Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Paul Feeney prys Rhule se flair

Gegewe sy gebrekkige verdediging vir die Cheetahs en Springbokke verlede jaar, het baie oë gerek toe die Westelike Provinsie die vleuel Raymond Rhule na Kaapstad gelok het.

Raymond Rhule. Foto: Gallo Images

Maar, sê die Stormers-hulpafrigter Paul Feeney, daar is baie waardering vir Rhule se vertonings in vanjaar se Superrugby-reeks. Daarmee saam word hy ook as ’n uiters professionele speler beskou.

“Raymond maak dalk nou en dan ’n fout, maar sy aangeë in kontak is soms puik. Hy het teen die Highlanders vir Chris van Zyl ’n drie geskep. In ’n teenaanval (teen die Reds) Saterdag het hy ’n teenstander aan die buitekant geklop en vir EW Viljoen in besit gestel voordat Dewaldt Duvenage gaan druk het,” sê Feeney.

“Hy het vir ons flair gegee en is super-professioneel in die manier wat hy oefen. Die harde werk wat hy deur video-ontledings doen het van die ander ouens ook aangesteek. Ek is beïndruk deur hom. Hy het al baie goeie dinge gedoen.”

En wat dan van Rhule se droogmakery op die verdediging?

“Hy het al ’n paar duikslae verbrou, maar nie meer as enigiemand anders nie,” sê Feeney.

Hy het vir ons flair gegee en is super-professioneel in die manier wat hy oefen.
Paul Feeney

“Verdediging in ongestruktureerde spel is deel van my portefeulje en ek weet wie duikslae verbrou. Raymond het duikslae op Rieko Ioane en Waisake Naholo verbrou. Hy gaan nie die laaste ou wees om dít te doen nie. Dis baie onregverdig om vir Raymond uit te sonder.”

Benewens sy skeppende hand in Duvenage se drie Saterdag, het Rhule ook afgerond ná ’n mooi agterlynbeweging en berekende steekskoppie deur Craig Barry.

“Die besluitneming en die skoppie was puik. Raymond het ook goed afgerond. Ek is bly die manne soek die geleenthede vir sulke skoppies. Ons het meer daarvan nodig,” sê Feeney.

In die geheel is hy egter teleurgesteld in die span se afronding teen die Reds.

“Ons het vir 15 minute in hul kwartgebied kamp opgeslaan en die geleentheid om ’n bonuspunt te verdien was daar. Wie weet hoe belangrik dit later in die toernooi kan wees?” vra hy.

“My frustrasie is vererger met die drie wat 98 m van ons doellyn af begin het. Ons moes vyf ligapunte gekry het, maar dit was uiteindelik vier teen die Reds se een. Ons beweeg darem in die regte rigting en speel soms goeie rugby.”

* Intussen het Feeney bevestig dat die kanse goed is dat die Springbokke Jano Vermaak (skrumskakel) en Dillyn Leyds (heelagter-vleuel), asook SP Marais (heelagter) fiks behoort te wees vir Saterdag se kragmeting met die Bulle op Loftus.

’n Besering aan Duvenage beteken dat Vermaak waarskynlik dadelik in die 23-tal opgeneem sal word. Dit sal ook nie verbaas nie indien Leyds en Marais by Rhule in die agterste driehoek aansluit.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Stormers  |  Raymond Rhule  |  Paul Feeney
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.