Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Sukkel-Bulle skaar hulle agter Pote

Die Bokke Trevor Nyakane en Marco van Staden het die afgelope week ’n punt daarvan gemaak dat die Bulle se veldtog sonder ’n enkele oorwinning sover nie die afrigtingspan se skuld is nie.

Is hy die voorste losskakel in Pretoria? Manie Libbok is die eerste keer dié seisoen in die beginspan van die Bulle.Foto: Gallo Images

Daar word by die verkeerde deur aangeklop as jy die hoofafrigter, Pote Human, vir die misoes verkwalik, is hulle eens.

Human is in Bulle-kontrei onder geweldige druk en baie ondersteuners vra dat hy die deur gewys moet word by Loftus Versfeld.

Sy deugde om die Bulle se bootjie uit Superrugby se troebel waters te stuur, word toenemend uit talle oorde bevraagteken.

“Nee, ons het nie opgedaag nie (teen die Jaguares). Dit is die spelers wat op die veld gaan en ’n afrigter kan jou nie op die veld stuur om fisiek te wees nie. Jy moet self daardie besluit neem,” het Nyakane vir sy afrigter in die bres getree.

Die Bulle kry Saterdag op Loftus ’n laaste kans om die wendroogte te verbreek voor hul toer na Australasië, wanneer hulle gasheer speel vir die Highlanders.

“Ek het dit al ervaar in die verlede. Jy wil nie op die vliegtuig klim nadat jy verloor het nie. Des te meer ons wat nog glad nie kon wen nie,” het Human gesê.

Verlede seisoen het hy dikwels vertel sy span kan die kompetisie wen en die Bulle-opmars is uiteindelik in die kwarteindronde ontspoor.

Die slot Ruan Nortjé moet Saterdag die Bulle se toutjies in die lynstane trek. Foto: Gallo Images

Human is oortuig die span “kan steeds ver vorder”.

“As ons Saterdag ’n goeie vertoning lewer, kan ons dit doen.

“Ons het verlede jaar ’n goeie toer gehad en dit het die ouens nader aan mekaar gebring. Ek hoop dit gebeur weer, maar eers móét ons Saterdag wen.”

Die vraag is natuurlik: Gaan die spelers die keer besluit om “op te daag”?

In die agttal is daar groot belangstelling in die agtsteman-debutant, Muller Uys, se vertoning.

Dit is darem nie enige groentjie wat op 21 met die Bok-kolos Duane Vermeulen vergelyk word nie.

Op slot sal Ruan Nortjé en Ian Groenewald nuwe ywer bring.

Albei is manne wat nie hul lyf skaars hou nie en Nortjé neem beheer in die lynstane in Juandré Kruger se afwesigheid.

Die losskakel Manie Libbok kry nog ’n kans om te wys daar hoef nie twyfel oor sy temperament te wees nie.

Human sê hulle skuld die ondersteuners ’n grote.

“Elke keer wat jy die televisie aansit, sien jy hoe die Bulle laaste op die puntelys is. Dit is nie goed vir ons nie en dit maak seer.”

* Die 21-jarige senter Ngane Punivai, wat verlede jaar vir die Crusaders in die kompetisie diens gedoen het, maak sy debuut vir die Highlanders.

Aaron Mauger, die besoekers se afrigter, het ses veranderings aan die span aangebring wat verlede Vrydag tuis teen die Melbourne Rebels verloor het.

Vyf daarvan is in die agttal, met die All Blacks Liam Coltman en Shannon Frizell wat weer in die opdrafspan is.

Bulle: Warrick Gelant, Cornal Hendricks, Nafi Tuitavake, Johnny Kotze, Rosko Specman, Manie Libbok, Embrose Papier, Muller Uys, Josh Strauss, Marco van Staden, Ruan Nortjé, Ian Groenewald, Trevor Nyakane (k), Jaco Visagie, Lizo Gqoboka. PLAASVERVANGERS: Corniel Els, Gerhard Steenekamp, Wiehahn Herbst, Ryno Pieterse, Ruan Steenkamp, Ivan van Zyl, Morné Steyn, Divan Rossouw.

Highlanders: Michael Collins, Josh McKay, Ngane Punivai, Josh Ioane, Jona Nareki, Mitch Hunt, Aaron Smith (k), Marino Mikaele Tu’u, Dillon Hunt, Shannon Frizell, Manaaki Selby-Rickit, Jesse Parete, Siate Tokolahi, Liam Coltman, Ayden Johnstone. PLAASVERVANGERS: Ash Dixon, Daniel Lienert-Brown, Jeff Thwaites, Jack Whetton, Teariki Ben-Nicholas, Kayne Hammington, Teihorangi Walden, Tima Fainga’anuku.

Skeidsregter: AJ Jacobs.

Assistent-skeidsregters: Cwengile Jadezweni, Egon Seconds.

TV-skeidsregter: Willie Vos.

Afskop: 17:15 (SS 1 en GDN).

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae


Meer oor:  Pote Human  |  Trevor Nyakane  |  Highlanders  |  Blou Bulle  |  Superrugby  |  Superrugby-Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.