Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers wil soos Liverpool maak

In die mosie van vertroue in die Stormers se afrigtingspan, het Paul Zacks, uitvoerende hoof van die Westelike Provinsie Rugbyunie, verwys na die Engelse sokkerklub Liverpool se sege oor Barcelona in die Europese Kampioeneliga as ’n voorbeeld van wat moontlik is as almal in dieselfde rigting trek.

Cobus Wiese maak litte los by Donderdag se oefensessie op Nuweland. Hy sal in die plek van die beseerde JD Schickerling slot speel teen die Crusaders. Foto: Gallo Images

Liverpool was met 0-3 agter ná die eerste wedstryd in hul halfeindronde-kragmeting met die Spaanse reus, maar het alle verwagtinge oortref deur die tweede stryd tuis met 4-0 te wen.

Goeie nuus vir die Stormers se ondersteuners – onder wie daar baie Liverpool-aanhangers is – is dat die Kaapse span glo dat hy inderdaad in sy vyf oorblywende wedstryde vanjaar soos Liverpool kan maak.

Die Stormers speel Saterdag op Nuweland teen die kampioenspan, die Crusaders. Daarna moet hulle nog teen die Highlanders, Leeus, Sunwolves en Haaie speel. Die wedstryd teen die Leeus is die enigste wat nie op Nuweland gespeel gaan word nie.

“Ons kan dit doen. Daar is vyf wedstryde oor en ons het die somme gemaak en dit met die spelers bespreek. Ons speel goed genoeg om van die beste spanne in die reeks te klop,” het Robbie Fleck, die Stormers se afrigter, Donderdag in Nuweland gesê.

“Die naweek gaan ’n goeie toets wees om te sien of ons so iets kan vermag. Ons hoef nie paniekbevange te raak nie. Ons moet nou die spelers aanmoedig en die regte planne in plek te hê. Dié span kan vyf wedstryde wen, of vier uit die vyf, wat ons dalk ook in die uitspeelronde sal kry.”

Ons speel goed genoeg om van die beste spanne in die reeks te klop.
Robbie Fleck

Fleck beskryf die wedstryd teen die Crusaders as ’n Rubikon-oomblik vir die Stormers.

“ ’n Oorwinning oor die sterkste span in die reeks sal wys dat ons op die regte koers is. Die fokus is nou uitsluitlik daarop en om op ons vertonings te verbeter.”

Fleck self is seker vuisvoos van al die druk. As die WP se direksie by sy dreigement gehou het, sou hy Fleck gepos het ná die onlangse nederlaag teen die Jaguares in Buenos Aires.

Dié breier is op 27 April, twee ure voor die afskop van die wedstryd teen die Bulle, ingelig dat hy daardie kragmeting, asook die een met die Jaguares, moet gewen het om in sy pos te bly.

Die Stormers se doppie is egter nog lank nie geklink nie. Ja, hulle lê onder aan die puntelys in die Suid-Afrikaanse groep, maar is net vyf ligapunte agter die Haaie, wat voorloop. Fleck het ook die steun van sy spelers en om hom te pos, sou onproduktief wees.

Volgens Fleck het die mosie van vertroue ’n positiewe sein uitgestuur.

“Ons waardeer die direksie se steun en dit wys dat hulle glo dat ons iets kan vermag.

“Ons het Maandag met ’n glimlag begin werk en daar is ernstig aandag aan detail gegee sodat ons kan bereik wat ons wil.”

Nou moet die Stormers net nie soos Fulham maak nie ...

* Josh Stander begin Saterdag op losskakel in die plek van Jean-Luc du Plessis vir die Stormers, terwyl die Springbok-flanke Siya Kolisi en Pieter-Steph du Toit, asook die Bok-senter Damian de Allende terugkeer nadat hulle die wedstryd teen die Jaguares misgeloop het.

* Stormers: Damian Willemse, Seabelo Senatla, JJ Engelbrecht, Damian de Allende, Dillyn Leyds, Josh Stander, Herschel Jantjies, Jaco Coetzee, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (k), Cobus Wiese, Eben Etzebeth, Wilco Louw, Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Scarra Ntubeni, Corné Fourie, Frans Malherbe, Kobus van Dyk, Sikhumbuzo Notshe, Justin Phillips, Jean-Luc du Plessis, Dan Kriel.

Meer oor:  Robbie Fleck  |  Stormers  |  Crusaders  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.