Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers verras met Kolisi op bank

Siya Kolisi, die Springbok-kaptein, bevind hom op die Stormers se plaasvervangersbank vir Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Brumbies op Nuweland.

Siya Kolisi oefen saam met die Stormers op Nuweland Donderdag. Foto: Gallo Images

Die Stormers het verlede naweek in Kolisi se afwesigheid, onder die kapteinskap van Steven Kitshoff, die Rebels teen die verwagting in met 41-24 in Melbourne geklop. Kolisi het toe, met die oog op die Bokke se Wêreldbeker-veldtog, ruskans gekry.

Ernst van Rhyn het goed vertoon in sy afwesigheid, maar daar is alom verwag dat Kolisi as die span se kaptein sou terugkeer.

Robbie Fleck, die Stormers se afrigtingspan, sê in hierdie geval is verlede week se uitblinkers beloon én Kolisi se speeltyd word bestuur.

“Siya moet met betrekking tot die Bokke se vereistes nog ’n wedstryd of twee uitsit. Ons wil ook baie graag die spelers wat só goed teen die Rebels gespeel het, beloon. Siya gaan ’n kritieke rol as plaasvervanger speel, maar ons moet hom vorentoe bestuur,” sê Fleck.

Nóg twee Springbokke – die binnesenter Damian de Allende en vaskopstut Frans Malherbe – word ook vandeesweek ’n blaaskans gegun. Dan Kriel vervang vir De Allende, terwyl Neethling Fouché in Malherbe se afwesigheid die vaskopstut op die plaasvervangersbank is.

Suid-Afrika se heersende Rugbyspeler van die Jaar, Pieter-Steph du Toit, keer terug op die flank in die plek van Kobus van Dyk, wat agtsteman toe skuif omdat Sikhumbuzo Notshe, Jaco Coetzee en Juarno Augustus buite aksie is.

“Ons wou aanvanklik vir Pieter-Steph én Siya op die plaasvervangersbank kies, maar daardie plan is weens die beserings wat ons opgedoen het van die baan. Pieter-Steph het darem nou twee weke af gehad en Siya een. Hulle lyk uitgerus,” sê Fleck.

Nóg ’n potensieel verreikende skuif, is die keuse van Josh Stander op losskakel in die plek van Jean-Luc du Plessis, wat glad nie meer in die 23-tal is nie. Damian Willemse, wat op heelagter begin, kan losskakel toe geskuif word indien Stander strategies vervang moet word of sukkel om die mas op te kom.

“Josh en Dan het in verlede jaar se Curriebeker-reeks goed gevaar as ’n kombinasie en dis die hoofrede waarom ons hulle saam gekies het. Hulle het vandeesweek as kombinasie ook goed geoefen,” sê Fleck.

Die Stormers-span is: Damian Willemse, Sergeal Petersen, Ruhan Nel, Dan Kriel, Dillyn Leyds, Josh Stander, Herschel Jantjies, Kobus van Dyk, Pieter-Steph du Toit, Ernst van Rhyn, Cobus Wiese, Salmaan Moerat, Wilco Louw, Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff (k). PLAASVERVANGERS: Scarra Ntubeni, Corné Fourie, Neethling Fouché, Johan du Toit, Siya Kolisi, Justin Phillips, JJ Engelbrecht, Seabelo Senatla.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Brumbies  |  Stormers  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.