Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers wil Nuweland só groet
Zelt Marais, president, het Dillyn Leyds se trofee as Waardevolste Speler by die WP Rugbyunie aan hom oorhandig. Foto: Gallo Images

Die Stormers is oorgehaal om Nuweland op ’n gepaste wyse te groet in 2020 se Superrugby-reeks, sê die Kapenaars se “Waardevolste Speler”, Dillyn Leyds.

“Ons het onder mekaar gesê hoe spesiaal ons die 2020-seisoen wil maak. Nuweland het ’n baie spesiale plek in die harte van spelers wat hier gespeel het en ook dié wat nog hier is,” het Leyds vandeesweek op die WP Rugbyunie (WPRU) se prysuitdeling by die Kelvin Grove-klub in Nuweland gesê.

Ons wil mense net terugkry by Nuweland vir hierdie laaste seisoen. Ons het beeldmateriaal gekyk van die vreugdevolle atmosfeer wanneer Nuweland vol is.
Dillyn Leyds

“Om deel te wees van die groep wat in die laaste seisoen op Nuweland gaan speel, is spesiaal. Ek kan my indink dat die laaste wedstryd baie emosioneel sal wees.

“Ons wil mense net terugkry by Nuweland vir hierdie laaste seisoen. Ons het beeldmateriaal gekyk van die vreugdevolle atmosfeer wanneer Nuweland vol is. Dis wat ons wil doen – om mense te laat glimlag en te sorg dat hulle waardering vir die Stormers en WP het.”

Dillyn Leyds in aksie vir die Barbarians in November se feeswedstryd teen Wallis in Cardiff. Foto: Getty Images

Leyds, ’n gunsteling van die nuwe Stormers-afrigter, John Dobson, het vandeesweek die WPRU se prys vir Waardevolste Speler ontvang.

“Ek was nogal verbaas, want daar’s baie ander ouens wat deur die jaar goed gevaar het vir die Stormers, WP en die Springbokke. Dis baie spesiaal om hierdie prys te kry,” het hy gesê.

Die 27-jarige Leyds het soos etlike ander Bokke by die WP ook groot aanbiedinge van oorsese spanne van die hand gewys om in die Kaap te bly.

“Ek geniet myself by die Stormers en die WP. Ek geniet die bestuurspan en my spanmaats baie, so dit het die besluit maklik gemaak,” sê hy.

“Daar was oorsese geleenthede, maar ek dink nie ek het al in SA rugby bereik wat ek wil nie. Hopelik kan ek dit aanstaande jaar doen.”

Leyds droom veral daarvan om saam met sy jonger broer, Tristan, op Nuweland te kan speel.

“Dit was ook ’n faktor in my besluit om te bly. Ek wil daardie oomblik ervaar om saam met my broer op te draf,” sê hy.

Leyds verwag ook dat die euforie van die Bokke wat die Wêreldbeker-toernooi gewen het na die Stormers toe sal oorspoel.

Daar is ’n rede waarom só baie van die Bokke in Kaapstad gebly het. Dis eerstens omdat hulle die groep en die bestuurspan geniet.
Dillyn Leyds

“Van hulle het verlede week teruggekeer vir toetse en was baie bly om die ouens te sien. Daar is ’n rede waarom só baie van die Bokke in Kaapstad gebly het. Dis eerstens omdat hulle die groep en die bestuurspan geniet,” sê hy.

“Met die energie wat hulle bring, sal dit fenomenaal wees as ons die regte mengsel van hul ervaring en jeug kry.”

Meer oor:  Dillyn Leyds  |  Kaapstad  |  Superrugby  |  Heelagter  |  Stormers  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.