Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stryd van die agttalle op Loftus

Bekoor die Noord-Suid-derby nog soos die titaniese ontmoetings van weleer, is ’n vraag wat minstens een keer ’n seisoen by Loftus Versfeld opduik.

Duane Vermeulen, kaptein en agtsteman van die Bulle, kan Saterdagaand ’n invloedryke figuur in die Noord-Suid-derby teen die Stormers wees. Foto: Gallo Images

Vra jy rugbyliefhebbers dié vraag, sal die meeste altemit sê die tweestryd het mettertyd gekwyn in die moderne era.

Jake White en Duane Vermeulen was dit vandeesweek op ’n mediakonferensie egter eens daar is steeds groter intensiteit en meer venyn wanneer die Bulle en die Stormers (of die Westelike Provinsie) mekaar pak.

Wanneer dié spanne Saterdagaand op Loftus Versfeld in die Superrugby Unlocked-reeks nader staan, kan daar boonop ’n belangrike sielkundige slag geslaan word.

Die wenspan sal in die binnebaan inskiet, met die plaaslike Super-kampioen wat oor minder as ’n maand gekroon word.

Die Bulle het verlede Saterdag teen die Haaie gewys hulle kan enige span in die kompetisie verniel.

Gaaf, die Stormers daarenteen het laasweek ’n Houdini-truuk nodig gehad om die Pumas in die Laeveld te klop.

Dit was ’n sege wat allermins welverdiend was, maar dit vertel steeds baie van ’n span se durf wat die tjoppie op dié wyse uit die vuur kon red.

Onder die ander aanspraakmakers lyk die onoorwonne Cheetahs na ’n moontlike kampioen.

Die volgende twee naweke se wegwedstryde teen die Haaie en die Stormers sal egter die Vrystaters se veldtog maak of breek.

In Durban sukkel die Haaie om ’n Covid-19-babelas af te skud, terwyl die Leeus steeds net ’n skadu is van die span wat ’n paar seisoene gelede die pas aangegee het in Suid-Afrikaanse rugby.

Terug na die stryd op Loftus.

Daar is agt spelers in die twee spanne wat verlede jaar ’n aandeel in die Springbokke se Wêreldbeker-sukses in Japan gehad het.

Troefkaart of swak skakel? Damian Willemse, losskakel van die Stormers, sal ’n bedrywige aand op Loftus Versfeld hê. Foto: Gallo Images

’n Vinnige kyk na die name op papier en dit is duidelik dit is ’n wedstryd wat voorlangs die grootste belofte inhou.

John Dobson, die Stormers-breier, het die week na Vermeulen-hulle as ’n V8-agttal verwys en White was self lekker bekkig oor die besoekers, wat na verwagting ses voorspelers op die bank wil kies.

Daar is verskeie aangename tweestryde. Vermeulen teen die man met die bynaam Trokkie, Juarno Augustus, kan ’n grote wees.

Die Bok-talisman Pieter-Steph du Toit sal eers in 2021 weer op sy pos wees en in sy afwesigheid is daar, aan albei kante, steelkant-flanke wat hom binnekort op sy tone kan hou – Ernst van Rhyn en Elrigh Louw.

In die voorry kom die Kapenaars sonder ’n ou troefkaart Pretoria toe.

Steven Kitshoff, Bongi Mbonambi en Frans Malherbe is die voorste drietal in Suid-Afrikaanse rugby, maar daar is geen Wilco Louw meer op die bank om sy gewig rond te gooi nadat Malherbe die sagmaakwerk gedoen het nie.

White sal wil sien dat die Stormers in die vaste fasette onder druk is sodat Damian Willemse op die agtervoet is.

Bulle: David Kriel, Travis Ismaiel, Stedman Gans, Cornal Hendricks, Kurt-Lee Arendse, Morné Steyn, Ivan van Zyl, Duane Vermeulen (k), Elrigh Louw, Marco van Staden, Ruan Nortjé, Jason Jenkins, Trevor Nyakane, Johan Grobbelaar, Jacques van Rooyen. PLAASVERVANGERS: Joe van Zyl, Gerhard Steenekamp, Marcel van der Merwe, Sintu Manjezi, Nizaam Carr, Embrose Papier, Chris Smith, Marco Jansen van Vuren.

Stormers: Warrick Gelant, Edwill van der Merwe, Dan du Plessis, Rikus Pretorius, Leolin Zas, Damian Willemse, Herschel Jantjies, Juarno Augustus, Ernst van Rhyn, Jaco Coetzee, JD Schickerling, Salmaan Moerat, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff (k). PLAASVERVANGERS (uit): Scarra Ntubeni, Leon Lyons, Neethling Fouché, Chris van Zyl, David Meihuizen, Marcel Theunissen, Ben-Jason Dixon, Godlen Masimla, Tim Swiel, Angelo Davids, Tristan Leyds.

Skeidsregter: AJ Jacobs

Assistent-skeidsregters: Aimee Barrett-Theron, Stuart Berry

TV-skeidsregter: Jaco Peyper

TV: 19:00 op SS Grandstand (201), SS Rugby (211) en GDN.

Meer oor:  Pretoria  |  Rugby  |  Superrugby Unlocked  |  Duane Vermeulen  |  Stormers  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.