Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers se ‘Trokkie’ tel stoom op

Dis nou al meer as twee en ’n halwe jaar sedert Juarno (Trokkie) Augustus as die wêreld se voorste o.20-speler gekroon is, maar sy loopbaan kon op senior vlak nog nie momentum kry nie.

Juarno Augustus gesels vandeesweek met die media by die Stormers se oefengeriewe in Bellville. Foto: Gallo Images

’n Litteken van ’n lang sny op sy regterboarm verklap waarom, maar die afgelope naweek se vertoning teen die Leeus op Ellispark was propvol belofte met die oog op die onmiddellike en langtermyntoekoms.

Augustus het met brute krag oor die doellyn gebeur en ook sy slag as ’n spelskepper gewys.

“Ek is baie dankbaar vir die geleentheid om weer te kan speel. Ek het in die voorseisoen ’n enkelbesering opgedoen en voor dit was daar my arm. Maar die beserings is iets van die verlede en ek voel goed,” sê hy.

Augustus se groot troefkaart as speler is sy vermoë om momentum met die bal in die hand te kry. As die doellyn wink, gaan een of dalk nie eers twee spelers hom maklik keer nie.

Vir die Stormers se eerste drie in die oorwinning oor die Leeus was daar drie teenstanders voor hom en die doellyn nadat hy die bal van agter ’n losskrum opgepik het.

“Toe ek die bal kry, was die enigste ding in my gedagtes om oor die doellyn te kom. Toe ek die doellyn sien, het ek my arm uitgestrek om die bal te plant,” sê hy.

“Dit was moeilik om op die Hoëveld te speel, maar ek het deurgedruk en my bes probeer, en ons het gewen.”

Juarno Augustus sê hy leer baie deur in ’n losvoorspeler-kombinasie saam met Wêreldrugby se Speler van die Jaar, Pieter-Steph du Toit, te speel. Foto: Gallo Images

Die Stormers het nie Saterdag op Nuweland die Hoëveld as ’n bykomende teenstander nie, maar wel ’n sterker teenstander – verlede jaar se naaswenners, die Jaguares.

As die Argentynse span hou by die begin-vyftiental wat die Reds die afgelope naweek met 43-27 geklop het, sal Rodrigo Bruni as Augustus se regstreekse teenstander opdraf.

Bruni het al vier toetse vir Argentinië gespeel, insluitende verlede jaar s’n in die Wêreldbeker-toernooi teen die VSA. By die Jaguares die afgelope naweek het Bruni die voordeel gehad om in ’n lostrio saam met die veterane Marcos Kremer en Tomas Lezana te speel.

“Dit gaan voorlangs taai wees, want die meeste van die Jaguares is toetsspelers,” sê Augustus.

Dis ongelooflik om langs Pieter-Steph du Toit te speel.
Juarno Augustus

“Ek dink ons kan ’n punt bewys deur hulle te oorheers, want ons het ook ’n groot pak voorspelers. Ek glo ons kan dié uitdaging oorbrug.”

Die 22-jarige Augustus se selfvertroue spruit deels ook uit die gehalte van die Stormers se lostrio. Dit sluit in Wêreldrugby se Speler van die Jaar, Pieter-Steph du Toit.

“Dis ongelooflik om langs Pieter-Steph du Toit te speel. Om eendag vir die Bokke te speel, tel onder my doelwitte en hy is ’n puik leier,” sê Augustus.

“Pieter-Steph gee deur sy kommunikasie ook vir my die selfvertroue om die soort rugby te speel wat ek graag wil.”

Daardie selfvertroue is ’n kenmerk van die Stormers en het gewys in hul vermoë om die kastaiings uit die vuur te krap toe dit gelyk het of ’n nederlaag hul voorland op Ellispark is.

“Die ouens het in daardie laaste paar minute, toe die Leeus voorgeloop het, nooit in hulself getwyfel nie. Ons het onwrikbaar geglo dat ons dit kan doen,” sê Augustus.

Meer oor:  Juarno Augustus  |  Stormers  |  Superrugby  |  Jaguares
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.