Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers stof hul Bok-kanonne af

John Dobson, die Stormers se afrigter, sê hy gaan sy grofgeskut in die veld stoot vir Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Hurricanes op Nuweland.

“Ons gaan die sterkste moontlike span kies. Al ons Springbokke is fiks en ons het ’n Britse en Ierse Leeu (Jamie Roberts) tot ons beskikking,” het Dobson Dinsdag by die Westelike Provinsie se Sentrum vir Uitnemendheid in Bellville gesê.

John Dobson, die Stormers se afrigter, klap Dinsdag die sweep by die Kaapse span se oefensessie in Bellville. Foto: Gallo Images

“Daar is drie dinge in ons guns: die feit dat dit die laaste jaar op Nuweland gaan wees wat baie vir die spelers beteken, die loting met baie tuiswedstryde vroeg in die toernooi en die invloed van die Springbokke.”

Sewe van die voorspelers in die Stormers se verwagte 23-tal het al die Groen en Goud gedra. Dit sluit in die Wêreldbeker-wenners Steven Kitshoff, Bongi Mbonambi, Frans Malherbe, Pieter-Steph du Toit en Siya Kolisi.

Nóg twee Bokke – Wilco Louw en Scarra Ntubeni – gaan na verwagting onderskeidelik die vaskopstut en haker op die plaasvervangersbank wees.

Dobson se enigste bron tot kommer is op slot, waar Cobus Wiese en JD Schickerling albei op die krukkelys is. Salmaan Moerat sal as nr.4-slot begin, terwyl Dobson Donderdag die sluier sal lig oor watter een van Chris van Zyl en David Meihuizen die nr.5-trui sal dra.

Van Zyl is meer ervare, maar Meihuizen toon baie belofte.

Met die x-faktor in ons agterlyn, is ons is nie bang vir ’n oop wedstryd nie, maar ons wil hulle by die skrums en met dryfmale vasvat.
John Dobson

“David het baie goed gevaar in ons Superheld-wedstryd teen die Haaie. Skotland probeer desperaat om hom te teken. Jy kry nie te veel ouens wat 2,06m lank is en só ’n hoë werkverrigting het nie,” sê Dobson.

Van die Hurricanes verwag hy ’n groot aanslag deur sterk baldraers soos Ben Lam en Ngani Laumape en by die afbreekpunte.

“Hulle gaan hard by die afbreekpunte inklim. Hulle was verlede jaar die beste span in die toernooi in daardie aspek,” sê Dobson.

“Ons wil hulle voor teiken. Met die x-faktor in ons agterlyn, is ons is nie bang vir ’n oop wedstryd nie, maar ons wil hulle by die skrums en met dryfmale vasvat.”

Jacques Nienaber, die nuwe Bok-afrigter, het soos verlede week weereens ’n draai gemaak om die Stormers te help.

“Hy het in sy jeans hier aangekom en teen die einde was hy besig om af te rig,” sê Dobson.

“Dis iets wat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie baie goed gedoen het – om die nasionale afrigters beskikbaar te stel. Daar is ’n kollektiewe aanslag om momentum te bou na die Wêreldbeker verower is.”

Meer oor:  John Dobson  |  Stormers  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.