Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Stormers slaan eerste slag teen Haaie

Die Stormers het Sondag in die FNB-stadion net buite Soweto die eerste slag in 2020 se Superrugby-seisoen geslaan toe hy die Haaie in ’n opwindende stryd op Superheld-Sondag met 21-19 geklop het.

Albei spanne het nog roes om af te skud, maar hulle het beslis daarin geslaag om te vermaak.

Die Stormers se Herschel Jantjies soek die kantlyn op in Sondag se Superheld-kragmeting tussen die Stormers en Haaie. Foto: Gallo Images

Nie een van hulle het gehuiwer om die bal lug te gee nie, al was dit om die duisende toeskouers te vermaak eerder as om al hul kaarte voor die Superrugby-reeks op die tafel te plaas.

Die Kapenaars se nuwe breier, John Dobson, sal veral tevrede wees met die vertonings van sy terugkerende Springbokke.

Die skrumskakel Herschel Jantjies het geen teken van die sogenaamde tweedeseisoensindroom gewys ná sy droombuiging in 2019 nie.

Hy was weer die alewige opportunis toe hy die Haaie kort voor en ná die omdraaislag gestraf het deur hulle aan die slaap te vang. Hy het deur ’n gaping geglip en die eerste punte van die wedstryd aangeteken.

Daarna het hy ’n bal onderskep en onaangeraak deurgenael vir sy span se tweede drie.

Steven Kitshoff het ook beïndruk, terwyl Damian Willemse seepglad op losskakel ingeskakel het.

Dieselfde kan nie van die Springbok- en Stormers-kaptein, Siya Kolisi, gesê word nie.

Hy het twee goue kanse verbrou omdat hy selfsugtig was en eerder stampkarrugby wou speel.

Hy het die haastige Sergeal Petersen langs hom gehad met ’n oop doellyn, maar het besluit om besit te behou en is platgetrek.

Hy het hom later in ’n soortgelyke situasie bevind met die spoedvrate Dillyn Leyds en Edwill van der Merwe aan sy buitekant. Kolisi het weer kontak gemaak eerder as om die bal uit te gee.

Hy het albei kere die bal verloor.

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - JANUARY 19: Makazole
Makazole Mapimpi duik oor die doellyn. Foto: Gallo Images

Aan die Haaie se kant was veral twee van sy Bok-staatmakers, Lukhanyo Am en Makazole Mapimpi, op hul stukke.

Die twee het juis kragte saamgespan vir die Haaie se eerste drie toe Am se uitstekende skoppie die hande van Mapimpi gevind wat in die hoek oorgeseil het.

Mapimpi het nog ’n keer agter die pale gaan draai en gewys dat hy beslis gaan voortbou op die peil wat hy met die Springbokke se Wêreldbeker-veldtog in Japan ten toon gestel het.

Die Haaie sal nie te veel bekommerd wees oor ’n moontlike sege wat deur vingers geglip het nie, want hulle het beslis ’n paar gifangels agterlangs wat ’n bedreiging inhou en spanne vanjaar nog swaar sal kan straf.

Puntemakers:

Stormers 21 (7): Drieë: Herschel Jantjies (2), Godlen Masimla. Doelskoppe: Damian Willemse (2), Jean-Luc du Plessis.

Haaie 19 (5): Drieë: Makazole Mapimpi (2), Marius Louw. Doelskoppe: Curwin Bosch, Boeta Chamberlain.

Meer oor:  Superheld-Sondag  |  Haaie  |  Stormers  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.