marais.

* Die Stormers-span is: Damian Willemse, Sergeal Petersen, Ruhan Nel, Damian de Allende, Dillyn Leyds, Jean-Luc du Plessis, Herschel Jantjies, Jaco Coetzee, Kobus van Dyk, Ernst van Rhyn, Cobus Wiese, Salmaan Moerat, Wilco Louw, Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff (k). PLAASVERVANGERS: Scarra Ntubeni. Corné Fourie, Frans Malherbe, Johan du Toit, Juarno Augustus, Justin Phillips, Josh Stander, Seabelo Senatla.

Meer oor:  Steven Kitshoff  |  Chris Van Zyl  |  Melbourne  |  Kaapstad  |  Kaptein  |  Rugby  |  Superrugby  |  Rebels  |  Stormers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.