Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Swarigheid lê vir Stormers, Leeus voor

’n Witwarm Noord-Suid-stryd tussen die Bulle en Stormers op Loftus sal aanstaande jaar se Superrugby-reeks help afskop.

Volgens die amptelike bepalingslys wat Dinsdag deur Sanzaar, die beheerliggaam van die Superreeks, bekend gemaak is, is al vier Suid-Afrikaanse spanne op die eerste naweek in aksie. Die Haaie en Leeus het albei wegwedstryde oorsee – onderskeidelik teen die Sunwolves en Jaguares.

Kwagga Smith (links, Leeus) word deur Damian de Allende (Stormers) vasgevat in dié spanne se ontmoeting vroeër vanjaar op Nuweland. Die Leeus en Stormers het ongunstige lotings in aanstaande jaar se Superreeks. Foto: Gallo Images

Die Bulle en Stormers sal egter vir ’n hoogtepunt in die eerste ronde sorg met hul ontmoeting in Pretoria.

Hoewel sekere van die SA spanne beter lotings as ander het, wag daar op almal ’n steil paadjie. Daar is volgende jaar vanweë die Wêreldbeker-toernooi in Japan geen toetse in Junie nie. Gevolglik sal die Superreeks oor 21 agtereenvolgende weke beslis word.

Die formaat van die reeks bly dieselfde. Elke span speel 16 groepwedstryde met tuis- en wegwedstryde in hul eie groep en dan vier wedstryde teen spanne in elk van die ander groepe. Al die spanne het twee loslootjies. Dit kom neer op 120 ligawedstryde, wat gevolg sal word deur kwart- en halfeindrondes voor die eindstryd.

Die Haaie het straks die beste loting wat die Suid-Afrikaanse spanne betref, met ses van hul eerste nege wedstryde wat in Durban gespeel gaan word. Hulle speel net drie wedstryde op toer in Australasië, maar daardie wedstryde is taaies teen die Waratahs, Crusaders en Chiefs.

Die Bulle kan ook nie kla nie.

Vyf van hul eerste agt wedstryde is op Loftus en hulle het loslootjies ná hul vierde en agtste wedstryde. Ongelukkig beteken die tydsberekening van daardie loslootjies dat hulle agt ligawedstryde agtereenvolgens speel in die aanloop tot die uitspeelrondes.

Indien hulle die reeks wil wen, sal hulle dus 11 wedstryde agtereenvolgens moet speel.

Jesse Kriel (links, Bulle) en Lukhanyo Am (Haaie) maak kontak in die spanne se stryd op Loftus vroeër vanjaar. Die Bulle en Haaie sal heelwat tuiswedstryde in die vroeë deel van aanstaande jaar se Superreeks hê. Foto: Gallo Images

Hulle toer vir vier weke Australasië toe met wedstryde teen die Rebels, Brumbies, Blues en Highlanders.

Die Leeus en Stormers het aan die agterste speen gesuig met die loting.

Wegwedstryde teen die Jaguares en Stormers is die Leeus se voorland in hul eerste twee wedstryde. Ses van hul eerste tien wedstryde is weg van Ellispark en die teenstanders op die toer van drie weke in Australasië is die Brumbies, Chiefs en Crusaders.

Die Stormers, wat vanjaar ook ’n nagmerrie-loting in die reeks het, kan hulself ongelukkig ag om weer deur te loop. Aanstaande jaar is ses van die Kapenaars se eerste agt wedstryde weg van Nuweland, wat ’n Australasiese toer van vier weke insluit. Die enigste ligpunt is dat die Blues, Reds en Rebels onder die teenstanders op toer tel.

Die toernooi begin op Vrydag 15 Februarie en die eindstryd vind op Saterdag 6 Julie plaas.

Kliek hier vir die volledige bepalings.

SA spanne se bepalings

Bulle:

Stormers (tuis), Jaguares (weg), Leeus (weg), Haaie (tuis), loslootjie, Chiefs (tuis), Haaie (weg), Jaguares (tuis), Reds (tuis), loslootjie, Stormers (weg), Waratahs (tuis), Crusaders (tuis), Rebels (weg), Brumbies (weg), Blues (weg), Highlanders (weg), Leeus (tuis).

Speel nie teen: Sunwolves en Hurricanes.

Haaie:

Sunwolves (weg), Blues (tuis), Stormers (tuis), Bulle (weg), loslootjie, Rebels (tuis), Bulle (tuis), Leeus (weg), Jaguares (tuis), Reds (tuis), Waratahs (weg), Crusaders (weg), Chiefs (weg), loslootjie, Leeus (tuis), Hurricanes (tuis), Jaguares (weg), Stormers (weg).

Speel nie teen: Brumbies en Highlanders.

Leeus:

Jaguares (weg), Stormers (weg), Bulle (tuis), Jaguares (tuis), Rebels (tuis), Sunwolves (weg), loslootjie, Haaie (tuis), Brumbies (weg), Chiefs (weg), Crusaders (weg), loslootjie, Waratahs (tuis), Highlanders (tuis), Haaie (weg), Stormers (tuis), Hurricanes (tuis), Bullle (weg).

Speel nie teen: Reds en Blues.

Stormers:

Bulle (weg), Leeus (tuis), Haaie (weg), loslootjie, Jaguares (tuis), Hurricanes (weg), Blues (weg), Reds (weg), Rebels (weg), Brumbies (tuis), Bulle (tuis), Jaguares (weg), loslootjie, Crusaders (tuis), Highlanders (tuis), Leeus (weg), Sunwolves (tuis), Haaie tuis.

Speel nie teen: Waratahs en Chiefs.

Meer oor:  Haaie  |  Stormers  |  Leeus  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.