Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers warm teen studente op

Die Stormers se Superrugby-span gaan die eerste van hul voorseisoense roes Saterdag reeds afskud wanneer hulle die keur van die Wes-Kaap se studentespelers op Floridapark in Ravensmead die stryd aansê.

John Dobson, hoofafrigter van die Stormers, sal hoop dat sy spelers se spel op peil is wanneer hul voorbereiding vir vanjaar se Superrugby-reeks Saterdag in alle erns met oefenwedstryde teen plaaslike studentespanne begin. Foto: Gallo Images

Die Stormers se vergrote groep sal in vier miniwedstryde van 20 minute elk teen die Maties, Ikeys, Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) en ’n Westelike Provinsie-vyftiental te staan kom.

Die hekke by die tuisveld van die Tygerberg-rugbyklub open reeds om 09:30, maar die Stormers se eerste blitswedstryd, teen Ikeys, sal om 13:30 wees. Dit word gevolg deur die stryd teen die Maties, die vyfmalige Varsitybeker-kampioene om 14:00.

Die spelers sal dan ’n blaaskans kry, met die Varsity-spanne wat teen mekaar te staan sal kom.

Die dag word dan laatmiddag afgesluit met die Stormers se miniwedstryde teen die KSUT en die WP-span.

John Dobson, die Stormers se nuwe hoofafrigter, glo Saterdag se sessies sal waardevolle boublokke wees in die Kapenaars se voorbereiding vir hul eerste wedstryd in vanjaar se Superreeks, ’n uitdagende tuisstryd teen die Hurricanes op 1 Februarie.

“Ons is in die gelukkige posisie dat ons oor heelwat studentespanne van gehalte in ons streek beskik, met baie van ons huidige spelers wat deur hulle strukture gekom het.

“Die studentespanne berei ook voor vir hul onderskeie Varsitybeker- en Varsityskild-veldtogte, so hul spelers sal ook wil indruk maak.

“Dit bied ons groep ook ’n fantastiese geleentheid om in die voorseisoen met die rugbygemeenskap te skakel,” sê Dobson.

Die Stormers sal as deel van dié skakeling ook om 14:00 handtekeninge uitdeel.

Dobson se span se voorbereiding vir die Superreeks sal volgende Sondag na ’n hoër rat oorskakel wanneer die Stormers op Superheld-Sondag in Johannesburg teen die Haaie te staan kom. – Sportredaksie

Meer oor:  John Dobson  |  Stormers  |  Maties  |  Superrugby  |  Ikeys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.