Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers skrik nie vir All Black-drieëmasjien
Gaan die Stormers die Blues se All Black-blits Rieko Ioane in toom kan hou in Saterdag se Superrugby-wedstryd op Nuweland? Foto: Getty Images

Hy het vir die All Blacks 24 drieë in net 29 toetse ingeryg, maar die Stormers skrik nie vir Rieko Ioane se insluiting op buitesenter in die Blues se span vir Saterdag se Superrugby-wedstryd op Nuweland nie.

Die rede daarvoor is dat Ioane vir Nieu-Seeland op sy gevaarlikste is as ’n vleuel, nie in die middelveld nie.

“Buitesenter is die moeilikste posisie om in te verdedig, so dalk is dit iets wat ons kan uitbuit,” het John Dobson, die Stormers se afrigter, Donderdag op die bekendmaking van sy 23-tal gesê.

Maar ja, erken Dobson, Ioane kan ’n skerp angel vir die Aucklanders op die aanval wees.

Hy is ’n speler van wêreldgehalte. Dis uiteraard vir ons ’n uitdaging gegewe hoe goed hy is. Ons almal weet hy is ’n sterk baldraer en baie fisiek.
John Dobson

“Hy is ’n speler van wêreldgehalte. Dis uiteraard vir ons ’n uitdaging gegewe hoe goed hy is. Ons almal weet hy is ’n sterk baldraer en baie fisiek.”

Dobson wys daarop dat die Stormers ruimte sal moet skep om Ioane se besluitneming op die verdediging te toets.

“Dis iets wat ons die afgelope paar weke nie goed gedoen het nie. As ons nie vir ons agterspelers geleenthede skep nie, gaan ons hom nie onder druk plaas nie,” sê hy.

Ioane het wel by ’n paar geleenthede in die verlede vir die Blues senter gespeel, maar Dobson meen nie dit sal ’n groot faktor in sy guns wees gegewe hoe dikwels hy vleuel speel nie.

“Ek wil nie soos Eddie Jones klink nie, maar die spel het verander!” sê hy.

Ioane was die afgelope drie weke buite aksie met ’n handbesering.

John Dobson

Die Blues sal intussen op hul beurt ook ’n geleentheid raaksien om die Stormers moontlik laat in die wedstryd in die vaste skrums te teiken nadat die tuisspan Kwenzo Blose, ’n groentjie, as plaasvervanger-loskopstut gekies het. Dobson het geen ander keuse gehad nie, omdat Ali Vermaak ’n seer skouer het.

“Kwenzo het ’n geweldige hoë werkverrigting en sy skrumwerk raak al hoe beter. Frans Malherbe het Dinsdag teen hom geskrum en gesê hy is ’n sterk loskop,” sê Dobson.

Die Stormers se kaarte is ook in hul agttal geskommel, met Chris van Zyl wat bo Salmaan Moerat as nr. 4-slot verkies is en Wilco Louw wat vir Malherbe as vaskopstut vervang.

“Salmaan kon die meeste van die week nie oefen nie. Hy sukkel met ’n paar klein beserings. Hy is ook een van die voorspelers wat tot nou die meeste gespeel het in die reeks. Dis ’n geval van rotasie,” sê Dobson.

Rotasie was ook die denkrigting agter die keuse van Louw.

Die spanne is:

 Stormers: Dillyn Leyds, Sergeal Petersen, Ruhan Nel, Jamie Roberts, Seabelo Senatla, Damian Willemse, Herschel Jantjies, Juarno Augustus, Pieter-Steph du Toit, Jaco Coetzee, JD Schickerling, Chris van Zyl, Wilco Louw, Scarra Ntubeni, Steven Kitshoff (k). PLAASVERVANGERS: Chad Solomon, Kwenzo Blose, Frans Malherbe, Salmaan Moerat, Cobus Wiese, Ernst van Rhyn, Godlen Masimla, Jean-Luc du Plessis.

Blues: Stephen Perofeta, Joe Marchant, Rieko Ioane, TJ Faiane, Mark Telea, Otere Black, Sam Nock, Hoskins Sotutu, Dalton Papalii, Tom Robinson, Jacob Pierce, Patrick Tuipulotu (k), Sione Mafileo, Kurt Eklund, Karl Tu’inukuafe. PLAASVERVANGERS: Luteru Tolai, Marcel Renata, Ofa Tuungafasi, Aaron Carroll, Blake Gibson, Jonathan Ruru, Harry Plummer, Matt Duffie.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  John Dobson  |  Damian Willemse  |  Kaapstad  |  Nuweland  |  Afrigter  |  Rugby  |  Superrugby  |  Stormers  |  Blues
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.