Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers se ysters terug vir Bulle-stryd

Eben Etzebeth en JD Schickerling sal van hul beserings terugkeer om in die slotposisie verligting vir die Stormers te bring voor Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Bulle op Nuweland.

’n Foto wat die verhaal van Saterdag se Superrugby-wedstryd op Nuweland vertel – koponderstebo Stormers en ’n verheugde Brumbies-buitesenter, Tevita Kuridrani. Foto: Gallo Images

Die Stormers was voor afskop in Saterdag se nederlaag van 17-19 teen die Brumbies ook van Chris van Zyl se dienste ontneem, terwyl albei slotte in die beginspan – Cobus Wiese en Salmaan Moerat – deur die loop van die wedstryd beserings opgedoen het.

Wiese, wat reeds in die eerste helfte vervang moes word, is vir ’n skandering op sy wang gestuur, terwyl Moerat in die tweede helfte harsingskudding opgedoen het.

Robbie Fleck, afrigter van die Stormers, behoort ook weer vir Sikhumbuzo Notshe, ’n spesialis-agtsteman, tot sy beskikking te hê, terwyl die vergete senter EW Viljoen ook weer fiks is.

Saterdag se wedstryd kan straks bepalend in die Stormers se lot wees. Terwyl die nederlaag teen die Brumbies ’n groot knou was, is die Stormers slegs vier punte agter die Bulle, wat die pas in die Suid-Afrikaanse groep aangee. Hou ook in gedagte dat die Pretorianers nog in Australasië moet gaan toer.

Robbie Fleck, die Stormers se afrigter, was ondanks sy diep teleurstelling nie in sak en as nie.

“As ons wen, sal ons minstens 23 punte ligapunte hê. Met ’n sege sal ons op 24 wees en dan lê al die spanne in die groep baie naby aan mekaar,” sê hy.

“Daar is nie baie dinge wat ons verkeerd doen nie. Dis individuele foute wat ons in die steek laat. Dit kan reggestel word. Ons het die wedstryd oorheers.”

Daar is nie baie dinge wat ons verkeerd doen nie.
Robbie Fleck

Fleck is aan die een kant reg, maar aan die ander kant wek dit diep kommer dat die Stormers ondanks hul oorheersing in terme van balbesit en veldgebied omtrent net in verdedigers kon vashardloop op die aanval.

Vir die blaser, Nick Briant, was daar min ooghare ná die wedstryd, want die Brumbies moes waarskynlik ’n geelkaart of twee vir hul herhaalde oortredings gekry het.

Die deurslaggewende faktor in dié nederlaag was egter die Stormers se onkunde met die bal in die hand, nie die skeidsregter nie. Hulle was vir 66% van die wedstryd in die Brumbies se gebied en het twee keer meer besit gehad.

Om te sien hoe die Stormers konstant een keer aangee en dan net teen die naaste teenstander vashardloop, is ’n yslike frustrasie. Die spilpunt van jou aanval behoort wraggies nie jou loskopstut te wees nie.

Die besluitneming op die veld was ook uiters swak. ’n Geleentheid om laat in die wedstryd nog pale toe te skop, is van die hand gewys om die kantlyn op te soek. Dít ten spyte van die swak uitvoering wat die Stormers se spel in die Brumbies se kwartgebied gekenmerk het.

Dis seker waar dat die Stormers weer terug in die prentjie sal wees as hulle die Bulle klop, maar of die Kapenaars die kreatiwiteit het om dít te kan doen, is ’n ope vraag.

* Puntemakers: Brumbies 19 (12): Drieë: Pete Samu, Rory Arnold, Tom Banks. Doelskoppe: Christian Leiliifano (2). Stormers 17 (10): Drieë: Strafdrie, Wilco Louw. Doelskop: Josh Stander. Strafdoel: Stander.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Robbie Fleck  |  Brumbies  |  Superugby  |  Eben Etzebeth  |  Stormers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.