Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers troef Reds in Moederstad

Dewaldt Duvenhage / Getty Images

Teen die einde is daar naels gekou, maar die Stormers hoef nie skaam te voel oor Saterdagaand se sege van 25-19 oor die Reds op Nuweland nie. Die grootste les wat geleer is, is dat jy jou kanse móét benut. Op ’n kol in die eerste helfte was die Kapenaars met 18-0 voor, maar hul konsentrasie het hulle op kritieke tye in die steek gelaat.

Talle geleenthede is ook nie in die laaste kwart van die wedstryd afgegrond nie en daar is groot geskrik toe Filipo Daugunu twee minute voor die einde die lengte van die veld gehardloop het om die Reds binne trefafstand te bring.

Met rustyd was die Reds bitter gelukkig om nog 15 spelers op die veld te hê. Hul vaskopstut, Taniela Tupou, het Craig Barry kliphard gelak sonder om sy arms te gebruik en Damian Willemse het gekreun van die pyn in sy ribbes nadat hy van die bal af deur die besoekers se binnesenter, Chris Feauai’aua, bygekom is.

Feauai’aua kon maklik met ’n rooikaart gestraf gewees het vir sy geniepsigheid, maar die skeidsregter, Marius van der Westhuizen, het slegs ’n strafskop toegeken.

Op die ou end het dit Willemse se ster net verder die hoogte laat inskiet. Hy het van die krytvloer af opgestaan en die bal sierlik deur die pale laat trek om aan die Stormers ’n voorsprong van 18-0 te gee.

Hy was vroeër loshande die Stormers se invloedrykste speler. Hy het die Reds behoorlik laat bontstaan wanneer hy self met die bal gehardloop het en ook uitstekende opsies uitgevoer. Sy goeie balverspreiding word boonop nou deur goeie taktiese skopwerk aangevul.

Die Stormers het ná ’n aanvanklike getjommel spiere op die aanval begin bult. ’n Onoordeelkundige skop deur die Reds is gestraf met ’n puik teenaanval waar Raymond Rhule en EW Viljoen uitstekende werk gedoen het om Dewaldt Duvenage se drie te skep.

Ná Duvenage se drie in die 15de minuut het die Stormers die wedstryd vir 20 minute totaal oorheers. Wilco Louw het oorgebeur nadat die Stormers die bal deur fases geneem het, en dit het gelyk asof hulle die Reds ’n groot drag slae sou gee.

Die Kapenaars het egter weens swak konsentrasie hul greep op die wedstryd verloor. Caleb Timu het ’n aanval deur die Reds laat in die eerste helfte afgerond nadat Jono Lance by Siya Kolisi verby geglip het.

Kort ná rustyd het Alex Mafi gaan druk nadat Justin Phillips se skop van agter die oond afgestorm was.

Skielik was ’n span wat vir lank gelyk het asof hulle nie Nuweland toe gekom het om konstruktiewe rugby te speel nie, in die wedstryd op 14-18.

Dit was die wekroep wat die Kapenaars nodig gehad het en hulle het hul klas gewys deur vir Rhule ’n pragtige drie te skep. Barry, wat vir die eerste keer in die Kapenaars se beginspan was, het in die middelveld by die lyn aangesluit en ’n perfekte grondskoppie gegee wat Rhule kon afjaag.

Ten spyte van hul oorheersing daarna, kon die Stormers nie die drieë afrond wat hul poging verdien het nie.

Dit was ’n kosbare sege vir die Stormers, maar of hulle die ware Jakob is, sal ons in die volgende drie wedstryde sien. Hulle speel agtereenvolgens weg van die huis teen die Bulle, Leeus en Haaie. 

Onthou dat Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Dilyn Leyds, Seabelo Senatla en Bongi Mbonambi ook nog by dié resep gevoeg gaan word.

Puntemakers:

Stormers 25 (18): Drieë: Dewaldt Duvenage, Wilco Louw, Raymond Rhule. Doelskoppe: Damian Willemse (2). Strafdoele: Willemse (3).

Reds 19 (7): Drieë: Caleb Timu, Alex Mafi, Filipo Daugunu. Doelskoppe: Jono Lance (2).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.