Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
KYK: Stormers skiet hulself in voet

In elke faset was die Stormers baas, maar al wat regtig saakmaak, is die telbord en dáár het die Brumbies Saterdag se Superrugby-wedstryd op Nuweland met 19-17 gewen.

Herschel Jantjies was Saterdag een van die Stormers se beste spelers. Foto: Getty Images

Die Australiërs moes meer as 200 duikslae uitvoer om oor die eindstreep te kom, maar het gespeel teen ’n Stormers-span wat eenvoudig nie weet wat om met die bal in die hand te doen nie.

Dat die Stormers met rustyd met 10-12 agter was, was inderdaad meer die eindproduk van hul onkunde op die aanval as enigiets wat die Brumbies goed gedoen het.

Die Kapenaars het omtrent in die besoekers se gebied kamp opgeslaan, maar van kreatiwiteit op die aanval was daar geen sprake nie. Wanneer hulle die bal by die voorspelers gehou het, was daar ook nie ’n pad deur die muur verdedigers nie.

Steven Kitshoff, die Stormers se kaptein, het telkemale skoppe pale toe van die hand gewys om met die druk op die aanval te volhard. Die Brumbies het egter sterk gestaan in die skrums, die tuisspan se dryfmale gestuit en sterk verdedig. Dalk was hulle effens gelukkig om sonder ’n geelkaart te ontsnap, maar 10 uit 10 vir hoe hulle die aanslag afgeweer het.

Die Stormers het wel in die doodsnikke van die eerste helfte ’n strafdrie gekry danksy die skrumskakel, Herschel Jantjies, wat sake in sy eie hande geneem het. Hy het ’n puik lopie van agter die oond gemaak en is net voor die doellyn met ’n hoogvat deur Toni Pulu platgetrek. Die spelers was reeds op pad kleedkamer toe om lemoene te eet, maar is teruggeroep en ná ’n lang beraadslaging het die wedstrydbeamptes uiteindelik tot die gevolgtrekking gekom dat dit ’n strafdrie en geelkaart vir Pulu moet wees.

Met daardie stukkie individuele briljantheid het Jantjies vir ’n groot flater vroeg in die wedstryd vergoed. ’n Skop waarmee hy druk uit die kwartgebied wou verlig, is deur Rory Arnold afgestorm en het vir die Brumbies hul tweede drie in die eerste 10 minute gegee. Pete Samu het vroeër in die linkerhoek afgerond nadat die Brumbies die bal deur fases gedra het.

Die enigste positief was dat die Stormers nog 70 minute sou hê om die gety te draai. Hulle het ’n wurggreep gekry, maar het bittermin idees met die bal in die hand gehad.

CAPE TOWN, SOUTH AFRICA - APRIL 20: Brumbies celeb
Tevita Kuridrani van die Brumbies vier sy span se sege Saterdag oor die Stormers. Foto: Gallo Images

Die Stormers het ná rustyd hul oorheersing wat betref balbesit en veldgebied voortgesit en die bal is deur talle fases voordat die Springbok-vaskopstut Wilco Louw uiteindelik oorgebeur het. Met Josh Stander se doelskop was dit 17-12 en die Stormers in ’n baie sterk posisie.

Nie lank daarna nie het Ruhan Nel die bal in die linkerhoek agter die doellyn geplant, maar die TV-skeidsregter het beslis dat hy reeds oor die kantlyn was.

Die Brumbies het die volgende hou geplant en ná goeie kontinuïteit het die heelagter, Tom Banks, uiteindelik oor die Stormers se doellyn geloop. Met Christian Lealiifano se doelskop het die Australiërs weer die voortou geneem.

Die Stormers het terselfdertyd vir Salmaan Moerat aan ’n besering afgestaan. Sy slotmaat, Cobus Wiese, is vroeër in die eerste helfte ook af met ’n besering.

Josh Stander het ’n kans gehad om vir die Stormers weer die voortou te gee nadat die Brumbies by ’n skrum gestraf is, maar het die bal sleg getref en weer eens kon die besoekers asem skep.

Daarna het die Stormers hulself met ’n haelgeweer in die voet geskiet. Die geleentheid was weer daar om die voortou te neem met ’n skop pale toe, maar die bal is wéér kantlyn toe en die idees het weer eens ontbreek om deur die Brumbies se verdedigingslinie te kom.

’n Onbesonne oomblik deur die plaasvervanger Johan du Toit het die momentum in die Brumbies se guns laat swaai. Hy het die bal uit ’n onkantposisie gespeel en die Brumbies kon in die Stormers se gebied uitskop. Die Stormers het hul hande op die bal gekry, maar die kreatiwiteit het eenvoudig ontbreek om die Brumbies onder noemenswaardige druk te plaas.

* Puntemakers:

Brumbies 19 (12): Drieë: Pete Samu, Rory Arnold, Tom Banks. Doelskoppe: Christian Lealiifano (2).

Stormers 17 (10): Drieë: Strafdrie, Wilco Louw. Doelskop: Josh Stander. Strafdoel: Stander.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Brumbies  |  Stormers  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.