Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers soek momentum voor Haaie
Jamie Roberts (links) is ’n invloedryke speler wat sy leierskap betref, maar vaar hy goed genoeg met die bal in die hand? Hy en Ruhan Nel (regs) is wel ’n skaflike senterpaar vir die Stormers.Foto: Gallo Images

Om van wen ’n gewoonte te maak tot die punt waar jy “lelik” kan speel en steeds seëvier, is ’n sielkundige plek waar rugbyspanne hulle nie aldag bevind nie.

Daarom kan baie betekenis geheg word aan wat die Stormers Saterdag teen die Blues op Nuweland vermag. Kaapse ondersteuners sal natuurlik hoop dat hulle met skouspelagtige rugby wen, maar ’n sukkelsege sal nie te versmaai wees nie.

Ná ’n paar maer jare word ’n wen immers as ’n wen beskou in dié geweste en dit kan die Stormers se vyfde een op ’n streep wees.

Die tuisspan behoort dit ook ’n vyftal aan seges te maak, want die Blues is ondanks ’n paar sterre in hul midde en verlede naweek se broekskeur-oorwinning oor die Bulle, nie die sterkste span in die kompetisie nie.

Die Stormers draf dus op met die druk van verwagtinge, wat op sigself ook ’n groot toets is.

Nóg ’n belangrike ding wat in gedagte gehou moet word, is dat hul volgende wedstryd, ná aanstaande week se loslootjie, teen die Haaie in die Suid-Afrikaanse groep is.

Nóg ’n belangrike ding wat in gedagte gehou moet word, is dat hul volgende wedstryd, ná aanstaande week se loslootjie, teen die Haaie in die Suid-Afrikaanse groep is.

Gegewe dat die Haaie reeds ’n skaflike oes ligapunte op hul toer Doer Onder versamel het, verklap die puntelys nog nie watter een van hulle en die Stormers die toonaangewende Suid-Afrikaanse span is nie.

Die Durban-stryd kan enorme gevolge binne die konteks van die SA groep hê en die Stormers kan met die oog daarop nie bekostig om nou hul wenmomentum prys te gee nie.

John Dobson, die Stormers se afrigter, kan ná Saterdag dalk ook ’n paar skuiwe aan sy span oorweeg. In die agterlyn het Damian Willemse, Jamie Roberts en Sergeal Petersen almal goeie vertonings broodnodig.

Willemse se onseker spel op losskakel is ’n wesenlike probleem en die beste oplossing daarvoor is waarskynlik vir hom om minder druk op homself te plaas om ’n spelbreker te wees.

Jean-Luc du Plessis (regs) onder druk van Jaco Coetzee by Donderdag se Stormers-oefensessie op Nuweland. Du Plessis klop hard aan die deur vir ’n plek in die Stormers se beginspan op losskakel. Foto: Gallo Images
Hy’s glo ’n speler wat vanjaar nog deur die Springbokke betrek kan word, wat dit vir Rikus Pretorius ’n frustrasie sal maak dat hy nie in die Stormers se 23-tal is nie. Foto: Gallo Images

Om bloot ’n skakel te wees deur die bal aan te gee, is ’n beter opsie as om in swaar verkeer rond te trippel en die span sodoende onder onnodige druk te plaas. Indien hy nie sy standaard lig nie, behoort Jean-Luc du Plessis ’n geleentheid te kry.

Roberts se grootste bydrae kan waarskynlik nie op die oog af gesien word nie – leierskap en dies meer – maar dit raak al hoe moeiliker om Rikus Pretorius se aanspraak op die nr. 12-trui te ignoreer.

Petersen is puik met die bal in die hand en het briljante lugvaardighede, maar ’n mens sal wil sien dat hy meer in spel betrokke raak en hom ook op die verdediging laat geld. Dobson het reeds gesê dat Leolin Zas hard aan die deur klop.

Voorlangs sal Cobus Wiese se toetrede van die plaasvervangersbank af ’n interessante verwikkeling wees. Hy kan ’n yslike troefkaart as baldraer wees wanneer hy sy wedstrydfiksheid herwin.

In ’n neutedop is daar dus baie op die spel vir die span én talle individue.

Carpe diem, Stormers.

Die spanne is:

Stormers: Dillyn Leyds, Sergeal Petersen, Ruhan Nel, Jamie Roberts, Seabelo Senatla, Damian Willemse, Herschel Jantjies, Juarno Augustus, Pieter-Steph du Toit, Jaco Coetzee, JD Schickerling, Chris van Zyl, Wilco Louw, Scarra Ntubeni, Steven Kitshoff (k). PLAASVERVANGERS: Chad Solomon, Kwenzo Blose, Frans Malherbe, Salmaan Moerat, Cobus Wiese, Ernst van Rhyn, Godlen Masimla, Jean-Luc du Plessis.

Blues: Stephen Perofeta, Joe Marchant, Rieko Ioane, TJ Faiane, Mark Telea, Otere Black, Sam Nock, Hoskins Sotutu, Dalton Papalii, Tom Robinson, Jacob Pierce, Patrick Tuipulotu (k), Sione Mafileo, Kurt Eklund, Karl Tu’inukuafe. PLAASVERVANGERS: Luteru Tolai, Marcel Renata, Ofa Tuungafasi, Aaron Carroll, Blake Gibson, Jonathan Ruru, Harry Plummer, Matt Duffie.

Skeidsregter: Jaco Peyper.

Assistent-skeidsregters: Marius van der Westhuizen en Divan Uys.

TV-skeidsregter: Joey Klaaste-Salmans.

Afskop: 15:05 (SS 1 en GDN):


Meer oor:  John Dobson  |  Jamie Roberts  |  Kaapstad  |  Nuweland  |  Blues  |  Superrugby  |  Stormers  |  Momentum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.