Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Super-titel wink vir Haaie, sê Rob

Die Haaie is ’n span met die potensiaal om die Superrugby-reeks te wen – hetsy vanjaar of volgende jaar.

Só het die Haaie se afrigter, Robert du Preez, Saterdag ná sy span se sege van 28-24 oor die Chiefs in Durban gesê.

Akker van der Merwe, die Haaie se haker, teen die Chiefs in aksie. Sy voorrymaat, die stut Thomas du Toit, is by om te help. Foto: Gallo Images

“Ons is ’n span wat groei en nog leer. Ons moet dit eenvoudig een wedstryd op ’n slag vat. Ek het dit verlede week ná die nederlaag teen die Bulle gesê – hierdie span het baie potensiaal. Dit is ’n span wat die vermoë het om die reeks te wen. Of dit nou vanjaar of volgende jaar is, dit gaan kom,” sê Du Preez.

Dié sege was die Haaie se derde in vier wedstryde teen Nieu-Seelandse teenstanders vanjaar. Du Preez skerts hy sal graag élke span in die reeks wil klop, maar dié stukkie statistiek sal sy span nietemin baie selfvertroue gee.

“Ons wil graag die Aussie-spanne ook klop, ons wil almal klop. Tog, as ons ’n geleentheid kry om na die uitspeelronde te vorder, sal (die Haaie se vertoningslys teen Kiwi’s) die ouens baie selfvertroue gee.”

Die Chiefs het sonder 20 van sy voorkeurspelers gespeel, maar Du Preez was steeds tevrede met die Haaie se vertoning.

“Dis ’n baie goeie uitslag. Ons het dit nodig gehad om ons veldtog terug op koers te kry. Dit was ’n taai stryd, hulle is baie fisiek.

“Ons het die hele week daaroor gepraat dat hulle baie fisiek gaan wees. Die ouens wat die All Blacks vervang wat huis toe gegaan het, het goed gespeel. Hulle het uiteraard iets gehad om te bewys.”

Die Haaie kon veel verder gewen het, maar talle kanse om punte aan te teken, is weer eens nie gevat nie.

“Ek is trots op die vertoning, maar daar was steeds baie geleenthede wat ons nie benut het nie. Dit is iets waaraan ons baie hard gaan moet werk.

“Ons het al baie lesse geleer vanjaar. Die goeie ding is dat ons wel geleenthede skep, ons moet net meer geduldig wees wanneer ons in die teenstanders se kwartgebied kom.”

Die vaardighede van die Haaie se voorspelers is opnuut beklemtoon. Veral in die aanloop tot die eerste drie, toe die hele voorry – Beast Mtawarira, Akker van der Merwe en Thomas du Toit – die bal soos wafferse senters hanteer het.

“Vaardighede was sedert die voorseisoen verlede jaar ’n groot fokuspunt vir ons. Die voorry het dit gewys. Die Chiefs het ook ’n goeie skrum en Beast, Thomas en Akker het ’n groot vertoning by die skrums gelewer.

“Akker was uitstaande die laaste ruk. Hy hoef net 55 of 60 minute te speel om ’n reuse-impak te hê.”

Die Haaie se volgende uitdaging is teen ’n omgekrapte Jaguares-span in Argentinië.

“Ons moet eenvoudig elke wedstryd wen. Ons gaan eers dié goeie sege geniet en dan pak ons volgende week die Jaguares. Die Jaguares is ’n internasionale span. Hulle het hul dissipline uitgesorteer en speel uitstekende rugby.”

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Superrugby  |  Haaie  |  Robert Du Preez
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.