Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers se huis brand, sê Wakefield

Die Westelike Provinsie se direksie sal die Stormers se gesukkel in vanjaar se Superrugbyreeks aan die einde van dié maand op ’n vergadering breedvoerig bespreek.

Vir eers, sê die WP Rugbyunie se president, Thelo Wakefield, sal die span die ruimte gegun word om Saterdag teen die Leeus sy naam in ere te herstel ná die afgelope naweek se skokloesing teen die Sunwolves.

Thelo Wakefield / Foto: Gallo Images

“Die veldtog sal ná afloop van die reeks in oënskou geneem word. Daar sal dán gekyk word na wat gewerk het en wat nie en waar daar skoongemaak moet word en waar nie,” sê Wakefield.

“Dit sal beslis aan die einde van die maand by die direksie se vergadering bespreek word, sonder dat die afrigters teenwoordig is.

“Dit gaan nie ’n vergadering van ’n uur wees nie. Ek soek ’n deeglike vergadering waar almal daartoe verbind is om die kwessie deeglik deur te trap.

“Die Stormers se huis brand. Ons moet dit versterk en weer woonbaar maak.”

* Intussen kon die Stormers weens die sonsteek wat van hul spelers in Hongkong opgedoen het, nie Maandag betekenisvolle tyd op die oefenveld deurbring voor Saterdag se wedstryd teen die Leeus op Nuweland nie.

“ ’n Paar van die spelers was ná die wedstryd teen die Sunwolves aan ’n drup gekoppel en het baie erg aan sonsteek gely,” sê die Stormers se afrigter, Robbie Fleck.

“Toe ek met die rustyd by ons kleedkamer instap, het dit soos ’n oorlogsone gelyk. Die ouens was in emmers vol ys en was vir ’n paar minute net doodstil.”

Robbie Fleck / Foto: Gallo Images

Fleck meen die feit dat die Sunwolves dikwels in Singapoer oefen en speel, het hulle beter voorberei op die ekstreme toestande wat in Hongkong aangetref is. Die Stormers was met die rustyd met 17-10 voor, maar het mettertyd uitgesak en met 23-26 verloor.

“Ons het 19 keer omkeerbesit afgestaan waarvan 16 hanteerfoute was. Die oorgrote meerderheid was in die laaste halfuur van die wedstryd,” sê Fleck.

“Toe dit 23-23 was, het die Sunwolves ’n paar keer oortree wat strafskoppe vir ons moes gewees het, maar alle krediet aan hulle. Hulle het die besit omgekeer en die wedstryd van daar gewen.”

Terwyl ’n plek in die uitspeelrondes die Stormers nie beskore gaan wees nie, beklemtoon Fleck dat die Kapenaars se veldtog nog nie verby is nie.

“Die puntelys is nie relevant nie. Ons motivering is yslik. Ons is uiteraard teleurgesteld, maar steeds in die wedloop. Ons wil na die beste van ons vermoëns speel en baklei vir als wat ons in glo.”

* Fleck is Maandag uitgevra oor berigte wat die WP se Curriebeker-afrigter, John Dobson, aan ’n pos by die Ierse span Connacht verbind. Dobson het verlede jaar ’n nuwe kontrak met die WP gesluit.

“Dis die eerste wat ek daarvan hoor. John is ’n uiters suksesvolle afrigter van die WP, wat ons baie graag wil behou,” sê Fleck.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Thelo Wakefield  |  Robbie Fleck  |  Stormers  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.